Stygende insetkoste ‘ernstige risiko’ vir voedselproduksie

Die koste van kunsmis, onkruiddoders, verpakking, diesel, elektrisiteit, arbeid en ander insetkoste neem vinnig toe en maak dit byna onmoontlik vir baie boere om voedsel volhoubaar te produseer. (Foto: Jo Raubenheimer)

Agri SA het ʼn beroep op alle rolspelers, ook die regering, gedoen om in te gryp om stygende insetkoste in die landboubedryf te help verminder.

“Die koste van kunsmis, onkruiddoders, verpakking, diesel, elektrisiteit, arbeid en ander insetkoste neem vinnig toe en maak dit byna onmoontlik vir baie boere om voedsel volhoubaar te produseer,” waarsku Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.

Volgens die bedryfsliggaam moet die produksie van bekostigbare, goedkoop en gesonde voedsel Suid-Afrika se voorste prioriteit wees.

“Dink aan die maatskaplike onrus wat sal volg indien voedsel te duur word of as ons ’n voedseltekort in die land sou ervaar. In die afwesigheid van produsente-ondersteuning, is dit uiters belangrik dat insetkoste in toom en op ’n bekostigbare vlak gehou word.

“In hierdie verband het die regering, in samewerking met alle landboubelanghebbendes, ’n kritieke rol te speel om die landbousektor winsgewend en mededingend te hou.”

Van der Rheede sê dit is belangrik om insetprodukte wat plaaslik beskikbaar is, te optimaliseer om ʼn “dreigende krisis in terme van volhoubare voedselproduksie en dus voedselsekerheid, af te weer”.

Die oplossings hiervoor is boonop plaaslik te vinde. Terwyl internasionale kunsmispryse toenemend oor die afgelope jaar gestyg het, beskik Suid-Afrika oor een van die wêreld se vernaamste produsente van fosfaat en fosforsuur, naamlik Foskor. Volgens ’n onlangse studie deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) word Suid-Afrika egter gereken as die derde duurste land in terme van kunsmiskoste wat graan- en oliesadeprodusente betref.

“In onlangse jare het Suid-Afrika toenemend afhanklik geraak van ingevoerde kunsmis weens Foskor se onvermoë om bekostigbare fosfaat aan die Suid-Afrikaanse kunsmismark te verkoop. Suid-Afrika voer tans ongeveer 80% van fosfaat vir kunsmisvervaardigers in. Dit het ’n nadelige uitwerking op kunsmispryse, wat dan aanleiding gee tot aansienlike stygings in die veranderlike produksiekoste van boere.”

Hy sê dit is welbekend dat Foskor van die beste gehalte fosfaat-hulpbronne ter wêreld het, asook die vermoë om fosfaat aan Suider-Afrika te lewer.

Bestuur- en voorraaduitdagings verhoog egter die fosfaatprys en veroorsaak vertragings. Dit word vererger deur die herhaaldelike sluiting van vervaardigingsaanlegte in Richardsbaai, wat ontwrigting in die waardeketting veroorsaak.

“Die kombinasie van prysstygings vir boere en ontwrigting in die voorraad hou tans ’n risiko in vir voedselsekerheid en het ’n vernietigende uitwerking op die winsgewendheid en volhoubaarheid van boere,” sê Van der Rheede.

Agri SA het ʼn beroep op die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die departement van handel en nywerheid gedoen om met die landboubedryf te vergader om Foskor se uitset te verbeter en te verseker dat die bedryf voordeel trek uit gereelde voorsiening en bekostigbare produkte.

“Dit is noodsaaklik aangesien verskeie groot kunsmisvervaardigers in Europa gedwing is om produksie af te skaal weens hoër gaspryse.”

Jaarlikse brandstofinflasie is sedert April vanjaar voortdurend hoër as algehele oorhoofse inflasie en volgens Statistieke SA styg voedselinflasie toenemend, met tot 4,8% in Augustus vanjaar en tot 5% in September.

Agri SA sê die potensiële verandering in brandstofpryse is kommerwekkend, met aanplantings onderweg vir die someroesseisoen.

Die Automobiel‑Assosiasie (AA) waarsku teen prystoenames van “katastrofiese afmetings” teen die einde van Oktober, met petrol wat met 99 sent per liter en diesel met R1,41 per liter styg.

“Dit is werklik kommerwekkend en sal ’n vernietigende uitwerking op die winsgewendheid van baie boerderye hê.”

Agri SA doen dus ʼn beroep op die departement om die brandstofprys dadelik te dereguleer.

Solidariteit het Woensdag dieselfde beroep op die regering gedoen en gesê die staat moet sy greep op brandstofpryse laat vaar.

Van der Rheede stem saam.

“Ons kan nie langer gyselaar gehou word deur beleid en beleidmakers wat groter regeringsbeheer oor die ekonomie en kritieke kommoditeite soos brandstof, elektrisiteit, water en gas wil uitoefen nie. Ons word hierin ondersteun deur die nasionale tesourie wat in 2019 ʼn besprekingsdokument uitgevaardig het waarin hy reeds die deregulering van die land se brandstofprys aanbeveel as een van menige maatreëls om ekonomiese groei te stimuleer en die koste van diesel te verlaag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Phillip ·

Gee maar net kaans hier kom n 2de zimbakwe n OK waainjie vol geld vir n brood

Anel ·

Wat n9g meer kommerwekkend is, is dat die boete nie eers die helfte van die geld kry van wat on vir die produkte betaal nie. Die muddelman kry die meeste. As ek direk van die boer kon koop, sou ek. Dan weet ek my geld gaan ook direk aan hom en ek kry die beste produk.

Jaco ·

Waarom verkoop boere nie direk nie? Dié wat baby aan dorpe en stede is kan dit mos doen.

Jaco ·

Ek wonder net, nadat al die “toorwoorde” in SA nou klaar ten volle gebruik is, “toorwoorde” soos regstellende aksie, BEE, radikale ekonomiese transformasie en veral onteiening sonder vergoeding, gaan die insetkoste dan wonderbaarlik daal?

Samuel ·

Hierdie voorspelde voedselonsekerheid is deel van die kommunistiese planne om SA lam te lê.

annie ·

Dit verstaan ‘n mens nou glad nie. Die GM-saad het mos niks nodig nie; nie kunsmis of gifstowwe (dis mos self gelaai), g’n reën wat nog grond om te groei lat die biesies bewe nie. Hoekom nou kla, meester?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.