Stygende kospryse is ‘katastrofies’

(Foto: Maroela Media)

StatsSA se nuus vandag dat kospryse gemiddeld met 14% oor die afgelope jaar gestyg het, moet uiteindelik president Cyril Ramaphosa en sy kabinet aanmoedig om die regte ding te doen vir die miljoene kinders en volwassenes in Suid-Afrika wat honger ly, sê John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie.

“Kosprysverhogings het ‘n absolute katastrofe vir arm huishoudings geword en veroorsaak wye, ernstige, onnodige lyding.”

Steenhuisen sê die DA het deurgaans ʼn werkbare reaksie op die lewenskostekrisis voorgestel, insluitend sy alternatiewe begroting in Februarie. Dit bestaan uit ingrypings om onmiddellike verligting te bring, gekoppel aan ekonomiese hervormings om die onderliggende oorsake van hierdie verwoestende krisis te takel.

Hy sê hy herhaal hierdie voorstelle, in die hoop dat die ANC-regering “uiteindelik die nasie se belange bo ANC-belange sal stel”.

Onmiddellike verligting

Om onmiddellike verligting van honger te bring, moet die regering die lys van BTW-vrye kosse uitbrei om noodsaaklike items soos beenhoender, beesvleis, geblikte bone, koringmeel, margarien, grondboontjiebotter, babakos, tee, koffie en soppoeier in te sluit. “Dit sal die las op die armste 50% van Suid-Afrikaners verlig, wat buitensporig geraak word deur BTW op hierdie items.”

Steenhuisen sê die regering moet ook brandstofheffings verlaag en sonkrag-belastingkrediete verhoog om verdere verligting aan huishoudelike begrotings te bring, om die hoë koste van die vervoer van kos te verminder, en om die energiekrisis wat ons ekonomie lamlê, te verlig. “Hierdie ingrypings is maklik om in te stel en is bekostigbaar indien die regering dit koppel aan behoorlike ekonomiese hervorming wat die ekonomie vir werkskepping en groei sal oopmaak, en korrupsie besnoei.”

Ekonomiese hervorming

“Miljoene werksgeleenthede sal ook in Suid-Afrika geskep word as ons dit ‘n plek maak wat belegging en skaars vaardighede aantrek, ʼn plek waar klein ondernemings maklik kan begin en groei,” voeg Steenhuisen by. “Om mense terug op hul voete te kry deur vir hulle poste te verseker, is die beste manier om weerstand teen honger op te bou.”

Hy meen een sleutelhervorming is om privaat titel aan alle grondhervormingsbegunstigdes op staatsgrond beskikbaar te maak in gemeenskaplike gebiede en mense te bemagtig om die grond produktief te gebruik.

“Die ANC-regering blyk onbewus te wees van die wrede realiteite van honger en armoede wat deur die land in die gesig gestaar word. Ministers is volkome geïsoleer van die impak van inflasie en die lewenskostekrisis, aangesien belastingbetalergeld nog steeds toegewys word om hul buitensporige leefstyle te finansier. Die ANC se versuim om ekonomiese maatreëls in te stel wat stygende koste en voortdurende kragonderbrekings takel, toon hul onverskilligheid teenoor die bevolking. Suid-Afrikaners het konkrete aksie nodig van ‘n regering wat hul behoeftes eerste stel en bereid is om die regte ding te doen.”

Selfs hoër rentekoerse voorspel

Argieffoto (Foto: USA-Reiseblogger, Pixabay)

Prof. Raymond Parsons, ekonoom by die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, sê die styging in die jaarlikse verbruikersprysinflasie (VPI) in Maart van 7,0% tot 7,1% was teenstrydig met die markverwagtinge wat voorspel het dat die VPI dalk nou ʼn beskeie daling tot ongeveer 6,7% sou toon. Voedselpryse is die grootste skuldige.

“Die inflasiekoers van 7,1% bly dus ver bo die Reserwebank se teiken van 3% tot 6%. Aangesien verskeie analiste reeds ‘n verdere styging van 25 basispunte in rentekoerse by die volgende monetêre beleidskomitee (MBK) in Mei voorspel het op grond van hulle verwagte laer inflasiekoers, is dit nou selfs waarskynliker dat die MBK dan hoër aanpassing sal maak.”

Parsons sê dit moet teen die agtergrond beskou word waarin die Reserwebank die leenkoste nou met ‘n saamgestelde 425 basispunte verhoog het sedert die rentekoersverhogingsiklus in November 2021 begin het.

“Die herfinansieringskoers is nou op sy hoogste vlak sedert 2010. In die beoordeling van die ekonomiese data wat in sy volgende vergadering in Mei beskikbaar is – en met die besluit oor nog hoër rentekoerse – sal die MBK ook rekening moet hou met die algehele vertragende effekte van vorige rentekoersverhogings. Dit neem gewoonlik 12-18 maande om ‘n volledige impak op die ekonomie te hê.”

Parsons sê hoër leenkoste is egter nie die enigste faktor wat die ekonomiese en sakevooruitsigte beïnvloed nie. “Daar is draaikolke aan beide kante, nie net aan een kant nie. Die rooi ligte flikker nou ook sterker vir SA se groeivooruitsigte. Groot kommer en onsekerheid het toegeneem oor die verdere negatiewe ekonomiese en sake-impak van Eskom se voortgesette fase 5- en 6-beurtkrag. Die nuutste intensivering van Eskom se beurtkragreëlings het die risiko verhoog dat die ekonomie nou dalk in ‘n tegniese resessie beweeg het, d.w.s. twee agtereenvolgende kwartale van negatiewe groei – dit is die saamgestelde uitkoms van hierdie en ander ontwikkelings in die onlangse verlede.”

Werkers buig agteroor

(Argieffoto: Maroela Media)

Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond Uasa, sê intussen werknemers buig reeds agteroor om kop bo water te hou sonder enige verligting in sig. “Hoe kan ons verwag dat mense kalm bly in ‘n ekonomie waar hulle altyd waarskynlik meer sal betaal terwyl beskikbare inkomste krimp?”

UASA doen ‘n beroep op die regering, belanghebbendes, munisipaliteite en besigheidseienaars om die koste van lewensonderhoud vir werkers te oorweeg. “Om verbruikers te laat betaal vir die regering se foute, gebrek aan infrastruktuuronderhoud, en korrupsie sal slegs tot ontevredenheid onder werkers en die werkloosheid lei.”

UASA moedig sy lede en ander Suid-Afrikaanse werkers aan om noukeurig huishoudelike en ander spandeerplanne te oorweeg voordat hulle hul beursies oopmaak. “Uitdagende tye lê voor en koel koppe is nodig.”

Wat van basiese inkomstetoelaag?

(Argieffoto: Unsplash)

Brett Herron, sekretaris-generaal van GOOD, sê op sy beurt ten spyte van hierdie verwoestende statistieke, blyk dit dat die staat nie bekommerd is oor die feit dat hulle nie aan hul grondwetlike verpligting voldoen om burgers te voorsien van die minimum behoeftes om te oorleef nie.

“President Cyril Ramaphosa het tydens sy Staatsrede vanjaar die geleentheid misgeloop om armoedeverligting as ʼn prioriteit te stel deur ʼn basiese inkomstetoelaag te implementeer. Daar was ook geen aankondiging van selfs die kleinste verhoging in die R350-toelaag nie. Hierdie sogenaamde maatskaplike verligting, wat tydens die pandemie ingestel is, bereik ongeveer 8 miljoen mense. Die R350-uitbetalings bly egter ver agter die amptelike broodlyn van R663 per persoon per maand.”

Herron sê dit is onaanvaarbaar dat die mees basiese maatskaplike behoeftes van die mees kwesbare lede van die samelewing nie bevredig word nie – en maak ‘n inbreuk op hul grondwetlike regte.

“Die trek vir Suid-Afrika van toenemende ongelykheid en verdiepende armoede is onvolhoubaar. Watter vlak van armoede, honger en ongelykheid moet Suid-Afrika bereik voordat ons leiers optree? Dit sal wys weer vir ons leiers om nie bloot ander pad te kyk nie, maar eerder te wys hulle is bewus van die belangrikheid van hierdie saak. Hulle kan begin met die aankondiging van planne en tydlyn vir die implementering van ‘n basiese inkomstetoelaag. GOOD het aansienlike navorsing gedoen om te bewys dat dit moontlik is, as deel van ‘n omvattende herstrukturering van ons maatskaplikesekerheidsprogram.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

TruthDealer ·

Ek sou my voorstel, pap met tamatie en uie. Dit is letterlik al manier hoe jy jouself en gesin se mae sal kan vol hou op daardie bedrag.

TruthDealer ·

Ag nee dan gee ek op. Ek moet sê ek weet nie eens wat is die prys nie, ek het n baie lastige maagseer so ek vermy tamaties en n ui gebruik ek 3 keer, net so klein bietjie op n slag. Nee dan weet ek regtig nie.

Sobymykoolkop ·

Almal verhoog net pryse sonder enige rede. Laat ek verduidelik. 8 dae terug vra ek prys vir ” 4 mm armoured cable ” . Die prys gegee is R77 per meter, vat ingesluit. Die verkoopspersoon sê hy het baie kilometers van die kabel Vandag gaan koop ek. Prys skielik vandag skielik R92 p/m. Nadat ek bohaai opskop verander die prys na R82, 50. Dis ” ou” stok maar die kwotasie net geldig vir 7 dae. Die besighede kry nie meer ” voete” nie so die prys verhoog net om op te maak vir die wat nie meer kan koop nie. Dus is al die prys verhogings kunsmatig

JvR ·

Dalk nie altyd sonder rede nie. Intussen is huur verhoog. Krag verhoog. Generator het ingegee. Ens ens ens.

annie ·

Die groeiende wêreldbevolking raak ‘n kritiese probleem. Ons bevolking groei ook met uitlanders wat hier ‘n heenkome soek. Ons kan nie eers vir ons eie bevolking voldoende voorsien nie. En dan verdwyn miljarde en die staat doen niks om die geldsuiers vas te vat nie. Hofsake duur vir ewig. Die staatskas loop leeg en elke buiteïnstansie sien welsynshulp as oplossing/werkskepper. Dis groot droom.

Suidafrikaner ·

Ek verstaan nooit hoe hulle by hulle persentasies uitkom nie.

Kyk nou die dag. ‘n Boks corn flakes kos 750g R72.

Net as klein voorbeeld. Die syfers wat hulle deurgee lyk gering. Maar kyk in die praktyk of dit ooreenstem? Ons sit met ‘n kruitvat vir grootskaalse onluste. 10 ure per dag sonder krag. Hoe kan enige gevorderde ekonomie funksioneer? Water raak al hoe meer ‘n probleem. Salaris trekkers sukkel klaa. Hoe moet die werklose en diegene met lae lone kop bo water hou?

Blikkies ·

@Suidafrikaner, stem heelhartig saam, wil net byvoeg, kyk na die verpakkings en ontwerpe daarvan vir verskillended produkte. Hoeveel geld wat gespaar kan word deur slegs die verpakking aan te pas na die gewig van die inhoud. Daardie 750g Corn Flakes boks waarvan jy praat is nie eers die helfte vol nie. Party verpakkings van bv. koffies is meer werd as die inhoud. En Ons Betaal Daarvoor. Dit is n manier om te spaar.

Nico ·

Die groot besighede maak die geld en die boere kry net R4.00 per liter vir die melk wat hulle verkoop, die besighede en super markte doen geen werk op die plase nie.

Stofdonkie ·

Net so betaal die boere ook nie die supermarkte se personeel se salarisse of diesel vir hulle kragopwekkers nie. Die saak kan maar van verskillende kante af gesien word.

Manie ·

Die boer neem al die risiko, sonder dat hy weet hoeveel hy gaan oes/produseer of wat die prys gaan wees. Insetkoste verhoog gereeld, tekort aan krag om te kan besproei en so gaan die lang lys van boere onsekerheid aan. Die middelman het wel uitgawes, maar die boer het baie meer, plus die risiko faktor wat die middelman nie het nie.

Sobymykoolkop ·

Meesal word die ” middelman” blameer. Probeer jy iets direk by die boer koop vat hy sommer die middelman se deel ook. Jammer as ek veralgemeen maar dis my ondervinding.

Martie Smartie ·

Die groothandelaars en kettingwinkel groepe is stinkryk deur uitbuiting van verbruikers. Vat brood as n vb. In n jaar gaan prys op van R13 na R19. Dis 46%. Daar is hordes items wat dieselfde pad geloop het. Skaamtelose uitbuiting. Die produksie en vervoerkostes kon beswaarlik styg met 10 tot 15%. Dis LANKAL hoogtyd dat die regering sekere kospryse beheer soos basiese voedselsoorte en handelaars dwing om dit op hul rakke te he. BTW vrystelling gaan niks help nie, dis maklik om die prys te verhoog om dit te verhaal. Die regering moet wakker skrik. Hulle smul aan die belastingkrip dat die vet van hulle afdrup maar steur hulle niks aan as verarmende verbruikers nie.

JvR ·

Daardie selfde kettingwinkels en groothandelaars moet al hoe meer betaal aan salarisse as gevolg van wetgewing. Hoe meer die uitgases, hoe hoër die pryse.

Papsak ·

Nee rerig hulle sit hulle pryse net op soos hulle wil ons kan net nie meer by hou nie dink net n bietjie verder hier is arm mense ook en pensioennarisse wat nie hier duur pryse kan betaal nie mense die Here het kos vir onslmal gegee maar julle wil ryk rask uit dit uit asb sak bietjie petrol en kos pryse

Piet 6 ·

Die prys van tamaties was so ń maand terug by my plaaslike supermark R17.00 per kg. So 3 weke terug was dieselfde tamaties op “special” vir R22.00 per kg. Die volgende week toe is die gewone prys R22.00 per kg. Verlede week toe is dit op “special” vir R30.00 per kg.

Dit is beslis nie as gevolg van styging in brandstof pryse nie. Iemand “skep” lekker en dit is beslis nie die boer nie.

Nommer 7 ·

Verlede maand Tastic Basmati rys gekoop @ R65 / 2kg. Nou is dit R85.

Blikkies ·

Hierdie land gaan erger lyk as Zimbabwe as hulle klaar is met hom, en gaan beslis nie meer lank wees nie.

Stofdonkie ·

Alle ministers moet vir so 3 maande aaneen net gewone salarisse verdien sodat hulle ook net die realiteit kan voel. So gewone salaris sal egter seker nie eers genoeg wees om hulle karpaaiement te dek nie.

JvR ·

Gewone salarisse is relatief. Laat hul probeer oorleef op retyail salaris. Of nog beter. DIe R350 pm wat hulle so hulself op die skouer klop.

Linda ·

Kos het onbekostigbaar geraak en ons bietjie geld is te min om dit te koop.

Theuns ·

Die kettingwinkels beroof publiek nes anc. Pryse op rak vs aan BOERE is 1000% wins! Eienaars behoortwat ondersoek te word want hul is anti gemeenskap net vir eie gewin. Melk word weggegooi deur boere oor lae prys wat hul kry maar melkprys bly styg op rak!? Oneerlike kettingwinkels deel van staatsvernietiging. Soort soek soort.

Daisy ·

Ons OK vra soms to sover as R46 vir 2liter melk
Gaan U-save toe en betaal R26 per 2liter

Daisy ·

Op dieselfde noot – ons OK is vrek duur met gewone kookolie – soms tot R90 vir 2 liter en R82 vir 9 rolle toiletpapier
Die Pakistanie op die hoek vra R77 vir 2liter olie en R65 vir 9 rolle toiletpapier.
Ek ek praat nie van D-lite olie nie (dit smaak vrot) en ook nie enkellaag toiletpapier nie
Mens moet net leer waar om wat te koop

Ronél ·

Daar kom ‘n tyd dat ons met geld in ons hande gaan staan en NIKS kan koop nie.

Martie Smartie ·

Heeltemal waar wat Piet se oor tamaties. Twee weke terug is mens geding om R19/kg te betaal, gister is dit R29/kg. Selfde groot kettingwinkel. 53% styging in 2 weke. Lekker ne. Wed jou oor 2 weke is dit R40/kg.

Casper ·

Meer as 340 miljoen rand dubbelbetalings aan regsfirmas onthul en mense krepeer van armoede en honger,hoe maak die regering hulle somme.Maklik,een pkus een is 11 né rampie.Daar is geen politikus in hierdie land wat armlastig lewe nie want hulle kry mos alles verniet staking oor selariise regtig onnodig.Waarteen gaan werklose mense en pensionarisse betoog.Ons bevind ons in hierdie situasie a g v onbekwame ministers en gierigheid en ‘n ruggraatlose president.

JvR ·

Dit is ook deel van die ketting reaksie op gereelde salaris verhogings. Daar word gestaak vir hoër salarisse. Dan gaan pryse op om die hoër salarisse te betaal. Dan weer staak ens ens ens

Belinda ·

alles word duurder – en salarisse bly dieselle of ‘n skamele 7% increase op jou salaris wat nie eers 1/4 van die kostes sal dek nie. TAX bly dieselle en die mense lei honger… Die SASSA wat oumense kry van R2100 per maand – hoe lewe mens op dit? Wys mens net wat dink die regering van sy mense –

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.