Stygende munisipale skuld kan watervoorsiening laat ineenstort

(Argieffoto)

Munisipaliteite landwyd skuld waterrade meer as R14,9 miljard en die DA waarsku dit kan watervoorsiening op talle plekke laat skipbreuk ly.

Die omvang van die krisis het bekend geword tydens ʼn gesamentlike vergadering van die parlementêre portefeuljekomitees vir water en sanitasie, asook samewerkende regering en tradisionele sake.

Ten spyte van ʼn interministeriële taakspan wat al in 2017 aangestel is om stygende skuld te help pak, het munisipale skuld tussen Maart en September verlede jaar met R1,7 miljard gestyg, terwyl nóg R1,8 miljard se skuld net die afgelope jaar aangegaan is.

Die taakspan het na twee jaar boonop nog nie ʼn enkele voorstel aan die kabinet gemaak nie.

“Midde in dié krisis is verbruikers se kultuur van wanbetaling aan munisipaliteite. Tot op hede word meer as R165,5 miljard aan plaaslike regerings vir nutsdienste geskuld. Skuld vir water beloop R50,2 miljard hiervan en huishoudings is vir altesaam 72% van alle skuld verantwoordelik,” het Emma Powell, die DA se woordvoerder oor water en sanitasie, gesê.

Die grootste redes vir wanbetaling sluit in ʼn gebrek aan betroubare rekeningstelsels, verkeerde meterlesings en foutiewe rekeninge, rekeninge wat nooit ontvang word nie, asook die ondoeltreffende implementering van kredietbeheermaatreëls.

“Verouderende infrastruktuur en ʼn gebrek aan belegging in herstelwerk en instandhouding vererger die krisis. Hoewel Kaapstad die laagste koers vir lekplekke het – nagenoeg 16% – wys ʼn statusverslag wat die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) aan die komitees voorgelê het dat die gemiddelde verlies aan water landwyd op 38% staan,” het Powell gesê.

“Weens die skuldkrisis is die departement van waterwese nie in staat om waterinfrastruktuur te onderhou en te rehabiliteer nie. Hy kan ook nie broodnodige waterinfrastruktuur na droogtegeteisterde dele van die land uitbrei nie.”

Powell het gesê daar is ooglopende teenstrydighede tussen die inligting wat Salga, die departement van samewerkende regering, die departement van water, asook die tesourie verskaf het.

LP’s is nie toegelaat om enige vrae te vra nie. Komiteevoorsitter Faith Muthambi het boonop voorgestel dat die vergadering vroeg afsluit en dat die lede later ʼn landwye studietoer onderneem – wéér op die belastingbetaler se rekening.

“Meer studietoere gaan nie ons sukkelende waterinfrastruktuur herstel nie. Ons het antwoorde en optrede nodig,” het Powell gesê.

Die DA gaan nou aan die parlement se voorsitter van komitees skryf en vra vir ʼn dringende vergadering om ʼn oplossing vir die dreigende ineenstorting van die land se waterinfrastruktuurdienste te vind.

“Die situasie kan nie toegelaat word om só voort te gaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Scalla ·

Herstel eerstens al die lek plekke waar vermorsing op grootskaal plaasvind, en los die landwye studie toer, nog geld wat vermors gaan word.

Piet ·

En so gaan die ANC se verwoesting van die land se infrastruktuur voort. En hulle wil toer deur die land om dit te besef…

Petrus Heigers ·

Hierdie is vir die ANC geen prioriteit nie ! Hulle het geen idee om dit op te los nie!
Neem die mense terug wat julle met julle korrupte/rassistiese BBEEEK-K beleid afgedank het.

MB ·

Elarduspark: vanoggend ń flou straaltjie water uit ons krane. Tans – nie ń drupppel nie. Ons betaal ons rekening getrou……

Rus-en-Vrede ·

Die sprinkaane het nou alles opgevreet. Die miere het ook niks oor nie.

Soek na ń antwoord? ·

Sonder om teveel tevra as 70 jaar plus burger van die land, kan iemand my groot groot ASB sê wat was of is daar wat die regering nie op gedons het nie? en nog steeds elkedag nuwe gemors opdis?

JohanR ·

Nie lank nou nie dan sit ons sonder water, sonder krag, sonder riool verwerking, sonder goeie, of enige mediese hulp ens . En wie sal ons bedank? Nee nie Boland Band, nie arme Jan van Riebeeck nie….. maar die ANC!!! En al dit in 30 jaar of minder!!

Marie ·

En ons wat gereeld betaal, sal alweer daaronder ly…. seker ook weer apartheid se skuld

Marie ·

Miskien MOET hul maar die land se naam verander, want dit word nou net ń skande.

Peet ·

Soek na ‘n antwoord – “have Faith – anything is possible in the greasy hsnds of Cde Faith.

Karlahari ·

Apartheid het al die groot water voorsienings stelsels in die land beplan en gebou. Insluitende beplanning en begroting vir Lesotho stelsel.
Nou kan ons oor gewig regering stelsel dit nie eens in stand hou met buitelandse hulp nie…..

Ruiklont ·

Nog ‘n bietjie reis, lekker duur hotelle en restaurante en ja nog bietjie praat en nog praat soos die afgelope 25 jaar en steeds word weinig gedoen behalwe geld te verkwansel. Voor daar nie mense is wat weet wat om te doen en dit kan doen in beheer is nie, word die land net soos die res van AFRIKA in die grond in bestuur ????

Johanna Botha ·

Almal sit sonder werk en staan nou bakhand of gaan oor na misdaad ….anc se wenresep !

Longdrop ·

Een uit elke drie mense is werkloos. Hoe gaan werkloses betaal vir water of elektrisiteit? Dienslewering het klaar ineengestort, kyk maar net na die riool in die meeste riviere! Krisisbestuur is nou die nuwe normaal!

jaco ·

skryf ten minste die skuld van ANC-beheerde munisipaliteite af. die water kom tog vanaf die ANC-beheerde Departement van Waterwese, so waarom sal die ANC nou die ANC se water wil afsny?
so n afskryfproses is ‘n administratiewe proses wat hoogstens 1 week sal duur.

SjN ·

Is die landwye studie toere wat onderneem word en geen aksieplanne wat ingestel word nie deel van die probleem nie?

Te Realisties ·

Wag dat mense begin dors word op groot skaal. Dan gaan die poppe dans.
Droogte en swak diens is ons vriend hier. Weet dit klink verkeerd. Maar kyk hoe het Kaapstad se droogte die DA geskeur.
Ek se maar….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.