Styging in kragpryse bedreig volhoubaarheid van landbou

(Argieffoto)

Die organisasie Vrystaat Landbou (VL) waarsku dat voortgesette stygings in elektrisiteitstariewe die volhoubaarheid van bekostigbare voedselproduksie in die gedrang bring.

Dr. Jack Armour, bedryfsbestuurder van VL, het die nasionale energiereguleerder (Nersa) Donderdag toegespreek oor Eskom se voorgestelde planne om die prys van krag verder te verhoog.

Volgens Armour is dit onaanvaarbaar dat verbruikers die prys moet betaal vir die swak bestuursbesluite van staatsondernemings en sogenaamde betalingsmisdadigheid deur munisipaliteite.

“Eskom se aansoek om pryse te verhoog, is ʼn poging om die verliese van vorige jare in te haal. Eskom het die beraamde vraag na energie oorskat, daarom het hy te veel geproduseer en word hy dus gekonfronteer met die finansiële gevolge,” het Armour gesê.

“In plaas daarvan om die verbruiker droog te laat bloei, moet Eskom en Nersa plaaslike regerings dwing om hul uitstaande elektrisiteitsrekeninge te betaal.”

Die organisasie sê hy is gekant teen die voorgestelde prysstygings.

Hy sê elektrisiteit is ʼn belangrike insetkostekomponent van intensiewe voedselproduksie, wat bydra tot meer as 30% van Suid-Afrika se voedselproduksie. Besproeiingsboerdery, pluimvee, varkhokke, melkerye, tonnelproduksie en intensiewe vrugte- en groenteproduksie het alles aansienlike elektrisiteitskostekomponente wat verband hou met produksie, sê VL.

Die organisasie sê boere word reeds gekonfronteer met ʼn kostestruktuur wat landbouproduktiwiteit benadeel.

VL sê as ʼn gemiddelde Vrystaatse boer byvoorbeeld een punt by sy huis het, een by sy werkershuise en een by ’n boorgatpunt vir huishouding, personeel en besproeiing, betaal hy R6 000 in vaste Eskom-koste voordat hy nog enige elektrisiteit gebruik het.

“Boere absorbeer gewoonlik insetkostestygings, wat lei tot strenger marges. Aangesien boere prysnemers is, sal hulle die stygende energiekoste absorbeer en sodoende word die volhoubare en bekostigbare voedselproduksie bedreig,” sê die organisasie.

VL sê Eskom se versuim om betroubare energievoorsiening te lewer, het verbruikersgedrag verander.

“ʼn Keerpunt is reeds bereik waardeur alternatiewe energie meer ekonomies is. Indien die elektrisiteitsopwekkingsmark dus geopen sou word, sou boere en verbruikers elektrisiteit teen laer pryse kon bekom. Dit sal die volhoubaarheid en uitbreiding van voedselproduksie in Suid-Afrika verseker.”

VL sê Nersa het gevra dat hy binne sewe dae inligting van sy lede moet verstrek rakende die gebruik, voordele en koste van alternatiewe energie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mariana ·

As hulle hul werk gedoen het was dit nie nodig om soveel verhogings te kry nie. Die publiek is voos betaal aan die wanbestuur. Maak werk om geld uit die kragdiewe te kry. Soweto alleen skuld ‘n stewige bedrag. Hou op om betalende, wetsgehoorsame burgers te laat betaal vir als.

Pieter ·

Wanneer gaan ons boere wakker skrik laat die winkel rakke leeg staan dan gaan jy ander sports sien.

Kanjynoumeer ·

Service & Administration charge @ =
Network Capacity charge @ =
Network Demand charge @ =
Ancillary service charge @ =
en dan uiteindelik kom jou…
Energy charge @ =
Dan: Total charges for billing period =
Nee, Eskom so kan dit nie aangaan nie.
Krag pryse bedreig volhoubaarheid van landbou verseker!

Dirk Mostert ·

Krag gaan nog BAIE duur raak weens die regering se beheptheid met sg. groen/hernubare krag, wat sonder staatsubsidies en koolstofbelasting nie prys-kompeterend is nie. Die ANC onderskryf mos die Parys Klimaatsverdrag. “Aardverwarming” (nou “klimaatsverandering” vir ingeval dit kouer word) berus op pseudo-wetenskaplike bedrog.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Tyd om hier ook te privatiseer. Laat elke boer sy eie krag opwek met ‘n windmeul en sonpanele. Ekstra krag kan dan aan Eskom teen ‘n billike bedrag verkoop word. Ander lande doen dit. Waarom nie SA nie?

Mad Mike die Rhodesiër ·

Op hierdie manier kan kospryse ook laag gehou word.

Danny ·

LANDBOU laat die wereld draai – letterlik. Tog is alles steeds teen landbou en landbougemeenskappe. Dit is onaanvaarbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.