Styging in minimum loon wurg groei in landbousektor

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

Agri SA gaan ʼn voorlegging aan die parlement doen wat die negatiewe uitwerking van die nasionale minimum loon op die groei en volhoubaarheid van die landbousektor demonstreer.

Volgens die organisasie sal daar verwoestende gevolge vir indiensneming in die sektor wees indien die verhoging van die minimum loon in die landbousektor met inflasie in ooreenstemming gebring word.

Terwyl die landbousektor merkwaardige veerkragtigheid getoon het in die lig van talle krisisse, veral die voortslepende uitwerking van die Covid-19-pandemie, begin die druk op die sektor wys.

Waar die sektor in 2020 met 17,8% gegroei het, het dit met slegs 7,4% in 2021 en ʼn marginale 0,9% in 2022 gegroei. Die stadiger groeitempo word weerspieël in die arbeidstatistieke wat vandeesweek deur StatsSA vrygestel is, wat ʼn kwartaaltoename van 0,8% in indiensneming in die landbousektor getoon het.

Johan Wege, voorsitter van Agri SA se sentrum van uitnemendheid oor arbeid, sê die dramatiese afname in groei van die landbousektor is die gevolg van stygende insetkoste, waarvan arbeid die belangrikste is, wat 25% van alle produksiekoste uitmaak.

“Om hierdie rede is die nasionale minimum loon ʼn geweldige las op die sektor wat die reeds verlammende eksterne druk op boere vererger. Nywerhede soos die suikerrietsektor moet reeds enorme stygings in die koste van kunsmis die hoof bied weens die Russiese inval in Oekraïne. Terselfdertyd ondervind nywerhede soos sitrus ook finansiële druk in verband met die koste van verskeping vir uitvoergoedere weens Suid-Afrika se mislukte pad-, spoor- en hawe-infrastruktuur,” sê Wege.

“Die druk op die sektor het gelei tot ʼn vinnige toename in die algehele skuldlas op boere. In 2006 het boerderyskuld op R37,7 miljard gestaan. Teen 2022 het die skuld op R205 miljard gestaan. Dit is ʼn toename van 442% oor 15 jaar.

landbou-trekker-oestyd

(Argieffoto: Jed Owen/Unsplash.com)

“Hierdie skuldlas het gestyg weens een dinamika in die sektor wat fundamenteel misverstaan is: Boere is prysnemers, met geen beheer oor pryse buite die plaashek nie. Plaaslike en internasionale kleinhandelaars bepaal die pryse en verhogings en die nasionale minimum loon vorm nie deel van hul oorwegings nie. As kleinhandelaars nie pryse verhoog namate insetkoste styg nie, word boere gedwing om daardie bykomende koste te absorbeer. Hierdie dinamika word vererger deur marktoegangsuitdagings wat lei tot ʼn groter oorskot van produkte op die plaaslike mark, wat die prys verlaag wat produsente kan verkry.”

Agri SA vra die regering om voedselsekerheid en indiensnemingsbeskerming te prioritiseer in die vasstelling van die nasionale minimum loon.

“Dit is ʼn kritieke verbintenis van die regering as die land sy voedselsekerheid wil handhaaf en noodsaaklike werksgeleenthede in ons kwynende ekonomie wil beskerm.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anel ·

Dit gaan net eenvoudig my verstand te bowe dat die regering vir ‘n privaat persoon kan sê hoeveel hy sy werkers moet betaal! Die mense werk nie vir die staat nie, so bly uit privaat mense se sake! Die land is veronderstel om ‘n demokrasie te wees, nie ‘n komunisties bestel nie!!!!! As mense nie die minimum wat die staat vasstel kan betaal nie, moet die staat vir die werkloses sorg. Werkers was oor die algemeen beter af voor minimum loon verplig is. Hulle het baie voordele gekry. Nou is mens huiwerig. Die staat dwing die privaatsektor om verhogings te gee wat buitensporig is, wat van die staatsdienswerkers? Maak eers jou eie skoon voir jy ‘n ander sin vuil trap!!!

Karoo ·

Die staat kan niks self skep nie, dit bestuur slegs belasting geld….so….ons/sorg reeds vir die werklooses.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Sterkte Agri SA, soos ek ons neo-kommunisties, sosoalisties georiënteerde regering ken, sal dit “fart against thunder” wees. Dis ñ “no-brainer” dat die mininum loon talle sektore van die land se ekonomieë striem, kniehalter en selfs lamlê, en ñ blinde kan met ñ stok aanvoel wat dit vir werkskepping beteken. Maar hulle sal 10 teen 1 voorploeter hiermee totdat iets meegee of vernietig is. Hopelik sal “sanity prevail”!

Andries ·

Ek lees di week van taxi bestuurder in Kaap. Ry 4uur soggens en begin werk. Sy ‘baas’ vereis minimum R600 per dag inkomste van hom (ni sy eie inkomste ni) Dus as hy R600 genaak het is sy eie inkomste nog nul. Geen 5 uur aaneen werk met ete breek ni. Geen 12ure aaneen Rus na werk ni want hy kan ni 4uur di middagbophou werk ni… Geen WVF of “minimum loon”. Hoekom MOET boere aan hierdie ‘vereistes’ voldoen maar nie n taxi-baas nie?

Karoo ·

Aan die ander kant van die munt, is daar ongelukkig sekere boerdery sektore waar mense vir verskye redes nie heeltemal regverdig vergoed word nie. Nes daar weer boere in arem areas is wat werklik nie die +- R4400. 00 per maand per werker het nie.

Nommer 7 ·

Daar bestaan nie so iets soos ‘n arm boer nie. Alle boere het ten minste miljoene rand se bates.

Karoo ·

Lank lank gelede, toe boerdery baie anders was, kon boere erwe op die dorp koop en huise daarop bou. Alhoewel plaas werkers relatief min verdien het, het bulle dan ‘n huis gehaad wanneer hulle aftree waarin hulle en hul famielie kon woon. Die jonger seun/s kon agter bly en dieselfde was vir hom gedoen. Vandag, is dit onmoontlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.