Substasie in Springs wat brand was ‘tikkende tydbom’

Die brand het groot skade aan die substasie aangerig en duisende inwoners sonder krag gelaat. (Foto: Ekurhuleni-metroraad)

Die Ekurhuleni-metroraad én die Gautengse premier is na verneem word herhaaldelik gewaarsku oor probleme by ʼn belangrike substasie in Springs wat Sondag groot skade in ʼn brand opgedoen het. Duisende inwoners sit steeds sonder krag en groot nywerhede in die omgewing verloor glo miljoene rande weens die kragonderbreking.

Die substasie is verlede jaar ernstig beskadig toe boewe daar ingebreek en die plek gevandaliseer het. Maroela Media het betroubaar verneem die versekeringseis om die skade – wat glo meer as R100 miljoen beloop het – te herstel, is afgekeur omdat die nodige veiligheidsmaatreëls nie tydens die inbraak gegeld het nie. Die elektriese heining én pepersproei-stelsel wat die substasie moet help beveilig, was glo onder meer afgeskakel.

Die substasie is tydens ‘n vorige inbraak erg gevandaliseer en die metroraad is glo gewaarsku dat dit groot gevaar inhou.

In Julie verlede jaar het ʼn elektrisiën in ʼn skadebepalingsverslag oor die substasie gewaarsku daar moet duidelik kennis geneem word dat dit ʼn “tydbom is wat wag om te af te gaan”. Die metroraad is in die verslag ook gewaarsku dat die substasie nie behoorlik geaard is nie en dat alle gesteelde aardgeleiding onder meer vervang moet word.

Die metroraad is gewaarsku dat niks gaan keer dat die stelsel tydens byvoorbeeld oorlading outomaties gaan afskakel nie. Dit kan beteken dat die gebou moontlik “heeltemal kan afbrand”, lui die verslag.

Gister het die substasie inderdaad in ligte laaie gestaan. Dit was glo die gevolg van oorverhitting en oorlading, maar die meganismes om die stelsel af te skakel, is ten spyte van die waarskuwings nooit herstel nie.

Talle woonbuurte en die nywerheidsgebied New Era, die tuiste van groot vervaardigers soos Kellogg’s, PFG Building Glass en Mpact Packaging, sit steeds sonder elektrisiteit.

Gert Parsons, ʼn voormalige burgemeester van Springs, het gesê daar gaan nou regsadvies ingewin word om ʼn moontlike klasaksie in te stel. Só ʼn eis kan moontlik ook in ʼn persoonlike hoedanigheid teen die betrokke ampsdraers ingestel word om hulle tot verantwoording te roep. “Ek dink hier is ʼn groot mate van pligsversuim,” het Parsons gesê.

Anita Greeff, algemene bestuurder van Oos-Gauteng se kamer van koophandel en nywerheid, sê die uitvoerende hoofde van twee groot nywerhede het die kamer sowat ʼn maand gelede gekontak en gewaarsku oor die toestand van die substasie.

Die organisasie het die probleme dadelik onder die aandag van die hoof van die energiedepartement by die metro gebring, maar geen reaksie gekry nie. Oproepe na die stadbestuurder en die burgemeester was ook onbeantwoord.

Volgens Greeff het hulle daarna die Gautengse premier, David Makhura, gevra om dringend in te gryp. Makhura se kantoor het onderneem om die situasie te ondersoek, maar die substasie het afgebrand voordat enigiets gedoen is.

Greeff sê hulle het verneem dat herstelwerk aan die substasie tot twee weke gaan duur. Die nywerheidsgebied gaan glo met die hulp van tydelike opwekkers van krag voorsien word, maar dit is onduidelik wat die situasie vir inwoners van woonbuurte gaan beteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

katerinadiekat ·

Pateties. Derdewereldse piesang republiek Pateties.

Pieter J ·

Ons is al so gewoond aan swak diens dat ons eintlik hierdie as normaal begin aanvaar.

Nie Verbaas ·

Hou die persone wat nie ag geslaan het op die waarskuwings nie persoonlike verantwoordelik. Dit is tyd dat die menere wat net by die werk is om n salaris te verdien van hul troontjies af gelig en toegesluit word.

henndrik ·

Die party in bewind moet in hulle persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word, geen belastingbetalers geld mag gebruik word nie

Vriendelike Frikkie ·

Rein gedagte, net, waar dink jy kom hulle geld vandaan?

Leon ·

Maar wat die mense nie verstaan nie, as hulle die substasie herstel dan kan hulle inkopie togte met hulle familie na Dubai doen, nuwe karre koop, groot partytjies hou nie, elke dag emmers Chicken Licken eet en mooi huise hê nie.

Leonie ·

Verbaas my gladnie. 90% van Ekurhuleni se substasies word nie in stand gehou nie. Ongelukkig is die ouens wat geweet het wat om te doen weg by die Raad en nou word als net gespoeg en geplak. Elke tweede week iets fout met een of ander stasie, maar op onnodige goed sal hulle geld mors. Die hele Ekurhuleni val uitmekaar uit…

Eragrostis ·

Is dit nie maar die herhaling van al die probleme onder die ANC bewind nie? Geen onderhoud nie, net herstel. Herstel is soveel duurder as onderhoud, maar dit verstaan hulle steeds nie, en steeds ploeter hulle so voort. Hulle bewys dit oor en oor daar hulle nie uit foute leer nie.

Dan ook nalatigheid, alles word mos half gedoen. In die werksplek word nalatigheid as ń ernstige misdryf bestempel. Laat die persoon (e) wat verantwoordelik was dat die nodige veiligheidsmaatreëls in plek moes wees sowel as dié wat bestaande probleme moes regstel waaroor daar gewaarsku is, pa staan vir die kostes. Die inwoners moet net wakker wees en oplet dat hul rekeninge nie skielik gaan verhoog nie, want die munisipaliteit gaan daardie kostes probeer verhaal vanaf die inwoners wie se skuld dit nie was nie.

Petro ·

Verby boos, Dit is ook nou nie die eerste keer dat ons area vir meer as ‘n week aaneen sonder krag sit nie. Die ergste is ek sit met ‘n 4dae oue baba by my huis ook nog dit is nag hoor. Daar is nou sommer ook water toevoer probleme. Maar betaal jou rekening 1 dag laat en jy kry ‘n finale aanmaning in jou hek. Ek het een maand op die 2de my rekening betaal by Pick n Pay omdat hulle net ‘n “service provider” is het die betaling eers op die 4de gewys. Die 3de wat die laaste betaaldag was het ek ‘n finale aanmaning in my hek gekry en die volgende maand wat daar R145 extra op my rekening vir die aanmaning. Maar as die krag af is is dit maar ook net jou probleem. Springs het ontaard in ‘n vieslike, vuil, drugs georiënteerde dorp ontaard, wens so ek kan hier weg trek.

charmaine ·

En weereens swak diens van hoe geplaastes wonder wat het van die geld geword. Maar hulle gee mos nie vir die res wat sonder krag moet sit nie, hulle wonings kry nie krag of water probleme en ook nooit loadshedding nie wat hulle is belangrik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.