Sug van verligting in drank-, toerismebedryf ná besluit oor inperking

Die Suid-Afrikaanse drankhandelsnaamvereniging (Salba) het ook die regering se besluit om nie inperkings te verskerp nie, verwelkom. (Argieffoto: pixabay)

Talle rolspelers in die toerisme- en drankbedryf slaak ʼn sug van verligting nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig het dat inperkingsmaatreëls om die verspreiding van Covid-19 te stuit, nie in hierdie stadium verskerp gaan word nie.

Die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa) het in reaksie op die besluit gesê hy is oorstelp van vreugde oor die besluit en glo ook dat mense moet leer om saam met Covid-19 te leef, en nie toe te laat dat dit die land se ekonomie, mense se inkomste en lewens ruïneer nie.

“Ons loof hom vir die standpunt. Ons Suid-Afrikaners sal wat [Ramaphosa] gesê het ter harte neem en alle middels tot ons beskikking – van inentings, tot hande was, die dra van maskers en die handhaaf van sosiale afstand – gebruik sodat ons verder op vlak 1 kan sake doen en ons ekonomie, veral die gasvryheid- en toerismebedryf, aan die gang kan hou,” sê Rosemary Anderson, nasionale voorsitter van Fedhasa.

Die aankondiging oor die Omikron-variant het wydverspreide paniek veroorsaak en die toerismebedryf opnuut ʼn gevoelige hou toegedien. Talle besprekings is reeds gekanselleer en daar is vrese dat die Desembervakansie, een van die besigste vir die plaaslike toerismebedryf, opnuut op sy knieë gedwing gaan word.

Ramaphosa het Sondagaand ʼn ernstige beroep op lande gedoen wat reisbeperkings op Suid-Afrika en sy burgers ingestel het, om dit om te keer.

Fedhasa sê hy hoop wêreldlande respekteer dié oproep en dat Suid-Afrikaners binnekort weer toegelaat word om na dié lande te reis.

Andrew Stark, besturende direkteur van Flight Centre Travel Group, deel dié mening en sê Ramaphosa se oproep val hopelik nie op dowe ore nie. “Ek is optimisties dat grense wat Vrydagoggend vir Suid-Afrikaners gesluit is, net so vinnig weer oopgestel kan word.”

Stark sê daar moet ook meer druk wees dat mense wat ingeënt is, kan reis, terwyl diegene wat teen die entstof besluit, dit nie mag doen nie. “Die regering het ʼn sterker standpunt hieroor nodig. As jy steeds vrylik by restaurante kan instap of van openbare vervoer gebruik kan maak, is daar geen aanmoediging om ingeënt te word nie.”

Hy meen ook die land kan nie verdere inperkings bekostig nie – en dat plaaslike reise minstens nog kan voortgaan.

Les O’Connor, bedryfshoof van Kulula, het Suid-Afrikaners aangemoedig om die ongelooflike toerismegeleenthede wat dikwels reg op hul voorstoep is, aan te gryp. Hy sê dit is ook ʼn manier om die plaaslike bedryf te steun en te help om werksgeleenthede te beskerm.

Suid-Afrikaners word aangemoedig om die ongelooflike toerismegeleenthede wat dikwels reg op hul voorstoep is, aan te gryp. (Foto: Maroela Media)

David Frost, hoof van die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa), het Ramaphosa se toespraak as die kragtigste tot nog bestempel. “Die feit dat hy sê dat ons nie paniekerig raak nie. Die feit dat hy ons op vlak 1 gehou het. En die feit dat hy die absolute irrasionele en verkeerde besluite deur verskeie eerstewêreldlande wat ons sonder enige wetenskaplike grondslag op rooilyste geplaas het, aan die groot klok gehang het.”

Frost sê dit is bemoedigend, maar daar moet nou daadwerklike stappe gedoen word om Suid-Afrika van die lyste te laat verwyder. Hy het gevra dat die proses deursigtig en datagedrewe is.

“Ons kan nie op die rooilys rondhang weens die giere van wispelturige politici in die eerste wêreld wat slegs eiebelang op die hart dra en nie die wetenskap op die data volg nie.”

Die Vereniging van Suider-Afrikaanse Reisagente (Asata) het die president se toespraak as bemoedigend bestempel. Asata het veral die hernieude fokus op inenting verwelkom.

“Die instel en afdwing van reisbeperkings en verbodsbepalings is nie die manier om dinge te doen nie. Suid-Afrika is nie die oorsprong van die nuwe variant nie. Ons was net vinnig en duidelik genoeg om dit te identifiseer en aan die res van die wêreld bekend te maak. Moenie ons straf vir ons sukses nie,” sê Otto de Vries, president van Asata.

Klink ʼn glasie

Die Suid-Afrikaanse drankhandelsnaamvereniging (Salba) het ook die regering se besluit om nie inperkings te verskerp nie, verwelkom.

Mense het die afgelope naweek in hul massas na drankwinkels gestroom weens toenemende vrese dat ʼn hernieude verbod op drankverkope ingestel word terwyl Covid-19-gevalle weer toeneem.

Salba sê die drank- en toerismebedryf het ʼn suksesvolle Desember nodig om tydens die stiller tye kop bo water te hou. Die bedryf het ook ʼn beroep op die regering gedoen om nie later – tydens ʼn moontlike vierde vlaag van die pandemie – weer drankbeperkings in te stel nie.

“Die ekonomiese herstel van die drank-, toerisme- en gasvryheidsbedryf is belangrik om werksgeleenthede te beskerm en die ekonomie tot vlakke voor Covid-19 te laat groei,” sê Kurt Moore, hoof van Salba.

Die bedryf het hom ook opnuut daartoe verbind om ʼn rol te speel om inenting te bevorder.

Moore sê ongeag wat ander wêreldlande besluit, het die Suid-Afrikaanse regering minstens nog beheer oor wat op tuisbodem gebeur.

Salba meen ook nog ʼn beperking op drankverkope kan die onwettige handel in alkohol, wat tydens die vorige verbodsbepalings ʼn beduidende houvas op die mark gekry het, byna onstuitbaar maak en enorme lyding en werksverliese oor die hele waardeketting tot gevolg hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

gehasie ·

SA behoort nie eers in ‘n Vlak EEN te wees nie, dit 3 jaar later. ESKOM is n pandemie nie die sg. Covid nie.

Anoniem ·

1 Jaar en 8 maande gehasie, nie 3 jaar nie, dit voel dalk so.

VaalDonkie ·

Ek neem jou nie kwalik dat dit voel of daar al 3 jaar verbygegaan het nie

Papsak ·

Ja ek stem ons moet op geen vlak wees nie ons moet normaal weg met lewens voort kan gaan en ons self oppas die anc regering en sarel kan ons nie gesond hou nie

RS ·

Mense moenie te gerus raak nie. Gee n paar dae kans. Hulle maak nog gou hul planne. Hou dop.

Annamarie ·

Talle loop lankal sonder maskers. Bestuurder van n taxi, laai twee af, nie een klim met n masker uit, want die taxi drywer het ook nie een aan nie. Why worry??

Anel ·

Ja, en? Hoeveel van hulle word siek? Natuurlike imuniteit. Sal my ook nie laat spuit nie.

Samuel ·

Mense gee lankal nie meer om vir regulasies nie. Pffffffft

Samuel ·

Julle juig voortydig. Wag tot die volgende familie vergadering!!

Ons behoort geen inperkings te hê nie. Die mense doen in elkgeval wat hulle wil. Nie nakoming van Covid reëls en regulasies is aan die orde van die dag.

Pietertjie ·

Mens kan nie op jou knieë gedwing word as jy reeds op jou knieë is nie.

Eden ·

Idiote wat nou so dankbaar is dat “oom Squirrel” hulle nie weer toegemaak het nie verdien die inperkings wat hul finansieël gaan seermaak binne die volgende twee weke. Cyril is nie jou maatjie nie maar deel van die ongure regime.

Vrijburger ·

Klink eerder vir my of die ‘rolspelers’ in die drank en toerismebedryf aan Stockhom sindroom lei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.