Suid-Afrika kan Olimpiese Spele aanbied

Argieffoto (theweek.com)

Argieffoto (theweek.com)

Die Internasionale Olimpiese Komitee is besig om sy reëls te versoepel sodat Afrikalande ook in die toekoms ‘n bod kan insit om die Olimpiese Spele aan te bied.

Volgens Thomas Bach, voorsitter van die IOK, wil die organisasie graag toesien dat die Olimpiese Spele ook op die Afrika-kontinent aangebied kan word. Hy wys daarop dat die kontinent top-sportlui oplewer wat puik in Olimpiese Speles vaar, maar die kontinent kon nog nie ‘n spele aanbied nie. Hy het pas ‘n blitsbesoek aan Suid-Afrika, Kenia en Ethiopië gebring.

Die toegewing wat die IOK wil maak, is dat verskillende stede in ‘n land, en selfs meer as een land, saam kan bie om die Spele aan te bied. Tot dusver vereis die IOK dat slegs een stad as gasheer optree, hoewel sekere items, veral sekere watersporte, al elders gehou is.

Die IOK meen geen stad in Afrika is in staat om alleen as gasheer op te tree nie. Daarteenoor het Suid-Afrika reeds die Sokker Wêreldbeker aangebied met verskillende stede wat as gasheer opgetree het.

Kaapstad, en veral Durban, het al aangedui dat hulle graag in die toekoms ‘n bod as gasheerstad wil aanbied. Regeringsverteenwoordigers het ook reeds by verskeie geleenthede aangedui dat die regering graag wil toesien dat ‘n Suid-Afrikaanse stad as gasheer optree.

Rio de Janeiro is in 2016 die gasheerstad, en Tokio in Japan in 2020. Die VSA werp reeds alles in die stryd om in 2024 as gasheer op te tree, maar sal waarskynlik nou sterk teenstand uit Afrika ontvang.
Bronne: Trouw, Reuters, Olympic.org

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa ·

Ja ‘n bod sal daar ingesit word. Hulle oë sien mos net geld. Maar die Regering is te treurig om al die huidige (en komende) gemors in die land reg te maak en dit ‘n beskaafde land te maak. As ek ‘n buitelander is sal ek beslis nie hierna toe kom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.