Suid-Afrika se topmatrikulant: ‘Harde werk is die resep tot sukses’

Madelein Dippenaar en haar ouers (Foto: Verskaf)

“Ek het dit glad nie verwag nie. Dit het so onwerklik gevoel.”

Só sê Madelein Dippenaar (18) van Paarl Gimnasium in die Wes-Kaap nadat sy Dinsdagaand by ’n spoggeleentheid in Midrand in Gauteng as die beste matrikulant in Suid-Afrika aangewys is.

Dippenaar vertel sy was geskok toe hulle haar naam as toppresteerder in die land aangekondig het. “Ek is baie gelukkig. Ek het nie verwag ek sou onder die top-10-kandidate in die land wees nie,” sê ’n baie trotse Dippenaar.

Vir Dippenaar speel haar ouers ’n groot rol in haar lewe. “My ouers is tafeldruiweboere. Hulle werk lang ure en werk baie hard. Ek het van kindsbeen af geleer dat harde werk die resep tot sukses is.”

As Dippenaar nie vasgenael agter haar boeke gesit het nie, het sy ook in ballet uitgeblink. Sy het erekleure vir ballet ontvang.

Dippenaar het Afrikaans en Engels as huistaalvakke geneem saam met wiskunde, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe en ingenieursgrafika en ‑ontwerp. Sy het ook visuele kunste en Duits as bykomende vakke in haar matriekjaar geneem en in totaal met nege vakke gespog.

Dippenaar het nege onderskeidings behaal en nie een vak onder 90% gekry nie. Sy het 99% vir Engels gekry, gevolg deur 98% vir fisiese wetenskappe, visuele kunste en ingenieursgrafika en ‑ontwerp. Sy het ook 97% vir lewensoriëntering, 96% vir wiskunde, 94% vir lewenswetenskappe en 92% vir Afrikaans huistaal behaal.

Dippenaar gaan vanjaar vir ʼn BSc-graad in molekulêre en biotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Sy wil graag in die toekoms die veld van mediese navorsing betree. “Ek is nog nie seker wat presies ek in die toekoms wil doen nie, maar ek gaan my eerste jaar gebruik om my belangstellingsveld te vind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Gesiggie ·

Well Done…. jy het die vrugte gepluk vir al jou harde werk. en jou ouers kan baie Trots wees op jou… Alle sukses op jou pad voorentoe”’

Ida Kriel ·

Baie geluk met hierdie fantastiese toekenning as SA se Top Leerder wat jou te beurt geval het. Jou sukses is aan jouself te dankie en ook die voorbeeld en ondersteuning vanaf jou ouers. Mag jou toekoms net voor spoedig wees en jy n wonderlike loopvaan he.

Wilma Venter ·

Baie geluk. Mag jou pad vorentoe met sukses besaai wees.

Maroenarina de Pusché ·

Fenominaal! Die wêreld se deure is oop vir jou poplap. Geniet die studentelewe in die studentedorp.
Tannie Maroenarina

Koos ·

Dieselfde mense wat haar nou prys, kla op ander berigte oor die lae standaarde van matriekvakke. Seker maar ‘n geval van bloed kruip waar dit nie kan loop nie.
Onthou tog net, ‘n onderskeiding in 2019 is seker maklik 15 na 20% LAER as dit aan ou SA standaarde gemeet word.
Onthou ook, al is dié kind regtig briljant slim, gaan sy VINNIG ontnugter wees wanneer die nare werklikheid van regstellende aksie inskop en sy nie studiebeurse en later werk kan kry nie, NET omdat sy nie die “regte” velkleur het nie.
Ek weet waarvan ek praat. Ek het al dié goed aan my eie bas ervaar. Uiteindelik het ek op my CV gelieg deur stil tr bly oor universiteitsgrade daarop en dus “dommer” te lyk net sodat ek darem weer kon werk kry.

André Groenewald ·

Madelein Dippenaar se prestasie bly ‘n manjifieke en uitsonderlike prestasie. In die geheel gesien is daar ‘n verbetering in die RSA se onderwysstelsel te bespeur, maar groot uitdagings le inderdaad nog voor. Ongelukkig beinvloed produkte (sg politici) van ‘n swak onderwysstelsel van die verlede die huidige stelsel negatief. En ja, dit is ‘n feit dat sg “regstellende aksie” ons land byt waar dit baie seer maak. Madelein simboliseer die hoop op ‘n beter toekoms…

Jacques ·

Ek wens mense wil tog end kry met hierdie twak. Ja, die regstellende aksie is onregverdig en verkeerd. Maar ek kan self getuig dat ek na my studies na my eerste onderhoud klaar werk gekry het. Die van my klasmaats wat gesoek het het ook werk gekry. En ek moet ook noem dat my eie suster by Rhodes universiteit ‘n volle akademiese prestasiebeurs gekry het. Ek weet nie in watter kringe jy rondbeweeg nie, Koos, maar duidelik sien ons 2 verskillende prentjies

Koos ·

Met NEGE vakke in matriek en sulke goeie punte, MOET die standaarde mos laer wees as in die ou SA.

André Groenewald ·

Geen antwoord is ook ‘n antwoord of so iets…

Pierre ·

Baie geluk. Sonder om negatief te wees moet ons darem ook erken dat harde werk sonder talente nie die resultate sou lewer nie. Wees eerstens dankbaar vir jou talente onverdiend ontvang. Dit sou ‘n skande wees as jou prestasie swakker was. Ander minder takentvolles studeer dkwels net so hard om net te kan slaag.
Vir die rekord; is ek nie jaloers nie, het ten minste my PhD verwerf.

Thelma ·

Baie baie geluk. Haar motto en die voorbeeld wat haar ouers gestel het behoort op borde op die hoofweg geplaas te word “die wenresep tot sukses is harde werk!!”, nie wag dat iets in jou skoot val nie, WERK HARD!

Maria Boshoff ·

Madelein se wortels lê in Namakwaland! Knap gedaan Madelein, jy maak lat onse harte swel van trots!!
Sterkte en baie seën voorkanttoe!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.