Suid-Afrikaanse koffie het ontwaak

Nadat die koffievruggies geoes is, word dit deur ‘n verwerkingsproses gesit om die bone uit te haal, wat dan gebrand (roast) word. (Foto: Facebook/Beaver Creek Coffee)

Suid-Afrikaners sal baie dinge opgee voor hulle koffie vaarwel toeroep, maar hoë wisselkoerse en ‘n swak presterende logistieke stelsel plaas druk op die verbruik van hierdie sosiale kleinood en steunpilaar van ‘n drankie.

Koffie word hoofsaaklik ingevoer en Maroela Media het vroeër berig dat uitdagings in die Brasiliaanse koffiebedryf en ʼn oponthoud in die vervoer van koffie daartoe bygedra het dat koffiepryse in sommige gevalle met tot 50% gestyg het.

Maroela Media het by Suid-Afrikaanse boere gaan uitvind of hulle ‘n oplossing hiervoor kan vind.

Tim en Kim Buckland het ʼn paar hektaar onder 10 000 koffiebome in Hazyview in Mpumalanga, waar die grond, hoogte bo seespieël en klimaat bydra om ʼn goeie enkel-oorsprong Arabica-koffie te produseer. Tim het 40 jaar gelede begin boer, maar om vooruitstrewend te wees, het hy besluit om die waardeketting enduit te neem.

Vandag word sy bone in ʼn mikrobrandery verwerk, gebrand, verpak, verkoop en bedien in ʼn winkel en koffiekafee in Witrivier. Hy verwerk slegs sy eie bone, alles onder die Sabie Valley Coffee-handelsmerk.

Vir Tim het die wêreldwye prysverhoging geen noemenswaardige invloed op sy onderneming nie. Inderwaarheid beskou hy dit maar net as nog ʼn korttermyn verhoging, as deel van die jarelange wisselvallige prysgrafiek van koffie. Hy sê hy het wel tydens die inperking deur ʼn taai tyd gegaan.

Sabie Valley Coffee is een van talle mikrobranderye wat op klein skaal sy nis gevind en die knoop deurgehaak het, maar hoe lyk die potensiaal vir ‘n groter, meer kommersiele bedryf?

Koffie-oestyd op Beaver Creek. (Foto: Beaver Creek Coffee)

Dylan Cumming, een van die twee eienaarbroers van Beaver Creek buite Port Edward aan die KwaZulu-Natalse Suidkus, het ʼn droom om die koffiebedryf in Suid-Afrika na nuwe hoogtes te neem.

Sy oesseisoen strek van Mei tot Augustus en hy gee werk vir 35 mense regoor sy waardeketting, van plaaswerkers tot verkopers. Sy plantasie strek oor 14 ha en hy het toegang tot nog 20 ha.

Hy verskaf koffie en koffiemasjiene aan ʼn aantal Spur-restaurante en aan kleinhandelaars soos Pick n Pay en Spar.

Hy is wel deur die prysverhoging beïnvloed omdat hy koffie invoer, maar dit het hom nie van stryk gebring nie. Omdat hy plaaslike koffie produseer en regoor Suid-Afrika versprei en selfs uitvoer na lande soos Japan, die Verenigde Koninkryk en die VSA, slaan hy inderwaarheid munt daaruit.

Hy het ook onlangs begin om saailinge te kweek wat hy aan ʼn kwekery uitgekontrakteer het.

Beaver Creek se koffiesaailinge. (Foto: Facebook/ Beaver Creek Coffee)

ʼn Gaping in die mark

Cumming glo dat hy ʼn 100% Suid-Afrikaanse koffieprodusent kan word.

“Ons het nou die vierde industriële rewolusie (waar kunsmatige intelligensie en dataverwerking die toon aangee), betree. Ons verwys derhalwe na landbou 4.0 en ek verwys na koffie 4.0.

“Ek het vyf jaar gelede begin om plaaslike koffie te bevorder toe ek gesien het dat die aanvraag die aanbod begin oorskry het. Ek het besluit om die koffiewaardeketting te herevalueer en ʼn nuwe model te skep.”

Hy het eerstens begin om ʼn geskiktheidskaart vir die potensiële koffieproduserede streke in Suid-Afrika op te stel, om die grondwerk vir die bedryf te doen.

Sy volgende plan is om ʼn superfabriek, soos hy dit noem, op te rig wat totaal en al geoutomatiseer is en die beste tegnologie beskikbaar inspan om op ʼn doeltreffende vlak, ʼn hoë-gehalte koffie te produseer.

Die persrooi vruggies is gereed om geoes te word. (Foto: Facebook/Beaver Creek Coffee)

Hy wil presisieboerderypraktyke in sy plantasies vestig deur vog- en grondmeters in te sit, om op so min as moontlik grond, so produktief as moontlik te wees. Daarmee saam gaan hy meganiese oesmasjiene inspan om weer eens so kostedoeltreffendheid as moontlik te werk.

Hy glo ook dat daar ʼn wye verskeidenheid kultivars in Suid-Afrika verbou kan word as jy die beste tegnologie en wetenskaplike beginsels implementeer. “Net soos in die wynbedryf waar jy baie verskillende kultivars en smake vind, wil ek die koffiebedryf ook in daardie rigting stuur.

Cumming sê die koffiebedryf kan ook armoede en werkloosheid bestry. Hy het ʼn konsep ontwikkel waarvolgens ʼn familie ʼn koffieplantasie van een hektaar kan besit en dit baie intensief kan bedryf. “Die koffieverwerkers koop dit dan aan en die inkomste wat daaruit verkry word, sal ongeveer dubbel die minimumloon wees, maar dit is ʼn groot kapitaaluitleg en die regering sal moet help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Karina ·

Wonderlik, dit is nou boere wat bietjie vorentoe dink. Sal graag hulle koffie wil proe. Sukses toegewens aan julle.

Rudi ·

Dit is koffiepitte, nie bone nie. Daar is geen verwantskap tussen die vruggie se pit en ‘n boontjie nie. Hierdie gebruik is maar net ‘ n navolging van gewoonlike swak Engels taalgebruik.

Sune van Heerden ·

Dagsê Rudi

Dankie vir jou terugvoer.
Ons het verskeie woordeboeke nageslaan en almal aanvaar beide “koffieboon” en “koffiepit” as sinonieme.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Ilena ·

Dit is baie goeie nuus. Die vorige artikel oor die tekort het my onrustig gestem. Hoe sal ‘n mens nou jou dag kan begin sonder ‘n koppie Boeretroos?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.