Suid-Afrikaanse swemlegende oorlede

Theodore Yach. Foto: Facebook

Die bekende langafstandswemmer Theodore Yach is onverwags in die ouderdom van 60 oorlede.

Yach, ʼn bekende Kapenaar, is volgens ʼn verklaring van die Kaapse Vereniging vir Langafstandswem (CLDSA) Woensdagmiddag oorlede terwyl hy by ʼn hospitaal roetinetoetse ondergaan het nadat hy vroeër gekla het oor ʼn asmaprobleem.

Yach het by die hospitaal inmekaargesak en is kort daarna dood verklaar. “Hy sal onthou word as ʼn nederige heer wat lief daarvoor was om jong mense te motiveer om hul drome te bereik. Hy was vir almal ʼn vriend en het ʼn ware belangstelling gehad in alle swemmers wat sy passie vir seeswem gedeel het.”

Yach het 108 keer tussen die Kaapse kuslyn en Robbeneiland geswem. Hy het in Maart 2016 die afstand vir die 100ste keer geswem. Hy het dit meer as 37 jaar terug die eerste keer aangepak.

Hy het ook al die Engelse kanaal aangedurf sowel as verskeie ander internasionale langafstand-swemuitdagings.

Yach laat sy vrou, Michelle, en twee seuns, Daniel en David, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.