Suid-Afrikaner van die jaar aangewys

sa of the year 2Die Suid-Afrikaner van die jaar, soos aangewys deur die publiek, is Donderdag deur die bekende persoonlikheid Jan Braai bekend gemaak.

Die komediant Trevor Noah het met die louere weggestap as die eerste wenner van dié gesogte titel.

Die publiek is Maandag op die sosialemediawebwerf Twitter versoek om te stem vir vier Suid-Afrikaners wat merkwaardige wêreldwye erkenning in hul onderskeie velde verwerf het.

Noah was ʼn kortkop voor die krieketspeler AB de Villiers, die atleet Wayde van Niekerk en die fietsryerspan MTN-Qhubeka.

“Die Suid-Afrikaner van die jaar is iemand wat met een enkele prestasie jou uitsonderlik trots maak om self ʼn Suid-Afrikaner te wees,” het Jan Braai verduidelik.

Jan Braai is die man agter die Nasionale Braaidag-inisiatief, en nou ook die Suid-Afrikaner van die jaar-projek.

“Ons doel is om klem te lê op uitsonderlike prestasies deur Suid-Afrika wat ons land in ʼn kort oomblik tot stilstand gebring het. Daardie spesiale oomblikke waar die harte van die nasie in eenheid saamklop.”

Trevor Noah, Suid-Afrikaner van die jaar (Grafika: Jan Braai)

Trevor Noah, Suid-Afrikaner van die jaar (Grafika: Jan Braai)

Noah, ʼn huishoudelike naam in Suid-Afrika, is genomineer ná die aankondiging in Maart dat hy Jon Stewart sal vervang as die gasheer van Comedy Central se gewilde program, The Daily Show.

De Villiers is genomineer vir sy 149 lopies teen die Wes-Indiese span in Januarie 2015, wat die vinnigste honderdtal in ʼn internasionale eendagwedstryd insluit (31 balle).

Span MTN-Qhubeka het op 18 Julie erkenning verwerf as die eerste Suid-Afrikaanse en eerste Afrika-span wat ooit aan die Tour de France-wedren deelgeneem het toe spanlid Steve Cummings die 14de been van die wedren gewen het.

Van Niekerk het in Augustus die atletiekwêreld gaande gehad toe hy ʼn goue medalje in die 400 m-wedloop by die 2015 IAAF-wêreldkampioenskap ingepalm het. Met ʼn tyd van 43.48 sekondes maak dit hom die vierde vinnigste persoon wat die 400 m kan hardloop en die vinnigste nie-Amerikaner wat dié prestasie behaal het.

Die Suid-Afrikaner van die jaar is ʼn geregistreerde handelsmerk, maar tesame met die Nasionale Braaidag-inisiatief is dit ʼn nie-winsgewende projek wat suiwer daarop fokus om Nasionale Erfenisdag as Suid-Afrika se nasionale dag van feesviering te bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Dee ·

Het self gewonder daaroor. Ek hoop die ‘Suid Afrikaner van die Jaar’ kan Afrikaans praat.

Clem ·

Hy kan nogal, nie dat ek dink hy doen graag nie, maar ek wonder hoeveel van die stemme wat hy gekry het is Afrikaans.

Justa ·

Niks teen Trevor Noah nie, maar daar is beslis iets verkeerd met die psige van Suid-Afrikaners as n komediant gekies word as Suid-Afrikaner van die jaar.

Justa ·

Mari, ek dink net daar is baie mense in ons samelewing wat n verskil in ander mense en selfs diere se lewens probeer, maak dws op n meer humaniterere vlak, wat die toekenning eerder verdien.

Clem ·

Hy kan nogal, nie dat ek dink hy doen graag nie, maar ek wonder hoeveel van die stemme wat hy gekry het is Afrikaans.

Cornelia ·

Wat is so “uitsonderlik” omtrent Trevor Noah. Ag Nee wat, Jan Braai, maar nou ja, wat kan mens verwag met hierdie gemanupileerde beslissing.
.

HEVW ·

Jan Braai los t og maar hierdie aksie. Ek weet ook nie eintlik wie die Noah is nie,Ook nie eintlik beindruk met die braaisessies nie, Ja soos gese daar is heel duidelik fout met die Afrikaner se psige. Ek het gereken dit behoort op beroeps- of akademiese vlak te wees. Of iets edel soos omgee vir ander of iemand wat op n merkwaardige wyse die teenslag van bv n plaasmoord oorwin het. Wat uit die as kon opstaan en nog voedsel kon verskaf. Die mootlikhede is legeo. Maar nee ons wil te graag met oppervlakkigheid baljaar.

Sarie ·

Kandidate wat my beindruk het was die polisieman wat sy kos gedeel het met die vrou in Kaapstad, Duvenhage wat e-tol aangevat het, Flip Buys en sy manne wat sterk staan teen onreg. Maar nouja multikulti halleluja het gewen.

Michiel ·

Ja… begin dan jul eie toekenning en kies dan wie JULLE wil. Ek sou dalk nie Trevor kies, maar hy is vreksnaaks.

anne ·

Is nogal snaaks dat hy gekies is as Suid-Afrikaner van die jaar :)

Tokkelossie ·

Waarom Trevor gekies is , gaan my vestand te bowe . Daar is soveel ander mense wat merkwaardige dinge gedoen het in hierdie land . Ek stem saam dat dit klink na manipilasie . Jan Braai is die laaste persoon wat die bekend making behoort te doen . Dit behoort by ‘n ordentlike amptelike geleentheid gedoen te word .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.