Suid-Afrikaner vertel: ‘Gestrand in Suid-Amerika weens Covid-19’

Albrecht Luijk en sy vrou, Irmarie, spook om weens die verspreiding van Covid-19 Argentinië te verlaat en terug te keer na Suid-Afrika. Saam met hulle op die lughawe in Buenos Aires is Tiaan Booysen, ‘n Suid-Afrikaner wat hulle daar ontmoet het en wat ook wag om terug te keer.

Wat ʼn avontuur van ʼn leeftyd vir twee Suid-Afrikaners in Suid-Amerika moes wees, het binne ʼn paar dae in ʼn amperse nagmerrie ontaard toe hulle weens die vinnige verspreiding van die nuwe koronavirus daar gestrand is.

Dit was só erg dat dié egpaar een aand op die stoele van ʼn lughawe moes lê en slaap omdat geen blyplek hulle wou inneem nie. Hulle sukkel boonop steeds om ʼn vlug na Suid-Afrika te haal.

Albrecht Luijk (27) en sy vrou, Irmarie (27), werk die afgelope vyf jaar in Nederland. Nadat hulle ʼn geruime tyd geld gespaar het, het hulle verlede maand op ʼn uitgebreide reis na Suid-Amerika vertrek. Hulle sou vir ʼn paar maande deur verskillende lande reis, in hostelle en rugsakherberge woon en op plase werk.

Die uitbreking en vinnige verspreiding van Covid-19 het egter ʼn stokkie voor hulle reisplanne gesteek.

Luijk sê waar hulle voorheen glad nie gesukkel het om blyplek in Argentinië te kry nie, het tientalle deure die afgelope paar dae letterlik in hul gesigte toegeklap. Dit het so erg geraak dat hulle geen ander keuse gehad het as om na Suid-Afrika te probeer terugkeer nie.

Die twee spook al bykans heel week om ʼn vlug na Johannesburg te haal. Argentinië het toenemend begin om sy grense te sluit en streng bepalings is ingestel om die verspreiding van die virus te bekamp. Dit het reeds ʼn enorme uitwerking op die land se gasvryheidsbedryf gehad – iets wat die egpaar eerstehands beleef het.

Luijk sê hulle het die Suid-Afrikaanse ambassade in Argentinië telefonies om hulp genader en amptenare daar het uit hul pad gegaan om te help. “Hulle het gevra hoe dit met ons gaan en hoe ons voel. Hulle het ons ook aangeraai om by ʼn lughawe uit te kom en ʼn vlug na Suid-Afrika te probeer haal en het ons verwys na plekke wat ons dalk kon help.

“Hulle was regtig behulpsaam en dit was lekker om net met iemand te kon praat,” het Luijk gesê.

Die Luijk-egpaar tydens hul reis deur Suid-Amerika.

Die egpaar was aanvanklik in El Boson, maar nadat hulle besef het hulle kan weens die verspreiding van die virus nie langer daar kan aanbly nie, is hulle na Bariloche om van daar ʼn vlug na Suid-Afrika te probeer haal.

In dié stad wou geen hotel, hostel of ander oorslaapplek egter huisvesting aan hulle verskaf nie – veral nie wanneer die Argentyne gesien het die egpaar het Chili kort tevore besoek nie.

“Ons het ure lank in die stad rondgedwaal. Mense tree skielik anders op as hulle sien jy is Europees, maar daar was steeds baie mense wat probeer help het. Ons het gemengde gevoelens, dis sleg om op die manier te moet weggaan,” het Luijk gesê.

“Ons is mal oor Argentinië en dit was ʼn baie goeie ervaring – totdat die virus regtig ernstig begin raak het.”

Luijk sê hulle het by die polisie om hulp aangeklop en by hotelle gepleit, maar is uit desperaatheid eindelik na die lughawe in Bariloche waar hulle op stoele geslaap het voordat hulle gistermiddag ʼn vlug na Buenos Aires gehaal het.

Laat gisteraand het hulle plek op ʼn vlug na Sao Paulo in Brasilië gekry. En dáár wag hulle sedertdien om na Suid-Afrika terug te keer. Hulle hoop om vanaand op ʼn vlug na Johannesburg te vertrek, maar dit is ook moontlik dat dit eers môre gaan gebeur.

Luijk sê hulle verwag om ná hul terugkeer aan Suid-Afrika in kwarantyn geplaas te word, maar hulle beoog om daarna verder in Suid-Afrika te reis.

Nóú wag hulle eers om – hopelik binnekort – die OR Tambo-lughawe se liggies te sien naderkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.