Suid-Afrikaners geldelik kniediep in die knyp – opname

(Foto: Maroela Media)

ʼn Nuwe opname deur die skuldberadingsmaatskappy Debt Rescue het bevind tot 85% van Suid-Afrikaners het weens die Covid-19-pandemie hulp nodig – óf finansieel, óf emosioneel óf albei.

Die studie het ook bevind tot 96% van mense is in hierdie stadium gespanne oor hul gesondheid, finansies of albei. Meer as ʼn duisend mense het vroeër vandeesmaand aanlyn aan die peiling deelgeneem.

“Ons weet nou al ʼn geruime tyd dinge gaan sleg, maar die uitslag van die opname het my heeltemal onkant betrap. Dit het duidelik en onomwonde gewys dat bykans die hele bevolking van die land in diep moeilikheid is en geen benul het waar hulle hulp gaan kry nie,” het Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, gesê.

Roets sê een van die kommerwekkendste bevindings was die feit dat net 26% van respondente aangedui het dat hulle suksesvol vir ʼn betaalvakansie aansoek gedoen het en dat 51% van mense geen spaargeld het om op terug te val nie.

“Altesaam 85% van verbruikers wat aan die opname deelgeneem en aangedui het dat hulle finansies direk deur Covid-19 geraak word, dui daarop dat die meeste van ons in dieselfde bootjie is.

“Ons het ʼn beduidende toename waargeneem in die getal navrae van mense wat skuldberading wil ondergaan,” het Roets gesê.

Volgens die opname kon net 11% van mense, nadat hulle ʼn betaalvakansie geneem het, weer soos gewoonlik hul paaiemente hervat. Roets sê dit dui op ʼn groot probleem met hierdie gebruik.

Die rentekoersverlaging wat die Reserwebank verlede week aangekondig het, is goeie nuus vir skuldbelaaide verbruikers, veral diegene wat huislenings terugbetaal. Roets sê egter dié besparings kan opgevreet word deur die verwagte petrolprysverhoging.

Nóg bevindings:

  • 26% van mense het suksesvol vir betaalvakansies aansoek gedoen
  • 45% van respondente is deur afleggings, tydelike afleggings of salarisverlagings geraak
  • 30% het geen benul hoe die pandemie hul salarisse gaan raak nie
  • 16% kan terugval op bestaande kredietfasiliteite
  • 51% het geen spaargeld om hulle deur te sien nie
  • 36% moes op spaargeld staatmaak om al hul verpligtinge na te kom
  • 74% van mense volg nuusgebeure
  • 16% van respondente meen nuusgebeure is besig om hulle te oorweldig
  • 23% van respondente is nog nie terug by die werk nie en weet ook nie wanneer hulle sal kan terugkeer nie.

Roets sê dit is uiters belangrik dat Suid-Afrika se werksmag weer aan die gang kom.

“Ons het groot begrip dat sommige kwessies buite die regering se beheer is, maar dit is steeds belangrik dat mense terugkeer werk toe.”

Kenners waarsku dat verbruikers daadwerklik stappe gaan moet doen om hul geldsake en skuld onder beheer te kry. (Foto: Maroela Media)

Roets waarsku ook dat die kombinasie van ʼn verwagte multimiljardrandse belastingtekort en die gevolge van die Covid-19-pandemie moeilikheid voorspel vir die staat se vermoë om die samelewing staande te hou en as ʼn tikkende tydbom beskou moet word wat wydverspreide maatskaplike onrus kan veroorsaak.

“Die werkloosheidskoers kan tot 50% styg. Dit beteken ʼn kleiner belastingpoel en minder inkomste vir die regering om aan ontwikkelings- en maatskaplike programme soos onderwys, gesondheid en maatskaplike toelae te bestee,” het Roets gesê.

Hy sê daar is groot begrip dat sosiale afstande gehandhaaf moet word om lewens te red, maar dat die feit dat verbruikers op ʼn ramp afstuur ook nie meer verswyg kan word nie. Roets sê verbruikers moet spaar waar ook al moontlik en so gou moontlik van skuld ontslae raak.

“Daar gaan geen reddingsboeie van die regering wees nie, want sy geld is klaar. Die private sektor moet geld maak – moet dus geen reddingsboeie van hulle verwag nie.”

Hy sê dit is belangrik dat verbruikers so gou moontlik daadwerklike stappe doen om hul geldsake uit te sorteer en dat krediteure soos banke nie onbepaald geduldig gaan wees nie.

“Die eerste betaalvakansies het reeds begin verstryk en ons sien klaar dat krediteure meer aggressief begin skuld invorder. Die werklikheid gaan mense swaar tref,” het Roets gesê.

Roets sê bruto verbruikerskuld staan volgens StatsSA in hierdie stadium op nagenoeg R2,8 biljoen (oftewel trillion) en dit is duidelik dat ʼn wipwaentjierit vir Suid-Afrikaners voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yolandie

Vertel ons iets wat ons nog nie weet nie. Die regering in samewerking met die Covid 19 pandemie het menigte lewens reeds verwoes. En die einde is steeds nie in sig nie.

Willem

Ek is in toerisme. Die regering wil hê ek moet my werkers aanhou betaal maar ek kry geen inkomste

Frans

Dis snaaks aparthuid of jan van riebeeck of die wit mense kry nie die skuld nie

Elsa

Jip en 5miljoen moet vir amper 60miljoen sorg…

Jerry

Soos daar van die begin voorspel is gaan covid
en die anc meer mense verwoes finansieel as die siekte homself.