Suid-Afrikaners in Wuhan Vrydag terug in SA

Pres. Cyril Ramaphosa het die span wat die groep Suid-Afrikaners uit Wuhan moet terugbring, self by die lughawe gaan wegsien. Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid en Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het hom vergesel. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die spesiale vlug wat ʼn groep Suid-Afrikaners in Wuhan, China, na die land moet terugbring, het Dinsdag om 21:00 by die Internasionale Lughawe OR Tambo in Gauteng vertrek. Hulle word Vrydag terug in die land verwag.

Pres. Cyril Ramaphosa, die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize en die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het die span gisteraand self by die lughawe weggesien.

Aan boord van die huurvlug is die vlugbemanning en altesame 15 amptenare van die departement van gesondheid en weermaglede, het Phumla Williams, regeringswoordvoerder, gesê.

Die vliegtuig land Woensdag in die Filippyne om brandstof in te neem, voorraad aan te vul en die bemanning ʼn blaaskans te gee. Daarna vlieg dit reguit na Wuhan.

Met hul aankoms in die stad sal die span saam met hul Chinese eweknieë en Suid-Afrikaanse ambassade-beamptes werk om pasiënte te toets en hul reisdokumente na te gaan.

“Die vlug sal [Donderdag] in die vroeë oggendure vertrek en land weer op 13 Maart in Suid-Afrika. Meer besonderhede oor hul aankomstyd sal later bekend gemaak word,” het Williams gesê.

Die interministeriële taakspan het intussen gesê die Suid-Afrikaners wat gerepatrieer word, sal vir ʼn tydperk van 21 dae in kwarantyn gehou word. Sou enige van die betrokkenes simptome van die nuwe koronavirus toon, sal dié tydperk verleng word.

“Ons wil dit weereens benadruk dat nie een van die Suid-Afrikaners wat terugkeer huis toe, enige simptome van Covid-19 toon nie,” het Williams gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het ook die lughawe se maatreëls wat ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te help beperk, nagegaan. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Geen besonderhede oor waar die kwarantynfasiliteit is, is bekend gemaak nie. Williams het gesê dit sal in ʼn latere stadium gedoen word.

Die regering het aanvanklik meer as 180 versoeke van Suid-Afrikaners in Wuhan gekry om terug te keer huis toe. Die stad is die episentrum van die virus wat nou reeds meer as 3 000 lewens geëis het.

Die getal Suid-Afrikaners wat wél terugkeer, het intussen gedaal, nadat sommige sedertdien aangedui het dat hulle eerder in die stad wil aanbly. Altesame 122 Suid-Afrikaners sal terugkeer.

“Ons doen ʼn beroep op Suid-Afrikaners om hul medeburgers terug te verwelkom terwyl hulle begin om hul lewe hier te herbou ná wat vir baie van hulle ʼn erg uitdagende tydperk was,” het Williams gesê.

Die getal Suid-Afrikaners by wie Covid-19 gediagnoseer is, staan tans steeds op sewe.

Ramaphosa het met sy besoek aan die lughawe ook die algemene voorbereiding en gereedheid van die bedrywige lughawe se gesondheidsmaatreëls geïnspekteer.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jaco ·

En nou begin die ware gevare, VEEL erger as ‘n virus:
Beurtkrag
Motorkapings
Plaasaanvalle
Plaasmoorde
Regstellende aksie
En en en
As ek nou in China was, het ek net daar gebly. Daars niks van die euwels van SA nie en diegene wat misdaad word swaar, selfs met die dood, gestraf. Daars wel beperkings op godsdiensvryheid, maar dis ‘n klein prys/opoffering as in ag geneem word dat AL die ander goed in die land behoorlik werk.

Vriendelike Frikkie ·

As jy in China bly het jy ‘n 96.6% kans om aan die lewe te bly AS jy die virus opdoen. Wonder wat is jou kans op oorlewing hier, selfs sonder die virus?

ameli ·

My Godsdiens kom eerste dis nie n klein prys om te betaal nie.

Prontuit ·

nou al op 7 en dan se mense moenie paniek vang nie, ons hospitale soos dit tans gaan is onbevoeg om ‘n gewone dagtake te hanteer, kyk hoe onhigienies is van die hospitale, hoe de dinges wil hulle ‘n virus hanteer???? nee wat ek sou eerder oor die water gebly het as ek julle was

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.