Suid-Afrikaners is plesierig, maar drink dalk té veel?

Argieffoto

Fuifdrinkery. As jy aan dié woord dink, dink ʼn mens gewoonlik aan studente wat kuier, maar onlangse navorsing het getoon dat al hoe meer volwassenes op ʼn gereelde basis genoeg alkohol op een slag drink dat dit as oormatig beskou kan word. ʼn Mens se liggaam kan net een eenheid alkohol per uur verwerk.

Volgens Engeland se Nasionale Gesondheidsdiens is fuifdrinkery (of binge drinking) “om baie alkohol in ʼn kort tydjie te drink, of om te drink met die doel om dronk te word”.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Suid-Afrikaners hulself, uit die lande wat die meeste drink, in die 59ste plek ingedrink vir oormatige drinkery. Dit beteken dat 60 mg meer alkohol op een slag in Suid-Afrika in die laaste 30 dae gedrink is as wat in 136 ander lande gedrink is. Die ranglys neem al 195 lande in die wêreld in ag.

Volgens die Nasionale Inkomste Dinamika-studie vir 2014 tot 2015, wat deur die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal gepubliseer is, drink een uit elke drie Suid-Afrikaners, terwyl een uit elke sewe mense erken het dat hulle oormatig drink op ʼn gemiddelde dag wat hulle alkohol gebruik het. Die studie definieer oormatige drinkery as meer as vyf standaard drankies per individu.

Van alle drinkers het 43% erken dat hulle oormatig drink. Die persentasie is verder verdeel as 48,2% mans en 32,4% vrouens wat oormatig drink. Die ouderdomsgroep tussen 25 en 34 jaar het die grootste deel beslaan.

Oormatige drinkery hou egter baie gevare in. Nie net kan dit tot gesondheidsprobleme soos hartsiekte, lewersirrose en ʼn verskeidenheid kanker lei nie, maar dit lei dikwels tot motorongelukke en geweld.

Die WGO se internasionale statusverslag oor alkohol en gesondheid van 2011 het ook getoon dat 320 000 mense tussen die ouderdomme van 15 en 29 elke jaar van alkohol-verwante oorsake sterf. Dit verteenwoordig 9% van sterftes in die ouderdomsgroep.

“Vir baie jong mense, veral studente, is die punt van drink om dronk te word, maar saam met dronkenskap kom talle gevare, soos oordeelsgebrek as dit by jou eie veiligheid kom. Alkoholvergifting kan ook dodelik wees,” sê Pamela Nkuna, die Afrika-hoof van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid by SAB.

“Dit is belangrik dat mense matigheid voor oë hou – moenie meer as een drankie per uur drink nie,” sê sy.

Hoeveel is té veel?

Argieffoto

Die getal eenhede in jou drankie hang van die grootte en volume van alkohol in die drankie af.

ʼn Glas ligte bier tel as twee eenhede, terwyl ʼn bottel lager-bier as 1,5 eenhede tel. Een appelbierdrankie tel vir 1,5 eenhede. “Mense wat minder as 68 kg wees, moet ook in ag neem dat hul liggame langer sal neem om die alkohol te verwerk. Hulle moet dus nog minder en stadiger drink,” sê Nkuna.

In Suid-Afrika mag jy nie agter die stuur van jou motor inskuif as ʼn blaastoets sou wys dat jy meer as 0,24 mg alkohol per 1 000 ml in jou liggaam het nie. Sou ʼn bloedtoets geneem word, is die limiet 0,05 g per 100 ml.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jolyt is aan die orde van die dag ·

Deesdae gaan dit rof en die drankbottels klingel en rinkel links en regs en die vonkelwynproppe skiet die lug in en die glase word al bruisend en skuimend gevul. Mens kan nie eens iemand ‘n dranke aanbied nie dan sê hulle sommer Moenie vra nie, maak net vol en sit neer. Helaas, die dae van wals en vastrap, cool aid, gemmerbier, tert en koek onder die ou wilgerboom is vir altyd verby.

Pieter Bezuidenhout ·

Ek dink dit is ń wonderlike om sulke nuus onder ons aandag te bring want daar is baie mense wie nie hierdie mates ken of weet hoe om dit te beheer nie. Dit sal goed wees om dit ń leer program te maak en so die land se mense te verreik met inligting oor die probleem. Neem voorbeeld, die K53, sit so ń paar bykomende blaaie agter in die boek en sit hiedie leering in van drank met ń behoorlike verduideliking hoe en wat dit kan veroorsaak. Net so bietjie byvrae sal nie skade doen aan die leerling nie.

Francois le Cochon ·

@Swannie, iemand wat drank verbruik is nie noodwendog ‘n dronkgat nie.

Matigheid voor oë bly belangrik ·

Goeie idee Pieter Bezuidenhout, matigheid voor oë is en bly altyd belangrik.

In die ou dae het mense boegoe brandewyn en mampoer uitsluitlik gedrink vir medisinale doeleindes soos algemene kranklikheid, ‘n naarkol op die maag, lighoofdigheid en rumatiek. Vandag drink sommige mense dit vir plesier en jolyt en matigheid voor oë is uit by die venster uit. Selfs sommige vrouens drink dat hulle rooi lippe so smak en klap van die voggies. Mense ken deesdae nie meer hulle perke nie dan is daar maklik ‘n skandaal in die familie en sommer hoofnuus op Maroela, fotos en al. Hou dus eerder by die aanbevole hoeveelhede soos in die berig staan.

Liza ·

Ja nee, 59ste is nie te sleg nie… wonder watter land is nommer 1?

A-nee-a ·

Ek kan gladnie verstaan hoekom rugby en drank bymekaar gesit word nie…..of is dit die enigste manier waarop party mans sterk genoeg vir die spel kan wees?? (tong inni kies)

Te veel van ‘n goeie ding ·

Ek kan glo dat SA 59ste op die lys is. Kyk net hoe kreun die rakke op die foto onder al die drankbottels. Vrydagmiddae by ons Spar sien ek gereeld hoe mense flink en op ‘n drafstap by die drankwinkel langs die kruideniersafdeling ingaan en dan Saterdagoggende is hulle weer traag en droewig by die kruideniersafdeling en vra die pakkers tussen die rakke waar is die grandpa’s en blikkies tamatie cocktails.

Rudolph ·

Probleme is soos kurkproppe. Drink so veel as wat jy wil, hulle dryf bo!

Voordele van alkohol? Zero!
Nadele? ‘n Magdom!
Vra die baba wie se ma gedrink het tydens swangerskap. Vra die gade van ‘n drinker.
Praat met d kind van ‘n alkoholis. Alkohol produseer soveel hartseer en pyn.

JohanR ·

Wat anders kon ons doen van 1994 af behalwe drink? Dit maak jou darem vir ‘n rukkie vergeet van die ANC, die EFF, die BLF, die polisie, die NPA. Maar ons moet nog baie doppies klink op ‘n bottel bier, of die prop van ‘n bottel wyn uittrek, om naby van die Europese lande te kom……

Vita ·

As jy dink drank is jou oplossing sit jy die pot mis, probeer kniel voor die Here Jesus, Hy sal jou help

Mike ·

Al meer jong kinders kan nie ” party” sonder sterk drank nie. “After ” na matriekafskeid = ONDING.
Verbied jul tieners om te gaan!!

A Mac ·

Dink nie die mense met die fuif-gewoonte of wat hul bottel se boom wil sien gaan kennis neem nie. Hoor gereeld op Maandae hoe daar gespog word by die werk hoe dronk ons weer die naweek geword het. Gelukkig sal drank nooit my baas wees nie want ek het as kind opgegroei in n huis waar drank voor al ander goed gekoop is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.