Suid-Afrikaners wat oorsee werk, krepeer in SA

Delmari en Robert Moxham en hul twee kinders (Foto: Verskaf)

Duisende Suid-Afrikaners wat tans in Suid-Afrika vertoef maar oorsee werk, pleit om terug te keer na die lande waar hulle woon of werk. Talle van dié Suid-Afrikaners begin finansieel swaar trek omdat hulle nie meer ’n inkomste kan verdien nie.

Dié Suid-Afrikaners het intussen probeer om terug te keer na hul nuwe tuistes in die buiteland, maar dié pogings het tot dusver misluk. Benewens die verlies aan inkomste is hulle boonop tans van hul gesinne geskei.

Delmari en Robert Moxham wat in Taiwan woon en tans in Suid-Afrika gestrand is, het vlugkaartjies gekoop om op 16 Mei met ’n vlug van Qatar Airways terug na Taiwan te vertrek. Nadat hulle plek op die vlug bespreek het, het hulle kommunikasie van Qatar Airways ontvang dat hul vlug gekanselleer is. Qatar Airways het gesê dit is omdat die Suid-Afrikaanse regering niemand met ’n Suid-Afrikaanse paspoort toelaat om ten tyde van die afsondering die land te verlaat nie.

Volgens Delmari het hulle reeds R110 000 uit hul eie sak betaal vir hul vlugte na Taiwan.

Die Moxham-egpaar het voor die instel van die landwye afsondering na Suid-Afrika gekom vir ’n troue. Dié troue is toe op die laaste minuut gekanselleer.

“Ek en my man kan nie op die oomblik werk nie, en ons verdien ook nie ’n inkomste nie. Ons het ons een kind sopas in ’n skool in Taiwan ingeskryf nadat ons agt maande lank gewag het vir plek in dié skool. Die skool het ons verwittig dat sy haar plek in die skool kwyt gaan wees indien ons nie teen Junie terug is in Taiwan nie,” vertel Delmari.

Adele van der Spuy saam met haar man en kind (Foto: Verskaf)

Verder is omtrent 400 Suid-Afrikaners wat in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) woon ook desperaat om terug te gaan.

Adele van der Spuy is tans saam met haar dogter in Suid-Afrika terwyl haar man in Doebai agtergebly het nadat sy vlug gekanselleer is.

“My man het verlede jaar sy doktorsgraad voltooi en sou begin April sy graad ontvang. Ek en ons dogtertjie het twee weke tevore Suid-Afrika toe gekom om vir ons familie te kuier en my skoonma se 70ste verjaardag te vier. Twee dae nadat ons geland het, het ons gehoor die gradeplegtigheid is gekanselleer. Die vlugte van en na Suid-Afrika is toe ook gekanselleer en my man kon nie na Suid-Afrika reis nie,” vertel Van der Spuy.

Van der Spuy sê sy moes intussen al twee operasies ondergaan waarvoor haar mediese fonds nie die koste wou dek nie.

Suid-Afrikaners wat in die VAE woon of werk wag nog om toestemming te kry om terug te keer na die VAE. Die VAE se ministerie van buitelandse sake en internasionale samewerking het aan dié Suid-Afrikaners bevestig dat hul aansoeke om terug te keer steeds geprosesseer word.

Net meer as 1 000 Suid-Afrikaners wat reg oor die VSA op plase werk maar tans in Suid-Afrika gestrand is, sit ook met hande in die hare omdat hulle maande lank geen salaris kan verdien nie.

Dawid Burger (links) en nog twee Suid-Afrikaners wat op plase in Amerika werk (Foto: Verskaf)

Dawid Burger van Darling in die Wes-Kaap is een van dié jong plaaswerkers wat al vir ses maande geen inkomste verdien nie. “’n Groot groep van ons wat net voor die instel van die afsondering na Amerika sou teruggaan, se vlugte is gestaak,” vertel Burger.

Dirk Hanekom, uitvoerende hoof van Agri All Africa (AgriAA), ’n nie-winsgewende organisasie wat Suid-Afrikaanse boere help om in ander lande te boer, sê AgriAA help om met die betrokke departemente soos Dirco en die departement van handel en nywerheid te onderhandel om die regulasies te wysig sodat dié plaaswerkers kan terugkeer na die VSA.

Hanekom sê behalwe dat regulasies dit verbied dat dié klomp plaaswerkers die land kan verlaat, kon talle nie hul werkvisums en permitte kry nie, omdat die prosessering van administrasie ten tyde van die afsondering gestaak is. Sowat 400 van dié plaaswerkers kon nog nie vir hul H2A-werksvisums aansoek doen nie.

Volgens Hanekom het die plantseisoen pas in die VSA aangebreek en die plaashulp is nou broodnodig.

Burger sê hy kan nie meer al sy rekeninge betaal nie. “Ons probeer kop bo water hou om ons huis- en voertuigpaaiemente te betaal. Van die manne moes al hul bakkies verkoop om al die uitgawes te kan dek. Party kan skaars vir hul vrou en kinders sorg,” vertel Burger.

Hanekom sê daar is ook meer as 3 000 boere wat tans in Suid-Afrika is en nie by hul plase in ander Afrika-lande kan uitkom nie.

Dié Suid-Afrikaners het reeds by Dirco en die departement van binnelandse sake gaan aanklop om hulp. Albei departemente is bewus van hierdie Suid-Afrikaners.

Clayson Monyela, woordvoerder van Dirco, het aan Maroela Media gesê om Suid-Afrikaners uit die land te kry is die departement van binnelandse sake se verantwoordelikheid. “Dirco is slegs verantwoordelik om Suid-Afrikaners in hierdie tyd van die buiteland te repatrieer,” sê Monyela.

Siya Qoza, die woordvoerder van die minister van binnelandse sake, het weer aan Maroela Media gesê dat Dirco die internasionale reise van burgers koördineer. Qoza het nie verder op enige navrae van Maroela Media gereageer nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

marius ·

Hulle is vasgevang in dieselfde strik wat lankal vir almal gestel is .

Yolandie ·

So jammer dat julle deur so moeilike tyd moet gaan. Ten minste as julle werk is julle van nut en kan julle vir julle gesinne sorg. dit is darem beter om in julle eie land vasgekeer te wees met ‘n regering wat julle nie eers ‘n kospakkie of geldelike ondersteuning sal gee nie. Sterkte en bid vir julle!!!

Alexz ·

Miskien beter, maar dit is BESTE om in ñ vreemde land te wees en inkomste te kan verdien om siel en liggaam bymekaar te hou!

Wielspore ·

Daar is heelwat Suid Afrikaners wat plaaslik werk wat ook sonder inkomste sit agv Covid19. Wag jou beurt af, daar kan nie uitsonderings gemaak word.

Delmari ·

Ek verstaan daar is baie mense wat op die oomblik nie kan werk nie – ons kan werk maar ons kan nie huistoe om te gaan werk nie. Die vlug is daar maar ons mag nie op klim nie…Dit maak nie sin nie – ons wil net huistoe en in ons eie bed gaan slaap. Ons vra nie vir uitsondering nie – ons wil net huistoe.

Jean ·

Waar is die tax geld wat hulle gespaar het om nie te betaal as mens oorsee werk nie.

Francois ·

Ongelukkig betaal ons ook tax soos gewone landburgers in SA en kan ons eers die tax terug eis na Julie wanneer die tax seisoen oopmaak. So daarom het ons nie tans daai sogenaamde tax geld wat jy op sinspeel nie

Grens ·

Kry jou self so bietjie ingelig, ek werk in die buiteland, en bataal tax.

Anel ·

As die ander lande bereid is om die mense te help en terug te verwelkom, wie is die spul hier om hulle nie toe te laat om te gaan nie? Jaloers omdat hulle werk gekry het en nie nodig het om bakhand by die regering te staan nie? Of wil hulle net vir die mense wys dat Suid Afrika niu onder komunistiese bestel is en almal sal maak soos hulle sê? Sterkte aan die arme nense.

Sarel ·

Ek verstaan nou nie so lekker nie. Dasr was nou al vaiexgedkryf en gekla oor Suid-Afrikaners in die Buiteland wat nie kon terug keer niecen spesiale vlugte was of word nog gereel. Nou kla hulle weer omdat hulle in SA vasgekeer is? My kop is te plat hiervoor want ek het voorheen al gevra waar hierdie mense vandaan kom en of hulle met vakansie was of gewerk het ? Ek weet nie die reddnasie van mense nie.

Delmari ·

Sarel daar is 2 groepe 1. Mense wat in buite land met vakansie was wat wil terug kom SA toe. 2. Ons wat in SA was met vakansie wat wil terug gaan waar ons bly. Daar is vlugte maar omdat ons Suid Afrikaans is mag ons nie vlieg nie, maar ons bly en werk nie hier nie.

Delmari ·

As jy die artikel gelees het sou jy gesien het ons het gekom vir n troue wat gekanseleer was. So dit is wat ons hier soek, ons familie bly ook hier.

Hennie ·

Is daar nou ‘n nuwe reël dat die vrou se naam eerste genoem word as daar na hulle verwys word? Dit lyk nogal so…

Delmari ·

Ai Hennie…Ek dink dit was omdat ek Afrikaans is en my man Engels so ek was die een wat die onderhoud gedoen het. Geen ander rede :)

Willem ·

Delmari, jy poep teen weerlig. Die mense in SA sal rede soek om ons Suid Afrikaners sleg te maak wat in die buiteland woon en werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.