Suid-Afrikaners wéér in buiteland agtergelaat

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Groep van 23 Suid-Afrikaners is tans gestrand by die Guangzhou-lughawe in China nadat hulle toegang tot die aansluitingsvlug van Guangzhou in China na Kuala Lumpur in Maleisië geweier is. Die vlug sou dié groep dan van Kuala Lumpur na Suid-Afrika geneem het.

Die groep Suid-Afrikaners is reeds maande lank gestrand in die buiteland weens die landwye afsondering. Onder dié groep gestrandes is swanger vroue, mense wat toegang tot hul chroniese medikasie benodig asook ʼn baba. Van hulle het ook hul laaste spaargeld gebruik om ʼn repatriasievlug te bekostig.

Prenisha Naicker, die HomeAwayFromHome- (HAFH-)verteenwoordiger van Asië, sê die groep is intussen in ʼn hotel by die lughawe ingeboek.

Beverley Schäfer, DA-LPW in die Wes-Kaap, asook een van die koördineerders van die HAFH-inisiatief, sê al die Suid-Afrikaners in die groep beskik oor die nodige, wettige dokumentasie van die Suid-Afrikaanse ambassade in China om gerepatrieer te word.

Schäfer het Donderdag onder die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) en die Suid-Afrikaanse ambassade vuur gemaak om in te gryp. “Dirco moet dringend ingryp om te verseker dat elke Suid-Afrikaner veilig terugkeer huis toe en dat die nodige protokol en voorsorgmaatreëls vir die repatriasieproses ingestel is,” sê Schäfer.

Schäfer sê dit is kommerwekkend dat Dirco en die ambassade nie ʼn volledige plan gereed gehad het om dié oponthoud te voorkom nie.

Die voorval volg kort ná ʼn groot groep Suid-Afrikaners verlede Vrydag op die Schipol-lughawe in Amsterdam in Nederland opgehou is. Hulle sou met vlugte van KLM na Suid-Afrika gerepatrieer word.

Darren Bergman, die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking en ook een van die stigterlede van die HAFH-inisiatief, het aan Maroela Media gesê die KLM-vlugte is weereens deur die Suid-Afrikaanse regering vertraag. Hy sê dié groep kon ʼn dag later en ná ʼn groot gespook vlieg.

“Dit is nou al die soveelste keer dat Suid-Afrikaners op pad huis toe by lughawens gestrand is. Dis onverskoonbaar,” sê Schäfer. Sy het intussen ʼn brief aan Naledi Pandor, die minister van Dirco, gerig om haar ondersteuning betreffende die situasie te versoek.

Schäfer sê hulle is ook bewus van talle gevalle waar Suid-Afrikaners nie hul paspoorte by die onderskeie ambassades of konsulate in die buiteland kon hernu nie. Van die Suid-Afrikaners wag al langer as ʼn jaar om hul amptelike dokumente soos paspoorte te hernu. “Die meeste van ons ambassades en konsulate was nie ten tyde van die afsondering oop nie omdat amptenare van die huis af moes werk. Die oordrag van dokumentasie tussen Suid-Afrika en die buiteland waar die Suid-Afrikaners gestrand was, is só vertraag,” sê sy.

Volgens Schäfer word gestrande Suid-Afrikaners se wettige regte as burgers van die land geskend.

“Toegang tot paspoortdokumentasie asook repatriasie-ondersteuning is wettige regte van alle Suid-Afrikaners, ongeag waar hulle hul in die wêreld bevind. Die Covid-19-pandemie skep reeds genoeg paniek en onsekerheid. Dirco en die nasionale regering moet hierdie probleme aanraak en ons burgers die nodige hulp en ondersteuning bied,” sê Schäfer.

Maroela Media het ʼn navraag aan albei woordvoerders van Dirco, Lunga Ngqengelele en Clayson Monyela, gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kobus ·

Kyk net watse moeite was gedoen vir die heel eerste Repat vlug van China na Suid Afrika. Nou moet ons sukkel net om by die huis uit te kom. Ag nee Suid Afrika Regering, skrik wakker en kry julle mense terug by hulle huise.

Stofdonkie ·

Naledi Pandor kon nie eers gereel kry dat skole hulle boeke betyds kry nie, nou wil die da verwag sy moet reel dat mense repat vlugte moet kry? Ek weet nie wie is die onbevoegdste hier nie, pandor of die da wat dink hulle kan met haar werk?

Fedup ·

This circus will do anything in their power to make lives miserable and enjoy it in the process.
Pathetic and incompetent.

Marius ·

My vyf sent – Die ding gaan oor ras , as ek volgens dit gaan wie en wat ek op die nuus gesien het .
Die dames kan nie eers hulle hare uit sorteer nie , wat nog te se van repat vlugte . Dit is seker wat gebeur as die narre moet begin dinge reel ?

Juls ·

ALLES gaan deesdae oor ras. Nie lank dan is toilet papier ook nie meer wit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.