Suid-Kaap se biodiversiteit in gevaar

‘n Dassie in Wildernis. (Foto: Cobus Meiring)

Oorbevolking en ontwikkeling hou ʼn groot bedreiging in vir biodiversiteit in die Suid-Kaap.

Die verlies aan habitat het onder meer tot gevolg dat die dassie-bevolkingsgetalle in Wildernis aansienlik gekwyn het asook die teenwoordigheid van die bedreigde arende wat op hulle jag gemaak het, sê Cobus Meiring, voorsitter van die Suid-Kaapse Grondeienaarsinisiatief (SKG).

Die verlies aan habitat is volgens Meiring direk verantwoordelik vir die verlies van biodiversiteit in super-sensitiewe ekostelsels. Dit word al hoe meer algemeen soos wat nuwe grond vir ontwikkeling bewerk word.

“ʼn Gesonde bevolking dassies het nog ʼn ruk terug in Wildernis langs die spoorlyn op pad na Victoriabaai gewoon en hulle is dikwels in die melkhoutbome in tuine langs die strand aangetref,” sê Meiring.

“Nadat die N2-snelweg herbou is en die daaropvolgende vernietiging van die unieke habitat, het die hoeveelheid dassies in die area egter skerp gedaal en uiteindelik verdwyn.”

Meiring waarsku dat die vermindering van bergwoude vir wonings, tuine en paaie drastiese gevolge vir ander spesies sal inhou.

“Verskeie voëlspesies soos die Knysna-loerie, die Knysna ruigtesanger, die Knysna-houtkapper, die boskanarie en talle ander voëls kom amper net in dié omgewing voor. Die dwergverkleurmannetjie en boom- en spookpaddas kom amper uitsluitlik hier voor en daar is ʼn baie groot kans dat hierdie spesies nie gaan oorleef as die vernietiging van hul natuurlike habitat wat hulle onderhou, voortgaan nie.”

Meiring meen dat private grondeienaars die voortbestaan van die spesies en die natuur kan verseker. Die rol van plaaslike bewaringsliggame is ook belangrik om nie net te bewaar wat reeds daar is nie, maar om meer ruimte te skep vir die oorlewing van habitatte en wild.

“Op die ou end is kennis en bewustheid, tesame met fisieke ingryping nodig om die oorblywende biodiversiteit van die streek te behou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Mens vernietig alles. Impakstudies dikwels ‘n klug. Menslike aanwas en gierigheid is die grootste probleem.

Jacobus ·

Jammerlik dat so baie spesies, voëls, kleiner soogdiere en insekte, nooit in ag geneem word met sogenaamde ontwikkeling nie. Impak studies is onvoldoende en soms eensydig. Ons is almal verantwoordelik vir die natuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.