Suid-Kaap-storm: Dodetal styg; nog reën voorspel

Die NSRI het vroeër die week bystand in die Riviersonderend-omgewing gelewer.

Die liggame van nog twee mense is gevind na die swaar reën en oorstromings in die Suid-Kaap en die dodetal staan nou op vier.

Die liggame is in die omgewing van Riviersonderend en Stormsvlei gevind nadat twee mense Woensdag vermis geraak het.

Die eerste twee sterftes is in Bonnievale aangemeld. Twee mense is dood toe hulle voertuig in vloedwater omgeslaan het. Daar is in dié stadium geen ander vermiste persone aangemeld nie.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het sy medelye betuig met die families van die oorledenes. “Elke slagoffer is ʼn tragedie en ons is baie hartseer oor elke verlies. Noodpersoneel werk onverpoos in die betrokke streke om te verseker dat mense so veilig as moontlik gehou word. Hierdie pogings sal nie stop voordat die gevaar verby is nie.”

Die pont by Malgas word nie tans bedryf nie weens die vloedwater. (Foto: Overberg-distriksmunisipaliteit)

Die storm het die Suid-Kaap Dinsdagaand getref en tot groot skade in die Overberg gelei. Verdere ontwrigtende reënval is oornag in die meeste dele van die Overberg verwag.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gesê verdere reënval kan tot Saterdagaand nog verwag word in Bitou, Breedevallei, Kaap Agulhas, George, Hessequa, Kannaland, Knysna, Langeberg, Mosselbaai, Oudtshoorn en Swellendam. Reënval van tot 50 mm word vir die Tuinroete-distrik voorspel.

Malgas is steeds van ander gebiede afgesny. Volgens Bredell is dit egter veilig en gaan rampbestuurspanne voort om die gebied te monitor en hulp te verskaf soos nodig. Riviere se stygende watervlakke word gemonitor en talle paaie is steeds gesluit of word deur die oorstromings geraak.

Die NSRI het vroeër die week bystand in die Riviersonderend-omgewing gelewer.

Volgens Bredell is daar na verwagting skade aan landbougrond aangerig en kan daar ook veeverliese verwag word.

Talle mense is reeds uit hulle huise ontruim en verdere ontruimings sal gedoen word indien nodig. Verskeie plaaspaaie is beskadig met beperkte of geen toegang tot sekere gebiede nie.

Die Riviersonderend-rioolwerke is beskadig en tegnici is reeds besig met herstelwerk.

Bredell het gesê dit is steeds uiters onveilig of in sommige gevalle onmoontlik om in dele van die Overberg-streek te reis.

“Mense word versoek om reis te beperk en so ver moontlik binne te bly. Kontak die nooddienste in noodgevalle. Die provinsiale noodnommer is 112.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.