Suid-Kaapse drenkeling nie vermiste Kaapse vrou

Angelique Ripepi is vroeg Saterdagoggend laas gesien. Foto: Facebook

Die polisie sê niks is onmoontlik nie, maar volgens alle aanduidings is die vrou wat in die Suid-Kaap ter see verdrink het en die een wat in die Kaap vermis word, twee verskillende mense.

Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die vrou wie se liggaam tussen Mosselbaai en Danabaai uitgespoel het, is nog nie geïdentifiseer nie.

“Dis onwaarskynlik dat dit die liggaam van [die 25-jarige Angelique Ripepi van Muizenberg] is,” het Pojie Woensdag by navraag gesê. “Die slagoffer by Mosselbaai is ʼn wit vrou, terwyl die vermiste vrou van Muizenberg bruin is. Op die oomblik vermoed ons nie ʼn misdaad nie.”

Hy vra die publiek moet Mosselbaai se polisie by 044 606 2800 bel as hulle kan help om die Suid-Kaapse drenkeling uit te ken.

Die plaaslike NSRI het Maandagmiddag berig van Transnet se nasionale haweowerheid ontvang van die liggaam wat in die see by Mosselbaaipunt gedryf het.

Intussen duur die soektog na Ripepi voort nadat sy Saterdagoggend laas gesien is toe ʼn goeie vriend haar by haar woonplek kom haal het om haar na ʼn werkonderhoud by ʼn winkel in die Table View Mall te neem.

Hy is nog nie ʼn verdagte nie, maar die polisie wil hom weer ondervra.

Beeldmateriaal van veiligheidskameras wys hoe die vriend, saam met wie sy grootgeword het, haar oplaai. Maar haar stiefpa, Anthony Matthee, sê die polisie sien nie sy motor op enige beeldmateriaal van die sowat 35 km lange roete wat die vriend sê hulle Table View toe gevolg het nie.

Die vriend sou Woensdagoggend ʼn verklaring by die polisie aflê. “Hy is nog nie ʼn verdagte nie, maar die polisie wil hom weer ondervra [nadat hulle die beeldmateriaal bestudeer het],” sê Matthee.

Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het Woensdagoggend gesê Ripepi het ʼn wit-en-blou bloes met ʼn blompatroon, ʼn rekbroek en bruin tekkies gedra toe sy laas gesien is.

Hy vra enigeen met inligting moet konst. Maphanga by 083 497 3858 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Willem Grobler ·

Ag hemel tog! Wat is nou weer met hierdie arme meisiekind gedoen!? Die boosheid in ons land is buite beheer en die nugter weet wat ons gaan doen om dit reg te kry… Ek hoop uit my hart uit hulle spoor haar ongedeerd op maar ek het my ernstige twyfel.

IK ·

Uiteindelik word velkleur gebruik om ‘n beter beskrywing te gee. Dis mos nie ‘n skande om wit, bruin, swart, pienk geel, groen of wat ookal te wees!!

Philip ·

Wat moet mens sê. Dis tragies in die fleur van haar lewe. Vertrou hulle vind haar spoedig. Bid vir haar en familie

Lanie ·

Maak nie saak wat die vel kleur is nie. Dis n VROU, ma en dogter. Kry haar asseblief net lewendig sonder eninge letsels.

Mags ·

Lanie, natuurlik maak velkleur saak… Hoe anders gaan mense weet na wie om te soek !! As daar eendag moontlik iets met jou gebeur, of jou kinders gebeur, sal jy nie wil hê die beskrywing moet so akkuraat moontlik wees om die soektog te vergemaklik nie?? Moet asb. nie so kortsigtig wees net om polities korrek te wil wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.