Suidelike Afrika moet hom staal vir erge orkane

‘n Satellietbeeld van orkaan Florence oor die oostelike kus van die VSA (14 September 2018). Beeld: NOAA via AP

ʼn Nuwe navorsingsverslag dui daarop dat daar die afgelope 30 jaar ʼn styging was in die aantal hoë kategorie orkane.

Suidelike Afrika het nog nie veel orkane beleef nie en voor 1994 was daar nog nooit ʼn kategorie 5-orkaan in die suidelike Indiese Oseaan gewees nie.

Jennifer Fitchett, senior lektor in Fisiese Geografie aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), se nuwe navorsing het egter bevind die tendens is besig om te verander en dat al hoe meer kategorie 5-orkane ook nou in die suidelike Indiese Oseaan voorkom. Orkane in dié gebied is gewoonlik laag in intensiteit op die Saffir Simpson-skaal.

Dié skaal word gebruik om ʼn kategorie aan tropiese siklone toe te ken gegrond op die storm se windsterkte en -druk. Storms van lae intensiteit word as kategorie 1 ingedeel terwyl kategorie 5-orkane geklassifiseer word as die mees intense en skadelikste storms. Kategorie 1-storms is kleiner in deursnit (50-100 km) en het ʼn minimum windsterkte van 119 km/h terwyl kategorie 5-storms windsterkte van 252 km/h of meer het en tot 500 km in deursnit kan wees.

Daar het in 2018 talle kragtige tropiese storms voorgekom. Meeste van dié ontstaan in die Noord-Atlantiese Oseaan waar dit deur die warm Golfstroom voortgehelp word.

Satellietbeelde van orkaan Irma (Foto: NOAA/AP)

Volgens Fitchett sal die frekwensie van kategorie 5-orkane in die suidelike Indiese Oseaan waarskynlik steeds toeneem gegrond op die progressiewe tendens oor die afgelope drie dekades. Fitchett meen die rede hiervoor is die styging in die temperatuur van die see-oppervlak. Tropiese siklone benodig ʼn see-oppervlaktemperatuur van 26 ˚C om te kan vorm.

Fitchett meen regerings in Suidelike Afrika moet proaktief optree rakende die nuwe bedreiging.

Fitchett het vir haar studie die wêreldwye historiese databasis van tropiese siklone bestudeer. Die eerste aangetekende kategorie 5-orkaan in die suidelike Indiese Oseaan was in 1994. “In die afgelope 30 jaar was daar ʼn progressiewe styging in die aantal hoë kategorie tropiese storms. Die studie dui aan dat die suidelike Indiese Oseaan se see-oppervlaktemperatuur van 29˚C tropiese storms aanhelp na ʼn hoër kategorie. Hierdie baie warm oseaantemperature word nou ook oor ʼn veel groter gebied aangeteken, wat die waarskynlikheid van hierdie hoë intensiteitstorms verhoog.

Verwoesting wat deur orkaan Irma gesaai is (Foto: Gerben Van Es/Dutch Defense Ministry via AP)

Volgens Fitchett het kategorie 5-storms in die suidelike Indiese Oseaan ook verskuif en beweeg dit nou nader aan landmassas as voorheen en hou dit ʼn bedreiging in vir veral Madagaskar, Mosambiek, Réunion en Mauritius. Suidelike Afrika is in April 2016 die laaste keer deur ʼn kategorie 5-orkaan getref. Orkaan Fantala het deur die suidwestelike Indiese Oseaan beweeg en noord van Madagaskar verbybeweeg voordat dit die eiland van Farquhar in die Seychelle getref het.

Hoewel dit die sterkste storm nog in die suidelike Indiese Oseaan was, is daar nie soveel skade aangerig nie en was daar geen lewensverlies nie. Dit is in skrille kontras met orkaan Gafilo wat Madagaskar in 2004 getref het en minstens 250 mense dood gelaat het.

Volgens Fitchett sukkel Suidelike Afrika selfs om net die gevolge van ʼn kategorie 1-storm te hanteer en beteken dit regerings is nie voldoende toegerus om kategorie 5-storms te hanteer nie.

Fitchett sê daar is egter voorsorgsmaatreëls wat getref kan word. Dit sluit in dat geboue, paaie en brûe aan die kus gebou word om hoë windsterkte en stormweer te trotseer sonder dat daar grootskaalse skade aangerig word.

“Beter weervoorspellingstelsels moet ingestel word sodat stede en dorpe effektief ontruim kan word voordat ʼn storm land bereik om verlies aan menselewens te voorkom,” het Fitchett gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Joe ·

En dink net aan al die sinkplate wat gaan rondvlieg. Ons gaan sukkel om kop te hou.

Neutraal ·

Die Bybel voorspel dit vir almal. Wat is die rede. Suid Afrika raak heidens.

Poot ·

@Neutraal
Ag asseblief…… die hele wêreld is heidens. Lees die Bybel.

Ekke ·

‘n Orkaan is ‘n sikloon is ‘n tifoon. Verskillende benaming in verskillende wêreld dele.

Melanie ·

As daar enigsins ‘n orgaan op pad is, sal ons niks agterkom nie. Daar het die afgelope 24 jaar al baie erge dinge ons land getref.

Bul ·

Hierdie tipe van ding was nog nooit en sal ook nooit in ons leeftyd van so aard raak dat dit enigsins n nuus topic hoef te wees.
Sodra iets gereeld (elke nou en dan – elke paar jaar if selfs elke jaar gebeur) dan sal ek se dis nodig om daaroor te skryf.

En hoekom is alles voor 1994 —

pieta ·

Nee man…..dis die einde van die begintye…wees nou ‘n bietjie oorsprongklik.

Riana ·

So die regering moet voorsorg tref… dis ‘n grap! Hulle kan dan nie eers sorg dat ons krag het nie! Beplanning is nie in die regering se beleid nie… wonder waarheen vlug mens as jy weet so ding kom aan? Dalk moet ons gate grou en daarin wegkruip!

Piet Pompies ·

Daar word beweer die see se water word warmer wat die vreemde weer toetstande veroorsaak. Ek swem al van kleins af in see water, KZN en Oos Kaap, volgens aanvoeling word die water kouer.
Wie het die temperatuur 500 jaar terug op die aarde geneem…… ag nee regtig.

Jules ·

Hierdie orkane is mense gemaakte orkane gaan kyk na Youtube sit die woorde in H A A R P en kyk hoe hulle dit perfek is en dit is die einde vinnige vir almal.Vader wees onse land genadige teen hierdie wapens.

HAARP ·

Tropiese siklone is die natuur se “vragmotors” om oortollige hitte 5° Noord & Suid van die ewenaar na gematigde klimaatsones te karwei . Globale verhitting is dus die direkte oorsaak van die toename in die krag van tropiese siklone.
Wanneer die HAARP installasie hoë beladings mikrogolwe teen die stratosfeer weerkaats na die teiken, word die teiken gebied vooraf gegaan deur ‘n Aurora.
Aurora Borealis/Australialis word deur die son se “solar flares” veroorsaak . . . glad nie dieselfde ding nie . . . . die HAARP Aurora lyk klaarblyklik meer soos ‘n reenboog.

“Conspiracy theory” ouens sê dat die VSA vir Japan gepiets het met ‘n HAARP aanval, wat die Tsunami veroorsaak het (klaarblyklik ‘n ekonomiese dispuut gewees)
As daar nie ‘n Aurora ligspel vooraf was nie . . . dan was daar nie ‘n HAARP aanval gewees nie. Ook nou nie juis ‘n wapen wat jy elke dag sonder kritieke redes, wou gebruik nie??

Jules ·

Dis mens gemaak te Orkane . Kyk na H A A R P program se alles.

Charles ·

“Dienslewerings proteste” is vir my ‘n groter bekommernis, daars meer skade wat aangerig word as ‘n orkaan…

Anni ·

Ons hier in SA bang nie orkane nie. Ons moet elke dag met ‘n kategorie 8 orkaan saamleef, naamlik die ANC regering. Waar hy deurtrek, word alles deurgetrek, en niks bly oor nie, Daardie orkane gaan niks hier kry om te verwoes nie, so”bring it on…”

Ryan ·

Soos baie hier noem, ons lewe daagliks met veel erger, so ja…. ek sê ook”Bring it on…..” miskien kan ‘n paar rooi beretjies wegwaai..

Frans C ·

Is land manlik,dat Suidelike Afrika ‘hom’ moet staal.

Jaco ·

Die dag van jou geboorte was die die begin van jou eindtye…
Hierdie vrees omroepers raak nou bietjie lank in die tand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.