Suikerbelasting ʼn bitter pil vir die bedryf

Argieffoto (Foto: 955169/Pixabay)

ʼn Nuwe verslag oor die sosio-ekonomiese impak van die gesondheidsbevorderingsheffing (HPL of suikerbelasting) wat in 2018 ingestel is, wys die verwoestende impak wat dit op die suikerbedryf, breër ekonomie en werkskepping het.

Rex Talmage, voorsitter van die suikerrietprodusenteorganisasie SA Canegrowers, sê die verslag, wat saamgestel is in opdrag van die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) op versoek van die portefeuljekomitee oor handel en nywerheid, onthul dat die suikerbelasting teen 2019 reeds die volgende tot gevolg gehad het:

  • 16 621 werksverliese in die algehele ekonomie
  • afname van R653 miljoen in beleggings in die ekonomie
  • afname van R1,19 miljard in die suikerbedryf se bruto toename in waarde (GVA) tot Suid-Afrika se BBP – slegs in 2019 (GVA is die maatstaf van ʼn bedryf se netto uitsette. Dit word gebruik om die bydrae van elke bedryf tot die BBP te kwantifiseer.)

“As gevolg van dié verliese, het die suikerbelasting se algehele bydrae tot Suid-Afrika se BBP vir daardie jaar met R2,05 miljard gedaal,” het Talmage bygevoeg.

Die verslag het ook onthul dat suikerrietprodusente voor die instelling van die suikerbelasting altesaam 94 621 direkte, indirekte en afgeleide poste ondersteun het – dit verteenwoordig 11,2% van al Suid-Afrika se landbouwerkers. Teen 2019 het die suikerbelasting die bedryf egter 9 154 poste gekos – byna 10% van sy arbeidsmag.

Suikerrietboere het in 2017 ook R10,5 miljard bygedra tot die nasionale BBP, maar dié getal het tot sowat R214,7 miljoen per jaar gedaal ná die suikerbelasting ingestel is en ʼn kumulatiewe R414,2 miljoen ná die tweede jaar, het hy gesê.

“Dit is belangrik om daarop te wys dat dié bevindings slegs die eerste jaar dek ná die suikerbelasting ingestel is en die syfers is ongetwyfeld baie hoër omdat die suikerbelasting drie jaar later steeds van krag is.”

Die suikerbelasting is ingestel in ʼn tyd toe die suikerbedryf reeds geteister is deur droogte, verhoogde produksiekoste en goedkoper suiker-invoere. “Dit is duidelik uit die verslag dat die belasting die laaste spyker in die doodskis was vir duisende plattelandse suikerrietboere en plaaswerkers.”

Talmage sê ondanks hierdie katastrofiese gevolge is daar geen bewys dat die belasting bereik het wat die aanvanklike doelwit was nie: om nasionale vetsugvlakke te verminder. “Dit het die ergste moontlike scenario tot gevolg gehad met die suikerbedryf wat die grootste las dra van ʼn gesondheidsingryping wat nie deur enige bewyse ondersteun word nie.”

Nedlac het die verslag na die portefeuljekomitee verwys en Talmage sê SA Canegrowers sien uit na gesprekke met die komitee oor die bevindings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Riaan ·

Ja, en alles van koeldrank tot ‘n pakkie jellytots gee mens die aaklige na-smaak wat so bekend is aan die kunsmatige versoet middels.

Kruidjie-roer-my-nie ·

Hierdie regering redeneer régtig vir my agterstevoor. Hul wil suiker duurder maak sodat mense “gesonder” is, terwyl gesonde kos soos melk, eiers, vleis, groente en vrugte só duur word, dat mense dit nie kan bekostig nie, en dus ongesonde dieëte begin volg van net brood, pap ens. Geen proteiëne, vitamiene en minerale in die dieët. As hul wil help met gesondheid van burgers: subsidieër pryse van groente en vleis sodat dit vir die publiek goedkoper is, sonder om die boere in te doen en hul minder te betaal vir hul produk. ( Hul kry reeds so min vir hul produk in vergelyking met wat dit in die winkels kos.)

Francois Le Cochon ·

Die regering moet eerder invoerbelasting op voedsel afskaf, dan gaan ons beste gehalte vleis, suiwel, vrugte en wyn (net om ‘n paar voolbeelde te noem), teen halfprys kan loop.

Sambok ·

Ga-wonder wat het van daai suikerbelasting wat regering ontvang het geword-seker sakke toe

Kokerboom ·

Desperate pogings om regering se begroting te laat klop dmv instelling van sinnelose ondeurdagte heffings ipv die onbeheersde uitgawe trein te stop en oorgewig staatsdiend te verklein!!

Dirk Mostert ·

Die vorige minister van gesondheid het suikerbelasting ingestel om obesiteit teen te werk, gebaseer op twyfelagtige navorsingsresultate. Diegene wat baie suiker gebruik gaan dit steeds doen. Hulle sal net aandring op hoer lone om vir die duurder suiker te betaal. Suiker word vinnig omgesit in energie. Dis stysel wat mense vet maak. Die minister moes liewers ‘n veldtog loods om parlementslede, polisie en weermaglede wat uit hul uniforms peul, skraal te kry. Lei van voor!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.