Sukkelende boere wag steeds vir antwoord oor noodfonds

(Foto: Yolandi Kruger)

Meer as ʼn maand nadat die aansoekproses vir kleinskaalse boere vir die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se Covid-19-landbourampondersteuningsfonds (CADS-fonds) gesluit het, wag die meeste boere steeds om van die departement te hoor of hul aansoeke suksesvol was.

Dit volg nadat Thoko Didiza, die minister van landbou, op 17 Mei aangekondig het dat die regering begin het met die proses om aansoeke vir dié fonds te finaliseer. Meer as 55 000 aansoeke om finansiële hulp is van kleinboere in die aansoektydperk van 8 tot 22 April ontvang. Didiza het destyds gesê 15 036 aansoeke ten bedrae van net meer as R500 miljoen is reeds goedgekeur en beloof dat alle aansoeke in die week van 17 Mei gefinaliseer sal word.

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê boere wat nog steeds geen terugvoer van die departement oor hul aansoeke gekry het nie, is van alle ouderdomme, rasse en geslagte. Dié boere het ten tyde van die landwye afsondering finansieel begin swaartrek weens ’n verlies aan inkomste. Die meeste van hulle moes ook van hul permanente plaaswerkers aflê omdat hulle nie meer hul salarisse kon betaal nie.

’n Bekende boer in die Nigel-distrik in Gauteng wat aan kanker ly, het vir die fonds aansoek gedoen omdat hy dit broodnodig het vir sy boerdery om te oorleef. Dié kleinskaalse boer het tans net meer as 50 stoetbeeste oor en probeer om speenkalwers vir minder as ʼn derde van die prys te verkoop om aan die lewe te bly.

Die vraag na vleis het tydens die afsondering aansienlik gedaal. “Ek het so twee tot drie jaar gelede sowat R12 000 per stoetbees gekry. Nou kry ek skaars R4 000 per bees,” vertel die boer.

Die boer sê hy sit met vier bale voer op sy plaas en het ten minste 100 bale voer nodig.

“Indien ek nie die geld van die departement se hulpfonds kan kry nie, sal ek my beeste in groepe moet begin verkoop.”

Twee vroueboere, onderskeidelik van Ugie en Aberdeen in die Oos-Kaap, vertel hulle moes hul plaaswerkers se salarisse met die helfte sny omdat hulle nie meer die volle salarisse kon betaal nie.

Die boer van Ugie, wat op ʼn 2 ha-plaas met groente boer, sê sy moes van haar groente vir haar plaaswerkers gee om te verhoed dat hulle van ellende krepeer. Sy sê indien sy nie die geld van die departement se fonds kry nie, sal sy ʼn ander bron van inkomste moet soek.

Die boer van Aberdeen, wat met varke en beeste boer, sê tydens weens die reisbeperkings tydens die afsonderingstydperk, kon sy nie haar speenvarke oudergewoonte aan die plaaslike gemeenskap verkoop nie. Só het sy ook geen bron van inkomste gehad nie. “My produksie het onder die verlies van inkomste begin ly omdat ek nie meer ordentlike kos vir my varke kon bekostig nie. Ek moes afvalkosse by markte gaan koop,” vertel die boer.

Solly Letsoalo, ’n boer van die Proaktiewe Grondverkrygingstrategie (PLAS) van Trichardtsdal in Limpopo, het ’n SMS van die departement ontvang wat hom in kennis gestel het dat sy aansoek onsuksesvol was. Hulle het hom egter geen geldige rede gegee waarom sy aansoek nie goedgekeur was nie.

Letsoalo boer met onder andere mango’s, gewasse en groente soos kool en groenboontjies.

“Eers het die droogte ons in die gebied geslaan en net daarna die Covid-19-pandemie. Ons was nooit as rampgebied verklaar nie, alhoewel die departement dit eintlik moes doen.” Hy sê een van die omliggende plaasboere het 2 ha se tamaties verloor weens die droogte en pandemie. Ek het self ’n groot verlies van inkomste en moes van my werkers aflê,” vertel Letsoalo.

Letsoalo sê sy boerdery staan stil. Hy moet sy 60 ha mango’s met insekdoder spuit, maar kan nie die insekdoder tans bekostig nie.

Rossouw sê Saai het sy regspan opdrag gegee om die departement te versoek om skriftelik bevestiging te verskaf of alle prosesse inderdaad gefinaliseer is. Indien dit nie die geval is nie, moet hulle bevestig teen wanneer die prosesse gefinaliseer sal wees.

Saai het die departement ook versoek om alle boere wat aansoek gedoen het, in te lig of hulle aansoeke aanvaar is of nie en, indien hul aansoeke afgekeur is, bevredigende redes aan dié wat onsuksesvol was te verskaf.

“Indien die departement versuim om aan bogenoemde versoeke gehoor te gee, sal Saai voortgaan met verdere aksie om te verseker dat bevredigende redes aan alle applikante verskaf word,” voeg Rossouw by.

Maroela Media het reeds ʼn week gelede navraag aan die departement gestuur oor wanneer die aansoekproses afgehandel sal wees, maar ook nog geen antwoord op dié navraag ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gustav ·

Ek is verbaas dat enige iemand werklik so naïef kan wees om te dink dat enige boere hulp sou ontvang. Komaan, ken julle nog nie die regering se styl nie.

daniel ·

Hulle sal n standard verskoning he, naamlik dat die begroting uitgeput is. .

Jaco ·

as wit boere nie hulp kry nie, is dit seker maar goed so. dis mos maar deel van die ewige “straf” wat ons wit mense vir apartheid moet dra.
M,aar as swart boere nog nie hulp gekry het nie, is iets groots fout. Hoe sorg ‘n regering bestaande uit “our people” dan so sleg vir hulle eie “our people”?

marius ·

Waarom is die vurige agri sa so stil soos krieke voor’n donderstorm ? O ekskuus , hul lede is nie geraak nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.