‘Sukkelende Eskom moet staatspensioen uitlos’

Argieffoto: GCISA

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se lening van R5 miljard aan Eskom sterk veroordeel. Die OBK het namens die staatspensioenfonds, wie se bates hy bestuur, toegegee aan Eskom se versoek om die geld te leen.

“Hierdie lening is iets wat al vir ʼn wyle gevrees word en nou het dit waar geword. Terwyl daar begrip kan wees vir die uitdagings wat die nuwe bestuur van Eskom in die gesig staar ten einde die elektrisiteitsreus se korttermyn-kontantvloeiprobleme op te los, is hierdie ʼn swak oplossing,” het dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, gesê.

Brink het gesê Eskom se nuwe bestuur het nog nie aangedui hoe hulle die elektrisiteitsvoorsiener se sake gaan omkeer nie. “In hierdie stadium het ons steeds net die versekering gekry dat dinge sal verbeter en daar is wel van sekere vrot appels ontslae geraak, terwyl hierdie lening beslis nie vertroue inboesem nie. Afgesien van hierdie lening het die nuwe leierskap nog niks tasbaars gedoen om te wys hulle kan Eskom omkeer nie.”

Volgens Brink moet die vergoedingstruktuur van die Eskom-bestuur hersien word, die agterstallige gelde van munisipaliteite ingevorder en onreëlmatighede met die voorsieningsketting uitgesorteer word. “As daar na Eskom se finansies gekyk word, is daar selfs met goeie bestuur ʼn geringe kans dat dinge op die lang duur beter sal gaan. Hulle gaan skuld aan om skuld te delg terwyl hul inkomste daal. Eskom het ook al meer as R275 miljard van sy R350 miljard-staatswaarborg opgebruik, terwyl sy skuld tans op R367 miljard staan.”

Brink het gesê daar is ʼn “baie goeie kans” dat die OBK-lening nie terugbetaal gaan word nie en dít kan weer toekomstige lenings kniehalter. Dit kan ook miljoene mense wie se geld in hierdie fonds belê is, asook as hul afhanklikes, later in ʼn enorme verknorsing laat beland.

“Hierdie lening maak ook die deur oop om maklik ʼn lening by die OBK te verkry. Boonop dek die bedrag net Februarie se probleme; gaan hulle in Maart en April wéér lenings wil aangaan?” vra Brink.

Hy het gesê AfriForum sal voortgaan om sy waghondfunksie ten opsigte van elektrisiteitsvoorsiening aan gemeenskappe en munisipaliteite met oorgawe te vervul, maar beywer hom ook vir die oopstel van die elektrisiteitsvoorsieningsmark vir private verskaffers. “Die mededinging sal die prys van elektrisiteit afbring en aan gemeenskappe groter seggenskap oor hul eie elektrisiteitsvoorsiening gee, eerder as om die huidige duur en skadelike staatsmonopolie in stand te hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

John ·

Dit is moontlik nie die eerste keer dat Eskom sy koue handjie in die pensioenfonds-koekieblik druk nie. Indien die deurgeroeste bestuurstruktuur in die yslike bodenlose ‘-kom’ nie drasties toegesweis word en dit nie goed uitgeskuur word nie gaan die land na Meimaand weer lesopse met speletjies en donker dansies onder die draaiorrel-gee-of… Die land kan nie nog sirkusse bekostig nie. Al die wit olifante en zoo-grapjasse moet waai…. en vinnig.

Eish ·

Die begin van die einde vir die staasdienspensioenfonds. Sterkte vir die amptenary wat uiteindelik dieselfde paadjie gaan loop as die spoorwegwerkerspensioenfonds.
Daar is hoegenaamd geen sfeer van die samelewing wat die verrotting van die regerende party se kapasiteitsgestremdheid vrygespring het nie.
Die meerderheidsregering het eenvoudig nie die vermoë, kapasiteit, kundigheid, karakter, etiek, om enigiets volgens Westerse riglyne te bestuur nie.
Dit laat my dink aan die ou wat vreeslik graag ryk wou wees. Hy kom toe agter meeste rykes dra Rolex horlosies. Hy koop toe self een en n paar maande later is hy bankrot. ” It’s all show and no dough.”
Die ANC regeer op soortgelyke wyse en boesem by my niks vertroue in nie.

Elvira Bothma ·

En so gaan die geplunder voort tot daar niks oor is nie.

Janna ·

As eskom nie nou die geld het nie waar gaan hy dit in die toekoms kry,vra maar net.

Grassie ·

As ‘n mens vir 40 jaar pligsgetrou vir die staat gewerk en elke maand jou pensioenbydrae betaal het, maak dit jou woedend en bekommerd as jy sien dat die ANC-kaders wat nou die staatsdiens beheer al hoe meer met hulle taai, klewerige grypende vingers in die fonds se geldkassie begin krap. Hulle het die land se ekonomie klaar opgefoeter maar is nog nie tevrede nie. Hulle gaan nie rus voor hulle die pensioenfonds soos ‘n lemoen leeg gesuig en weggesmyt het nie. Ek hoop net my Hemelse Vader neem my weg na ‘n beter plek toe voor die dag aanbreek wat ek in iemand anders se oë moet kyk vir genadebrood.

Josua Keys ·

Grassie dit is wat kommunisme beteken, alles behoort aan hulle en kan maak wat hulle wil, daardie geld is belê om rente op te hoop en as jou belegging verminder verloor jy rente.
Wat my bekommer is dat die opposisie partye niks hieraan doen nie, en so gaan SAL ook gehelp word. En dit is waarom ons vir meer as Vyftig jaar ons landsgrense verdedig het let wel lands grense sodat die dinge nie sou gebeur het nie.

Cara ·

Verduidelik net dit vir my. Hoe word die staatspensioen gelde sommer so geleen aan instansies wat finansiele hulp nodig het. Maar leen jyself wat aan die staatspensioen behoort, geld om finansiele redes dan word dit eenvoudig net vir die lid gese jammer hy kan nie geld leen teen sy pensioen nie. hul betaal die pensioen maar hul mag nie teen dit leen nie. maar miljarde rande word links en regs aan buitestanders geleen.

Tammy ·

Wat van al die ander skuld soos die Chinese wat moet terugbetaal word. Ek kan nie insien dat hulle die staatspensioenfonds gaan betaal nie. Die persoon wat hierdie lenings goed gekeur het moet voor n kommitee van ondersoek verskein sodat hy presies kan verduidelik hoeveel geld per maand afbetaal sal word en teen watter jaar al die pensioengeld terugbetaal sal wees. Sommer op die eerste paaiement wat nie betaal word nie moet hulle al sy goed verkoop en hom persoonlik aanspreeklik hou vir die res. Wat van versekering wat Eskom uitneem en maandeliks ook nog bo-op hulle paaiement moet betaal om te verseker dat die staatspensioen nie bankrot speel nie?

Johann Marx ·

My pa het altyd gesê: “Leen” is ‘n wat se naam? Jy kan jouself nie uit ‘n penarie uit “leen” nie. Jy moet WERK…

moeks ·

Gaan die OBK nou sommer ook vir Denel help terwyl hulle Eskom uithelp. Denel soek R3 biljoen.

Jacques Venter ·

Dis net. Die vat net. Mentaliteit. R5 biljoen van staats pensioene word net gevat. Dankie AfiForum.
Waar is die ander staatsdiens vakbonde?
Hoekom is die vakbonde nie gekonselteer nie?
Hoekom kom Lynne Brown nou eers agter daars n probleem?

Plantasie Gorilla ·

Net nog n bewys dat die totale ineenstorting van die land onomkeerbaar oppad is. “Welcome to the jungle, dis so cute”.

Sophia ·

My man kan elke dag sy pensioen dophou om te kyk of dit groei, dit het in een week met
R140 000.00 verminder.
Wie kan dit verduidelik is of dit sy gedeelte wat nou na Eskom gaan ??????
Hartseeer dat ‘n mens geen beheer oor JOU EIE GELD HET NIE!!

Johan ·

As staatsdiensamptenaar raak ek BAIE BAIE bekommerd. ‘n Paar maande gelede was die GEPF by ons werk en mooi verduidelik dat GEEN geld aan Eskom geleen sal word nie. Die grootbek het verduidelik dat die OBK maar net soos banke kyk of dit sinvol is of nie en toe gesê dat die OBK dink Eskom sal nie die geld terugbetaal nie.

Kom paar maande later en die OBK leen geld aan Eskom. So ek kan sonder enige vrees vir aanklagte van “crimen injuria” dit hier stel dat die OBK/GEPF aan ons GELIEG het. En hoeveel keer gaan dit nog gebeur? Ons moet die huidige bestuur wat uit leuenaars bestaan, vervang met mense van integriteit.

Vermeende ·

Pensioene en beleggings is al geld wat nog oorgbly het, die onteienings wet gaan hierdie gelde insluit vir onteiening.

Alida ·

Sodra almal vergeet het van die lening lees ons weer van die miljoene wat aan bonusse uitbetaal is. Siek tot op die been hierdie land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.