Sukses van omkeerplan by Fort Hare rede vir ‘terreurveldtog’

Die Universiteit van Fort Hare. (Argieffoto: SA Gov News/Twitter)

Die uitvoerende bestuur en senior personeel van die Universiteit van Fort Hare word toenemend geïntimideer en met geweld gedreig terwyl pogings om die universiteit van korrupsie te bevry, voortduur.

“Ons meen dat dit juis die sukses van die hernuwingsprojek is wat die terreurveldtog laat verskerp. Daarom is die raad vasbeslote om die uitvoerende bestuurskomitee en die visekanselier te steun in die belangrike skoonmaakveldtog en die heropbou van die universiteit,” sê biskop Ivan Abrahams, voorsitter van die universiteit se raad.

Daar was onlangs ʼn sluipmoordaanval op prof. Sakhela Buhlungu waarin sy lyfwag, Mboneli Vesele, dood is, terwyl Peet Roets, die universiteit se vlootbestuurder, ook vermoor is.

Abrahams sê die aanvalle is moontlik nou verbind met die “voortgesette, beduidende en vasbeslote opruimingsproses wat die bestuur ingestel het om wangedrag uit te roei”.

Groot vordering is gemaak om die universiteit reg te ruk. Fort Hare het net meer as twee jaar gelede ʼn nuwe raad gekry nadat die universiteit geruime tyd onder raadsadministrasie was. Die administrateurs het begin met die regrukplan en die raad het daarna daarop voortgebou, sê Abrahams.

“Die hernuwingsplan het reeds goeie uitkomste behaal. Die universiteit het ʼn historiese skoon ouditverslag vir die 2021-boekjaar gekry. Ná ʼn vasbeslote poging deur die universiteit se bestuur en personeel het die raad 25 beleide oor die afgelope twee jaar goedgekeur.

“Dit het skuiwergate toegemaak en beheermaatreëls teen wangedrag oor alle gebiede van die universiteit ingestel. Die beleid sluit in een oor fluitjieblasers en die voorkoming van bedrog, asook as belangrike finansiële en akademiese beleid,” sê Abrahams.

Sterk leiers en dekane is ook aangestel, sy verhouding met belanghebbendes is versterk en nuwe lewe is in onderrig- en leerprogramme geblaas, sê hy.

“Die universiteit het in 2023 ʼn ongekende getal aansoeke vir toelating ontvang en die universiteit is die meeste aansoekers se eerste keuse. Dit is ʼn getuigskrif van die positiewe gevoel jeens die universiteit onder jong mense.”

Abrahams sê dit is dus belangrik dat wetstoepassingsowerhede verseker dat inhegtenisnemings in verband met die voorvalle gedoen word sodat die vooruitgang van die afgelope paar jaar by die universiteit nie ongedaan gemaak word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

M ·

Bakgat hou so aan !… Baie,baie jammer dat eerlike mense hulle lewens verloor het. Ek eer hulle toewyding.

Mariana ·

Die moordenaars en oproermakers hou mos nie van wet en orde nie en nou word hulle vasgevat en uitgewys. Hulle hou nie van die planne nie.

Dup ·

Nou wonder ek net…aan watter politieke party behoort hierdie kriminele ?

Christine ·

Ek kan jou waarborg hul behoort tot sir ANC/EFF partye. Dis in hul bloed.

Althes ·

Ons liewe regering het te lank geneem om korrupsie en misdadigheid uit te roei,nou moet onskuldige mense onveilig voel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.