Sukses vir Zim-boere in hofstryd teen SA regering

Robert Mugabe. Foto: AP Photo/Tsvangirayi Mukwazhi

Die Appèlhof in Bloemfontein het Vrydag in die guns van ’n groep Zimbabwiese boere beslis wat al jare lank in ’n regstryd met die Suid-Afrikaanse regering gewikkel is.

Dit is waarskynlik die eerste keer in die geskiedenis dat die Appèlhof die instel van ’n dagvaarding teen die Suid-Afrikaanse regering goedkeur vir misstappe wat buite die landsgrense gepleeg is.

Maroela Media het vroeër berig dat ’n groep boere en Zimbabwiese maatskappye ’n skadevergoedingseis van R2 miljard teen die Suid-Afrikaanse regering ingestel het.

Dié eis spruit uit ekonomiese verliese wat ses Suid-Afrikaanse en vier Zimbabwiese boere, asook 15 Zimbabwiese maatskappye gely het, toe Zimbabwe onder wyle pres. Robert Mugabe suksesvolle boere in die land se plase sonder vergoeding afgevat het.

Die eisers voer aan dat hulle destyds hul eise by die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) ingedien het of wou indien om vergoeding van Zimbabwe te eis vir die verlies van hul plase.

Hulle voer verder aan die eis kon nie voortgaan nie omdat Jacob Zuma, voormalige president, in 2011 ’n protokol onderteken het om die SAOG-tribunaal te ontbind.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het later bevind dat ’n eksepsie wat deur die Suid-Afrikaanse regering geopper is geldig is, naamlik dat daar geen kousale verband bestaan tussen die skade wat die Zimbabwiese boere gely het weens Suid-Afrika se deelname in die opheffing van die SAOG-tribunaal se werksaamhede en die werklike skade wat die boere gely het nie. Die groep het teen dié bevinding geappelleer.

Pres. Jacob Zuma en pres. Robert Mugabe van Zimbabwe tydens ʼn beraad van die SAOG in Pretoria (Februarie 2015). Foto: GCIS

“Die hooggeregshof het destyds die eksepsie gehandhaaf en die gevolg daarvan sou wees dat dit vir die boere bitter moeilik sou wees om hul eis van miljoene rande teen die Suid-Afrikaanse regering voort te sit,” het Willie Spies, regsverteenwoordige van AfriForum en die Zimbabwiese boere, Vrydag in ʼn verklaring gesê.

“Die uitspraak wat egter vandag [Vrydag] deur die Hoogste Hof van Appèl gegee is, het die vroeëre uitspraak van die Noord-Gautengse hooggeregshof, wat die eksepsie oor kousaliteit gehandhaaf het, tersyde gestel.”

Volgens Spies is sy kliënte verheug oor die uitkoms van die Appèlhof se verrigtinge.

Hy beskou die bevinding as histories aangesien dit waarskynlik die eerste keer in die geskiedenis is dat die Appèlhof ’n kopknik gee vir die instel van ’n dagvaarding teen die Suid-Afrikaanse regering vir misstappe wat buite die landsgrense gepleeg is.

Spies sê die volgende stap in die proses is dat die Suid-Afrikaanse regering ’n verweerskrif moet lewer op die dagvaardings wat uitgereik is. Daarna sal die proses sy normale gang gaan om uiteindelik ’n verhoor in die Noord-Gautengse hooggeregshof te laat plaasvind waartydens die boere se eis deur die hooggeregshof oorweeg sal word.

Die Zimbabwiese grondhervormingsplan het in 2000 begin en sedert die aanvang van die proses van onteiening sonder vergoeding in Zimbabwe het die Zimbabwiese ekonomie in duie gestort.

“Verskeie wit voormalige boere wat van hul plase afgesit is, is in armoede gedompel en werkloosheid en hongersnood in Zimbabwe het die hoogte in geskiet.

“Dit is van uiterste belang dat Suid-Afrika lesse moet leer uit die ervaring van Zimbabwe en dat die howe ’n duidelike standpunt moet inneem teen die medepligtigheid van die Suid-Afrikaanse regering onder leiding van oudpres. Jacob Zuma. Zuma se besluite in 2014 het daartoe gelei dat SAOG-burgers ontneem is van die reg om hul menseregte in ’n internasionale hof te bereg.”

Spies sê die stryd sal voortgesit word totdat geregtigheid vir dié Zimbabwiese boere geskied.

“Die uitspraak is dus ’n belangrike mylpaal in hierdie epiese stryd en die stryd sal voortgaan totdat geregtigheid vir die boere van Zimbabwe geskied het,” sê Spies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Marius ·

Ons regering is nie baie intelligent nie. Al wat hul sien is die grond wat gevat word. Hul is nie van plan om te boer nie. Dit gebeur mos vanself terwyl jy op die stoep sit en rus. Het hul iets geleer uit zim se krisis uit. Nee nooit dit is net propaganda.

miche ·

Goeie begin en dankie aan Al die rolspelers.
2 Miljard klink net nie vir my genoeg nie?

Johan ·

Ja Lourens, volgens die ANC kan dit nie opraak nie. Hulle vernietig R2 000M in n oogwenk, gee dit gerus aan die Zim boere.

sweepslag ·

Ek is baie opgewonde oor die saak verder vorentoe. Volhard net met dit. Die SA regering gaan alles doen om die eise te probeer keer.
Ek staan bankvas agter julle!!

Nicky ·

Dis goed en wel maar hier kom weer uitstel, uitstel en so sal die saak voortploeter, kyk maar vir Denel, hulle is gese om die geld uit te betaal, maar hulle steur hulle eenvoudig nie daaraan nie

Misky ·

Baie geluk en hoop vir jul part die geld betaal deel gebeur vinniger as die appelleer van die saak.

H.A. ·

Die blanke sal seer seker ‘getax’ word vir daardie bedrag geld.

Mariana ·

Nog ‘n kruisie agter Zuma se naam. Regering sal nooit daardie boere vergoed nie, hulle wil dan juis dieselfde doen aan SA boere. Hulle hoor en sien niks, net hul eie belang. Marius nee hulle is beslis nie intelligent nie.

Michael ·

Daar was al talle uitsprake deur die howe teen die ANC en regeringsorganisasies om skadevergoeding uit te betaal. Hulle steur hulle eenvoudig nie daaraan nie. Geen hof sal hulle ooit dwing om dit te doen nie. Eks bly vir die uitspraak maar daar sal nooit iets van kom al word die regime in die saak deur die hof skuldig bevind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.