Sun City bedrywighede grootliks terug na normaal

Haelkorrels lê byna soos ʼn sneeukombers by die gewilde Sun City-oord nadat ʼn verwoestende haelstorm die omgewing Saterdag getref het. Foto: Facebook

Bedrywighede by die Sun City-ontspanningsoord naby Rustenburg in Noordwes is grootliks terug na normaal nadat ʼn massiewe haelstorm Saterdag uitgebreide skade aan voertuie en infrastruktuur by die oord aangerig het.

“Alles is so te sê terug na normaal, veral die publieke gebiede. Ons het Saterdag, Sondag en Maandag deurnag gewerk om die oord terug na normaal te kry en gaste en besoekers wat nou by Sun City aankom, sal nie kan sien dat so ʼn groot storm die oord getref het nie,” sê Raul de Lima, uitvoerende groephoof van Sun City. “Baie min skade is tans nog sigbaar.”

Die oord het in sy jongste verklaring gesê verskeie hotelkamers en gesins- en vermaakareas het ernstige skade gely. “Hotelkamers se matte, muurpapier, vloerlyste, verfwerk en elektriese bedrading sal vervang moet word sodat gaste daar geakkommodeer kan word,” lui die verklaring. “Die skade is veroorsaak deur water wat deur die vensters en deure ingestroom het, terwyl daar ook water deur die betonblaaie in die plafonruimtes van die laer verdiepings ingesypel het.”

Uitgebreide skade by die gewilde Sun City-oord nadat ʼn verwoestende haelstorm die omgewing Saterdag getref het. Foto: Facebook

Altesaam 396 hotelkamers en 92 vakansiewooneenhede is deur die storm geraak. Die casino in die hoofhotel is nie geaffekteer nie en al die bedrywighede by The Palace kon ook voortgaan soos normaal.

“Om die storm in perspektief te stel: Ons het gesien hoe wolke die middag saampak en hoe dit donker begin word. Dit het liggies begin reën, maar net vir ʼn oomblik, voordat dit verdwyn het en ons gedink het die reën is besig om oor te waai,” verduidelik De Lima.

“Toe skielik is daar hierdie massiewe stormstorting van reën gevolg deur hael wat geval het nie veel langer as 25 minute nie. In Desember val daar gewoonlik omtrent so 25 mm reën by Sun City. Tydens dié storm het daar in minder as ʼn halfuur 85 mm reën geval.”

De Lima sê twee mense het beserings opgedoen nadat hulle in water gegly het. Hulle is in die hospitaal opgeneem, maar dieselfde dag nog ontslaan.

Ons is baie dankbaar dat daar geen verdere beserings was nie en dit is niks minder as wonderbaarlik nie om die minste te sê. Ons versekeringsverskaffer het baie vinnig gereageer en reeds Sondag hul assessors gestuur om die skade te beraam. Hulle verstaan dat dit ʼn fratsstorm was en ons is daarvoor gedek.”

Die presiese beraming van die koste is nog nie bekendgemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.