Deur Christel Cornelissen en Leonie Bezuidenhout
Terwyl die Sun City-oord die afgelope paar maande weens die afsonderingstydperk soos ʼn verlore stad moes lyk – en voel – word daar die afgelope paar dae by dié gewilde oord in Noordwes gewerskaf soos min.
Die oord heropen Woensdag nadat dit 156 dae lank gesluit was; die eerste keer in 40 jaar.
Die oord word geleidelik heropen, met die Sun Vacation Club, Soho Casino, The Palace Hotel en die Gary Player-gholfbaan wat in die eerste fase besoekers terug verwelkom. Die oordbestuur sê die gefaseerde benadering gee hom ook die geleentheid om te verseker die maatreëls wat ingestel is om die verspreiding van Covid-19 te beperk, werk optimaal.
Brett Hoppé, algemene bestuurder van Sun City, sê die oord se nagenoeg 2 200 werkers het die afgelope ruk intensiewe opleiding in die vereiste gesondheidsprotokolle ontvang en die oord se nasporingstelsel moet só funksioneer dat elke besoeker nagespoor kan word.
Weens al die bykomende maatreëls wat deesdae gevolg word, duur dit nou sowat 25% langer om elke kamer skoon te maak. Oordpersoneel dra maskers (in sommige afdelings maskers én gesigskerms) en daar word van gaste verwag om in gemeenskaplike gedeeltes soos portale ook maskers te dra. Geen werker kan ook die kompleks binnekom as sy temperatuur nie aan die voorgeskrewe riglyne voldoen nie. Die toegangsdeur vir werkers open elektronies, maar nét as ʼn werker die siftingstoets slaag.
Die oord probeer ʼn sogenaamde bio-borrel skep waar besoekers gerus kan wees dat almal wat saam met hulle in die enorme kompleks is, behoorlik vir Covid-19 gesif is. Temperature word elektronies opgeteken wanneer ʼn besoeker die oord binnekom en ontsmettingstasies is oral sigbaar. Indien dit wel nodig sou wees, is isolasiekamers opgestel en behoorlik toegerus om enige noodgevalle te hanteer.
Vir talle Suid-Afrikaners wat nou reeds maande lank in hul huise vasgekluister voel, is die heropening van provinsiale grense ʼn gulde geleentheid om weg breek. Die plaaslike toerismebedryf gaan waarskynlik ook hard woeker om gaste te lok en vakansiegangers is oënskynlik al hoe kieskeuriger oor waar hulle die beste waarde vir geld kry.
Julius Ramotse, gasvryheidsbestuurder by Sun City, sê die afgelope paar maande van afsondering is gebruik om groot instandhoudingswerk te doen en te verseker alles is in tiptoptoestand wanneer die eerste gaste Woensdag aanmeld.
“Mense is op soek na waarde vir geld. Hulle koop ʼn ondervinding. Alle hotelle bedien uiteindelik dieselfde ding, dus moet die ondervinding en diens hier van uitsonderlike gehalte wees,” sê Ramotse.
“Dit gaan ook oor die persepsie van veiligheid. Kinders kan hier veilig rondloop. Jy ry in, parkeer jou motor en klim eers weer terug aan die einde van jou verblyf.”
In hierdie stadium bly die gewilde Valley of the Waves gesluit. Weens die afsonderingsregulasies mag net 50 mense op ʼn keer die fasiliteit gebruik wat dit nie net onprakties maak om te heropen nie, maar volgens Ramotse ook ʼn effense demper op die pret-element daarvan plaas. Sodra die afsonderingsregulasies verder verslap word, sal ʼn besluit oor die heropening van die kamma-strand geneem word. Dagbesoekers word in hierdie stadium ook nog nie toegelaat nie.
Die meeste ander geriewe heropen egter wel. Dit sluit in ʼn die splinternuwe buitelug-trampolienpark, die eerste van sy soort in die land. Streng sosiale afstandhandhawing sal ook hier geld.
Ramotse sê dit is vir besoekers toenemend belangrik dat gesondheidsprotokolle sigbaar gevolg word. Die oord het selfs voor die aanvang van die Covid-19-pandemie reeds streng maatreëls gevolg en dit is nou selfs verder verbeter. In die vyfster The Palace Hotel is die gestyfde tafeldoeke byvoorbeeld vervang met weggooibare plekmatjies. Eetgerei word vooraf verpak en verseël. Kamers word diep skoongemaak en geseël tot ʼn gas dit die eerste keer binnegaan en in die kamers is die meeste items ook in plastiek verseël.
Suid-Afrikaners brand oënskynlik reeds om die pad te vat. By die Sun Vacation Club staan okkupasie vir hierdie naweek reeds op 50% en teen die middel van September is dit reeds 100% vol bespreek. The Palace Hotel is ook reeds 50% vol bespreek vir die langnaweek ná Erfenisdag.
ʼn Gevoel van afwagting het die afgelope paar dae by die oord geheers; amper soos die stilte voor die storm. Daar word afgestof, gesnoei, gepoleer, ontsmet, gevee, gekook, reggetrek. Al wat nou kortkom is die vakansiegangers om – ná maande van stilte – lewe terug in die gewilde oord te blaas.
- Maroela Media se oornagverblyf is moontlik gemaak deur Sun City.
Alles word nou so ontsmet en almal moet maskers dra om tog net nie due virus te kry nie. Môre, oormôre dra mense nie meer maskers nie en dan word hulle onverklaarbaar siek, gewoonlik met ‘n maagkiem. En dan wonder hulle hoekom. Want mense word nou so beskerm teen kieme dat as jou liggaam hom vrek gaan skrik as hy in aanraking kom met’ ‘n kieme. Mens moet weerstand kan bied teen kieme. Ek weier om permanent die ding te dra, al is dit net’ ‘n skerm. Weier om die lap gemors te dra. Sit dit op as ek winkel binne gaan en haal af sodra ek buite is. Moeg vir sinus agv die goed, en ek het myself nog nie een dag in geperk nie. In elke geval, vir hoe lank beplan hulle om met die belaglikheid vol te hou?