Sun City-ontsnapping: Nóg tronkbewaarders onder vergrootglas

Die bewaarders wat in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

Die departement van korrektiewe dienste het gesê drie tronkbewaarders van die sogenaamde Sun City-gevangenis in Johannesburg is geskors nadat 16 gevaarlike verhoorafwagtende gevangenes verlede week daar uit aanhouding ontsnap het.

Dit volg nadat twee tronkbewaarders Donderdag deur die polisie in hegtenis geneem is vir hul beweerde aandeel aan die gewaagde ontsnapping by die Johannesburgse Medium A-tronk.

Die departement het bevestig dat die bewaarders, onderskeidelik 34 en 36 jaar oud, in hegtenis geneem is. Die bewaarders het Vrydag in die Johannesburg-landdroshof verskyn en is op R5 000-borgtog elk vrygelaat op voorwaarde dat hulle weer op 3 Mei in die hof moet wees.

“Ons bevestig ook dat drie bewaarders voorlopig geskors is hangende die uitkoms van ʼn interne ondersoek. Meer beamptes mag geskors word,” het Mocheta Monama, woordvoerder van die departement, gesê.

Thakane Grace Molatedi, die departement se streekskommissaris van Gauteng, het haar teleurstelling oor dié verwikkelinge uitgespreek en gesê dit strook teen die waardes en mandaat van die departement.

“Die departement beskou hierdie bewerings in ʼn baie ernstige lig en daar sal streng opgetree word teen dié wat skuldig bevind word,” het Molatedi gesê.

Maroela Media het vroeër berig 16 verdagtes het op 9 April omstreeks 03:00 uit die gevangenis ontsnap.

Die gevangenes het deur ’n pyptonnel ontsnap en ’n voorwerp gebruik om die muur te breek voordat hulle na die heining beweeg het.

Twee van die 16 ontsnaptes is op 10 April in ʼn skietgeveg in KwaZulu-Natal deur die Valke doodgeskiet. Een van dié oorledenes het tereggestaan vir die moord op Johann Botha (53) wat die aand van 7 Junie 2017 saam met sy goeie vriend, Werner “Swazi” Perchtold (76), die eienaar van die Zebra Inn-restaurant in Jeppestown, Johannesburg, doodgeskiet is.

Botha, ʼn bekende in natuurbewaringskringe en die voormalige uitvoerende regisseur van die natuurprogram 50/50, was ook die aanbieder van Pretoria FM se Sondagaandprogram Nagmusiek.

Dlamini het Vrydag bevestig altesaam vyf ontsnaptes is intussen vasgetrek. Hy het gesê twee verdagtes is in KwaZulu-Natal aangekeer, twee in Gauteng en een in die Oos-Kaap. Die soektog na die nege ander ontsnaptes duur voort.

Mandla Mkabela, waarnemende nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, het Donderdag die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste onder meer oor dié ontsnapping toegespreek.

Volgens hom is 34 korrektiewe beamptes landswyd tydens die 2015/2016-boekjaar aangekla en skuldig bevind aan korrupte aktiwiteite terwyl 118 in dieselfde tydperk afgedank is. Tydens die 2016/2017-boekjaar is 37 beamptes aangekla en skuldig bevind aan korrupsie.

Wyle Johann Botha wat glo deur een van die ontsnaptes vermoor is. Foto: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Ek kan net dink die ongerymdhede en korupsie gepaardgaande met omkopery wat agter daardie mure aangaan
??

Gert ·

Dit is darem snaaks as sekere mense n uniform aantrek dan pleks van daardie uniform respekteer en jou werk doen kom hulle natuur vorentoe en volg hulle n kriminele pad met die voordele wat daarmee gepaardgaan.
??

Gerrit ·

Ek het gelees dat die tronke beheer word deur bendes en nie die tronk bewaarders nie.??

Siener van Melbourne ·

Gerrit, ek dink die bewaarders is ‘n bende op hul eie.

Waarheid ·

Stem saam Gert…..Dít bevestig die gesegde die vere maak NIE die voël maw die UNIFORM maak nie die WARE OPREGTE GEREGSDIENAAR NIE, dankie daar is wel, uitsondering die DADE/etieke optede bevestig die ware regsdienaar. Vertrou die gereg sal bg ampenare NOOIT weer voorreg toe laat om ENIGE uniform te dra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.