Sun City-ontsnapping: Twee tronkbewaarders vasgetrek

Die bewaarders wat in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

Twee tronkbewaarders is Donderdag in hegtenis geneem in verband met die ontsnapping van 16 gevangenes verlede week uit die sogenaamde Sun City-gevangenis in Johannesburg.

Kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng, het gesê speurders het verklarings van verskeie rolspelers afgeneem wat tot die inhegtenisneming van die twee tronkbewaarders by die Johannesburgse Medium A-tronk gelei het.

Die bewaarders, onderskeidelik 34 en 36 jaar oud, is na die Mondeor-polisie se aanhoudingselle geneem en moet binnekort in die Johannesburg-landdroshof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig 16 verdagtes het op 9 April omstreeks 03:00 uit die gevangenis ontsnap.

Volgens Singabakho Nxumalo, ʼn woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het die gevangenes deur ’n pyptonnel ontsnap en ’n voorwerp gebruik om die muur te breek voordat hulle na die heining beweeg het. Dit is nog nie duidelik hoe hulle oor die heining gekom het nie.

Twee van die 16 ontsnaptes is op 10 April in ʼn skietgeveg in KwaZulu-Natal deur die Valke doodgeskiet. Een van dié oorledenes het tereggestaan vir die moord op Johann Botha (53) wat die aand van 7 Junie 2017 saam met sy goeie vriend, Werner “Swazi” Perchtold (76), die eienaar van die Zebra Inn-restaurant in Jeppestown, Johannesburg, doodgeskiet is.

Botha, ʼn bekende in natuurbewaringskringe en die voormalige uitvoerende regisseur van die natuurprogram 50/50, was ook die aanbieder van Pretoria FM se Sondagaandprogram Nagmusiek.

Dlamini het Vrydag bevestig altesaam vyf ontsnaptes is intussen vasgetrek. Hy het gesê twee verdagtes is in KwaZulu-Natal aangekeer, twee in Gauteng en een in die Oos-Kaap. Die soektog na die nege ander ontsnaptes duur voort.

Mandla Mkabela, waarnemende nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, het Donderdag die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste onder meer oor dié ontsnapping toegespreek.

Volgens hom is 34 korrektiewe beamptes landswyd tydens die 2015/2016-boekjaar aangekla en skuldig bevind aan korrupte aktiwiteite terwyl 118 in dieselfde tydperk afgedank is. Tydens die 2016/2017-boekjaar is 37 beamptes aangekla en skuldig bevind aan korrupsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Lana ·

Wat de hel is fout met die mense?! Nou is hulle hul werk kwyt en dit vir ‘n klomp moordenaars en kriminele!! Wonder wie sorg nou vir hul gesinne?!

Ela ·

Ek kan nie minder omgee wat van hulle word nie. Tien teen 1 ook kriminele.

Nettie ·

@Lana – wat sal hulle worry? Hulle gaan maandelank steeds hul salarisse trek, terwyl ‘n ondersoek hangende is, daarna kry hulle (miskien) ‘n ou tikkie oor die vingertjies en word hulle weer in hul poste her-aangestel, en die wêreld is weer “honkey-dorey”. Het enige iemand al gehoor of Arnold Lamoer toe tronk toe is en of Tony Yengeni toe uiteindelik sy tronkstraf klaar uitgedien het?

Lee ·

Niks nuut nie, jy kan hulle omkoop met R10. Kry ordentlike mense om in gevangenis te werk wat nie omkoopbaar is nie. Dit verbaas my gladnie. Welkom in SA

Francois le Cochon ·

Niks in ‘n demokrasie kan seker erger wees as ‘n foto van ‘n staatsdienaar in uniform wat geboei is.

Haibo ·

Ag hulle is almal kop in een mus .. hierdie ‘ontsnappings’ is meestal werk van binne . hulle simpatiseer OF met die kriminele OF hulle kry ‘n geldjie op die sideline .. Birds of a feather.

Genieve ·

Hulle besef nie eintlik wat hulle aan hulle gesinne doen nie..maar n insite job is altyd die beste om ekstra geld te kry..spyt was nog altyd agter die deur.

Tammy ·

Hierdie bewaarders mors ons land se kosbare geld en tyd om misdadigers te laat ontsnap. Vir sulke onbesonne dade moet hulle maar liefs ontslaan word, korrektiewe dienste kry n slegte naam en daar kan na hierdie ontsnappings van korrupsie gepraat word.

Koos de Meyer. ·

Hulle moet self in die tronk gegooi word. Dit is mos kriminele. Kry vir julle.

KP ·

Hulle moet hulle toesluit in die plek van ontsnapte gevangenis tot laaste een gevind en terug in tronk is en hulle dan ontslaan.

Johann ·

Nee rerig? n Inside job? In SA tronke? Nee nooit? Dis mos nou die laaste ding wat mens in hierdie beginsel vaste land sal verwag? Siestog…arme mense, beslis n koloniale ding om hulle te wil keer om n paar rand ekstra te kry… GEKKE PARADYS!!!!!

Conrad ·

Polisie , gevangenis,weermag ,op n tyd die beste in afrika nou die slegste in die wereld ek kan net nie my vinger daarop sit nie maar verstaan nie die verskil tussen nou en die 80 ge jare?
??

Mare ·

Ek weet presies hoekom maar soos die media mag ek nie sê want ons het net op skrif in die sa konstitusie n vryheid van spraak maar dit is net bedoel vir swart om wit te beledig nie anderste om nie
??

SjN ·

Stuur die nuus en foto’s die buiteland in laat hul kan sien wat rommel status beteken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.