Sun City-ontsnapping: Valke skiet twee dood

Argieffoto

Twee van die 16 gevangenes wat Maandag uit ʼn Johannesburgse gevangenis ontsnap het, is Dinsdagaand in ʼn skietgeveg in KwaZulu-Natal deur die Valke doodgeskiet.

Kapt. Simphiwe Mhlongo, provinsiale woordvoerder vir die Valke, het Woensdag aan Maroela Media gesê die skietvoorval het omstreeks 22:30 op die R33 tussen Pietermaritzburg en Greytown plaasgevind.

“Lede van die georganiseerde misdaadeenheid het inligting ontvang oor twee van die gevangenes wat in Johannesburg uit aanhouding ontsnap het. ʼn Spesiale gesamentlike poging deur die Valke, die Durban-polisie se hondeenheid en die provinsiale taakspan is uitgevoer en die lede het die verdagtes se voertuig opgemerk en dit tot stilstand gedwing,” het Mhlongo gesê.

Volgens Mhlongo het die verdagtes op die polisie geskiet. Die polisie het teruggeskiet en albei verdagtes noodlottig gewond.

Die polisie het beslag gelê op ʼn 9mm- en ʼn speelgoedpistool.

Die name van die ontsnaptes mag nog nie bekend gemaak word voordat hul familielede hulle geïdentifiseer het nie.

Mocheta Monama, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het gesê niemand van die oorblywende 14 gevangenes is nog tot dusver in hegtenis geneem nie. “Die Valke hanteer nou die ondersoek en die soektog na die verdagtes duur voort,” het Monama aan Maroela Media gesê.

Die verhoorafwagtende gevangenes het Maandag omstreeks 03:00 uit die Johannesburg- Medium A-tronk, oftewel Sun City, ontsnap.

Volgens Singabakho Nxumalo, nóg ʼn woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het die gevangenes deur ’n pyptonnel ontsnap en ’n voorwerp gebruik om die muur te breek voordat hulle na die heining beweeg het. Dit is nog nie duidelik hoe hulle oor die heining gekom het.

Die ontsnaptes is later geïdentifiseer as Siphiwe Khuma (34) wat teregstaan op aanklag van roof, Thabane Nkosi (34) wat teregstaan op aanklag van roof, Tumelo Mosikoe (32) wat teregstaan op aanklag van huisbraak, Smaga Mtshali (44) wat teregstaan op aanklag van roof, Nkosiyazi Phungula (27) wat teregstaan op aanklag van moord, Ntobeko Hlatshwayo (32) wat teregstaan op aanklag van moord, Sabelo Ongubane (30) wat teregstaan op aanklag van moord, Martin Piliminta (30) wat teregstaan op aanklag van moord, Thabane Gwala (27) wat teregstaan op aanklag van gewapende roof, Percy Matimba Chauke (37) wat teregstaan op aanklag van verkragting, Thambanqa Msezane (23) wat teregstaan op aanklag van verkragting, Hlanganiso Sibanda (29) wat teregstaan op aanklag van verkragting, Nkosinathi Siphesihle Manyoni (23) wat teregstaan op aanklag van moord, Sibonelo Nkosingphile Thwala (24) wat teregstaan op aanklag van moord, Shonela Showe (ouderdom onbekend) wat teregstaan op aanklag van moord, en Mthokozisi Dladla (26) wat teregstaan op aanklag van roof.

Al die ontsnaptes is Suid-Afrikaanse burgers, afgesien van Ongubane, Piliminta en Sibanda, wat volgens die departement immigrante is.

’n Strafregtelike saak is by die polisie aanhangig gemaak en die omstandighede rakende die ontsnapping word nader ondersoek.

Die departement doen ’n beroep op mense wat inligting het oor die voorval of weet waar die ontsnaptes hulle moontlik bevind, om die polisie se Stop Misdaad-hulplyn by 0860 010 111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

christa ·

stadig maak seker sal die boewe uit gewis word. Mooi so Valke

Mrs H ·

Skaars ontsnap en het al klaar weer vuurwapens in besit?! So bly hulle is permanent weg, dankie.

Ronald ·

Grahamstad is baie ver van PMB. Dit het tussen PMB en Greytown gebeur .

Tania Heyns ·

Dagsê Ronald

Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.