Die Sun City-oord naby Rustenburg in Noordwes is oop vir sake na Saterdag se verwoestende haelstorm.
Die bestuur van die oord het Maandag gesê die meeste van die opruimingswerk is voltooi. “Oor die afgelope 48 uur het ons opruimingswerk gedoen om die oord in ʼn behoorlike toestand te kry vir ons gaste sowel as dagbesoekers,” het Raul de Lima, hoofbestuurder van Sun City, gesê.
Volgens De Lima is die Valley of the Waves, restaurante en winkels weer oop vir sake. Hy het gesê daar is uitdagings rakende die inventaris vir die hotelkamers, veral dié van die Soho Hotel by die casino.
By die Soho Hotel is 100 kamers nie beskikbaar nie, 40 by The Cascades en 10 by The Palace. “Vir Vacation Club en The Cabanas kon ons weer kamers beskikbaar stel en ons sal gaste kan akkommodeer wat bespreek het en van vandag af hier aankom.”
Volgens De Lima sal oor die volgende paar dae nog kamers beskikbaar gestel word. Gaste word aangeraai om die besprekingskontaksentrum te skakel om seker te maak hul bespreking is steeds in orde en dat akkommodasie beskikbaar is.
Tshepang Motsekuoa, kommunikasiebestuurder van Sun City, het vroeër gesê die storm het vir sowat 30 minute geduur. Een van die hotelle wat die ergste deurgeloop het, was die Sun Soho-hotel.
Volgens Motsekuoa moet ʼn beraming van die koste nog gedoen word. Die hotel was vol bespreek ten tyde van die storm en terugbetalings sal moontlik gedoen word, sê sy.
Die Gary Player-gholfbaan en die Lost City-gholfbaan was albei Sondag gesluit vir dringende herstelwerk. Kragtoevoer is ook in baie van die hotelle afgesny wat onder meer die roltrappe en Sky Train staties gelaat het.
Niks op aarde kan skynbaar hierdie dobbelhool in sy spore stop nie. Mense kerm en mor oor salarisse en armoede maar sodra ‘n langnaweek aanbreek, dan dreun die bodemlose putte se suigpompe. En nou word daar koorsagtig gewerk om die Kersfeesbonusse ook by te kom. Hoeveel dooies het die pad na die’ droomstad al opgelewer?