Sun City se Cabanas brand

Die Sun City Cabanas-hotel het Saterdagmiddag aan die brand geraak. (Skermskoot van ‘n video deur Eugene Nagel)

Die Sun City Cabanas-hotel was Saterdagmiddag in ʼn rookwolk gehul toe ʼn deel van dié hotel aan die brand geraak het.

Prinses Charlene van Monaco was vanmiddag naby aan dié hotel vir haar stigting se waterfietskompetisie toe die brand uitgebreek het.

Brett Hoppe, bestuurder van Sun City, sê die brand het om 14:30 in die kombuis van hotel uitgebreek.

“Kombuispersoneel het ʼn klein brand opgemerk, wat hulle geblus het, maar dit het reeds deur die ventilasiekanale na die ontvangsarea en kantore versprei,” sê hy.

Sun City se brand- en reddingsdienste was op bystand by ʼn nabygeleë geleentheid, en kon vinnig die brand binne minder as ʼn uur onder beheer bring.

Hoppe sê niemand is in die voorval beseer nie.

“Ons is dankbaar dat ons gaste en personeel ongedeerd van die voorval afgekom het,” sê hy.

“Gaste se verblyf is nie deur die brand geraak nie, maar reëlings is getref dat die Cabanas se gaste van die nabygeleë Sun City-hotel se eetgeriewe gebruik maak.”

Hoppe sê dit is onduidelik wat tot die brand aanleiding gegee het, maar ʼn ondersoek is van stapel gestuur om die oorsaak te bepaal.

Video’s wat op sosiale media gedeel is, wys hoe vakansiegangers ʼn ent van die gebou af staan en kyk hoe die hotel en rook gehul is.

Die sanger Arno Jordaan het op sosiale media gedeel dat hy aan prinses Charlene se stigting se kompetisie deelgeneem het toe die brand ontstaan het.

“Ek is hier by Sun City vir ʼn nice funksie saam met prinses Charlene van Monaco en die Cabanas-hotel het nou net aan die brand geraak.”

Posted by Arno Jordaan on Saturday, September 16, 2023

Plasings op sosiale media dui daarop dat Charlene self by die kompetisie was. Dit is egter nie duidelik of sy in die omgewing was toe die brand ontstaan het nie.

Monaco Tribune het vandeesweek berig dat Charlene na Suid-Afrika gaan reis vir die kompetisie. Die waterfietssport is ʼn bekende sportsoort wat groot sukses in Monaco behaal het. Die kompetisie Saterdag was die eerste van sy soort vir dié sportsoort in Suid-Afrika.

Na verneem word het die brand nie die kompetisie ontwrig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.