Sun International sluit talle persele tydelik

Die Sun City-oord. (Argieffoto: Sun International)

Al Sun International se restaurante en casino’s word tydelik te midde van die derde vlaag Covid-19-infeksies gesluit.

Die groep sê die besluit is in ooreenstemming met die gewysigde vlak 4-regulasies wat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig het in ʼn poging om die nuwe golf te stuit.

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het Maandag boonop aangekondig dat skole nou vroeër sal sluit – alle klasse moet teen Woensdag gestaak word – en weer op 19 Julie sal heropen.

Sommige van Sun International se hotelle en oorde word ook tydelik gesluit. Dit sluit in Sun City en Wild Coast Sun. Die Table Bay-hotel in Kaapstad asook die Boardwalk-hotel in Port Elizabeth bly egter oop.

“Die nuwe regulasies bepaal dat ons casino’s en restaurante sluit, maar gegewe die nuwe beperkings op ontspanningsreise na en van Gauteng, drank en die aandklokreël, gaan ons hotelle en oorde sukkel om bedryf te word. Ons het dus besluit om hulle ook tydelik te sluit,” sê Graham Wood, hoofbedryfsbestuurder van gasvryheid by Sun International.

Wood sê die groep het begrip vir die regering se kommer oor die risiko van oordrag en die behoefte om ʼn verdere styging in infeksies te stuit.

“Die regulasies gaan ʼn egter ʼn verdere negatiewe uitwerking op ons toerismebedryf, die duisende mense wat in diens geneem word en die omliggende plaaslike gemeenskappe hê,” sê Wood.

Hy sê hulle hoop steeds dat sou die ergste van die jongste koronavirusinfeksies oor 14 dae bedaar, hulle hul hotelle en casino’s weer veilig kan heropen.

Bestaande hotelbesprekings vir aankoms tot en met 15 Julie vanjaar kan verander word na ʼn alternatiewe datum vir verblyf teen 30 November vanjaar, of kan kosteloos gekanselleer word. Die groep sê ook alle deposito’s sal terugbetaal word in die geval van kansellasie.

Besprekings by die Sun Vacation-klub kan tot ʼn latere datum uitgestel word, of die tyd kan later gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Mr Wood, jy hoop. Veertien dae is ‘n relatiewe begrip, soos Zuma gaan tronktoe of Ace het gesmelt.

Anel ·

En do breek die regering die hele ekonomie. En meer mense is werkloos, en meer mense gaan stetf van hongetsnood, depressie wat tot selfmoord lei en vele ander oorsake vir sterftes. Maar o, solank virus 19 net die oorsaak kan wees! In 18 maande 60 000. In een jaar 60 000 aan TB alleen! So wat nou.? Wat van al due ander oorsake.? En enige persoon wat gewone verkoue het en toets sal positief toets wat verkoue is ook ‘n variant van corona. Maar nou ja, ons regering voel niks vir die mense van die land nie. Sê maar verder niks nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.