Sunday Times sê jammer, gaan pryse teruggee

Bongani Siqoko, redakteur van die Sunday Times. Foto: Masi Losi

Die Sunday Times het ʼn verskoning uitgereik in verband met sy beriggewing oor Cato Manor se “moordbende”, die Inkomstediens se sogenaamde “rogue unit” en die onwettige deportasie van Zimbabwiërs.

Bongani Siqoko, redakteur van die Sunday Times, het in Sondag se koerant geskryf die redaksie het die afgelope paar weke besin oor ʼn span senior joernaliste se beriggewing oor dié gebeure sedert 2011.

Siqoko het gesê as verslaggewers en redakteurs het hulle ’n etiese en joernalistieke plig om vermoedens van magsmisbruik, beskuldigings van ongeregtighede, en enige ander voorvalle in die openbare belang, te ondersoek.

Siqoko gee egter toe dat “iets iewers skeefgeloop het” in die proses van inligtinginsameling en verslaggewing in verband met die stories.

“Wat duidelik is, is dat ons foute gemaak het en toegelaat het dat ons gemanipuleer word deur mense met verborge motiewe.”

Volgens Siqoko was daar klaarblyklik ʼn “parallelle politieke projek” aan die gang terwyl hulle die stories ondersoek en daaroor berig het. Volgens hom was die doel van die parallelle politieke projek om “ons demokratiese waardes te ondermyn, staatsinstellings te verwoes en individue te verwyder wat as struikelblokke hiervoor beskou is”. Siqoko het erken dat hul beriggewing moontlik vir dié doel gebruik is.

Van die Sunday Times se berigte oor die sake.

“Ons vra om verskoning dat ons toegelaat het dat ons stories misbruik is vir die doel. Was ons bewus van die parallelle politieke projek? Die antwoord is nee. Maar ons moes eers agter die kap van die byl gekom het. Ons moes wag en indringende vrae gevra het. Dit is ons plig as joernaliste. Ons het jou gefaal. Ons het Suid-Afrika gefaal. Ons het diepe berou daaroor.”

Siqoko meen hoewel hulle oor die stories moes berig het, dit met versigtigheid gedoen moes word en hulle bewus moes gewees het van die verborge hand, die manipulasie en die politieke gekonkel.

“Ons moes meer gebalanseerd gewees het in ons beriggewing. Ons moes regverdig gewees het en al die kante gestel het. Ons moes ons bronne meer intens ondervra het.”

Siqoko het gesê hoewel hulle nou om verskoning gevra het vir hul foute, beteken dit nie noodwendig dat hulle in die toekoms sal berig oor enige stories wat deur ‘n parallelle politieke projek besmet word nie.

“Ons sal voortgaan met ons plig om ondersoek in te stel, magsmisbruik te rapporteer en dié in beheer, verantwoordbaar te hou. Ons belowe ekstra waaksaamheid, eerlikheid en versigtigheid.”

Volgens Siqoko sal die Sunday Times die prysgeld en toekennings wat die koerant en joernaliste vir die stories gewen het, teruggee.

Waaroor gaan die berigte:

Genl. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal. Foto: Verskaf

Cato Manor se “moordbende”

Die Sunday Times het in 2011 berig dat Cato Manor-eenheid vir georganiseerde misdaad glo deur genl. Johan Booysen as ʼn “moordbende” vir eie gewin bedryf is. Die koerant het beweer dat lede Cato Manor-eenheid vir ernstige en gewelddadige misdaad glo mense, veral taxi-base, doodgemaak het om finansiële belonings, medaljes en bevorderings te kry.

Die berigte het daartoe gelei dat ʼn groep van 30 mans, insluitend Booysen, in hegtenis geneem is. Die saak sloer egter sedertdien en die klagte teen Booysen is teruggetrek, maar toe weer ingestel. Die saak is verlede week weer uitgestel – dié keer tot 4 Oktober 2019. Drie van die 30 beskuldigdes is reeds oorlede en die oorblywende 27 staan tereg op nagenoeg 118 aanklagte van, onder meer, moord, korrupsie en rampokkery. Die beskuldigdes hou vol die vervolging is ʼn heksejag aangesien hulle hooggeplaastes in KwaZulu-Natal ondersoek het. Die vervolging van die beskuldigdes word in omstredenheid gehul.

Dit blyk nou dat van die Sunday Times se bronne glo self deur die Valke ondersoek is en dat van die foto’s van dooie verdagtes wat deur die koerant gepubliseer is, niks met Cato Manor te doen gehad het nie.

Die “rogue unit” in die Inkomstediens

Pravin Gordhan (22 Februarie 2017) Foto: GCIS

Die Sunday Times het in 2014 en 2015 ʼn reeks artikels gedoen oor ʼn sogenaamde “rogue unit” in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Die koerant het beweer dat die eenheid glo op die been gebring is terwyl Pravin Gordhan, tans minister van openbare ondernemings, die SAID-kommissaris was om na bewering op belastingbetalers te spioeneer. Daar was ook bewerings dat die eenheid ʼn bordeel bedryf het en miljoene rande in ʼn geheime fonds gehou het.

Daar is later bevind dat die stories ongegrond was en die koerant het om verskoning gevra. Die KPMG het in September 2017 sy verslag oor die eenheid herroep. Die firma het sy bevindinge en aanbevelings in die verslag, wat glo gelei het tot die verwydering van verskeie senior SAID-amptenare, onttrek.

Volgens berigte is die narratief rakende die “rogue unit” gebruik as voorwendsel vir Tom Moyane se ingrypende veranderinge. Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër vanjaar ʼn kommissie van ondersoek, onder leiding van afgetrede regter Robert Nugent, aangestel. Die kommissie stel ondersoek in na bedrywighede by die Inkomstediens. Tydens een van die sittings van die kommissie het die voormalige voorsitter van die SAID se direksie erken hulle het ʼn fout gemaak om te dink die eenheid is onwettig geskep.

Die eenheid het onder meer gefokus op aktiwiteite soos onwettige tabakhandel en smokkelary.

Uitlewering van Zimbabwiërs

Lt.genl. Anwa Dramat Foto: Diana Neille, ENCA

Die Sunday Times het in Oktober 2011 berig dat senior beamptes in die Valke en die polisie betrokke is by die inhegtenisneming en onwettige uitlewering van Zimbabwiese burgers en dat hulle dan in hul eie land vermoor word. Twee jaar later word daar beweer dat Anwa Dramat, toe hoof van die Valke, hierby betrokke was. Dramat word in Desember 2014 geskors nadat die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) die jaar tevore kriminele aanklagte teen hom ondersoek het.

Vroeg in 2015 word Dramat se skorsing teruggetrek nadat die Pretoriase hooggeregshof bevind het dat die besluit ongeldig was. Hy het in April 2015 bedank nadat hy ʼn “skikking” met die bestuur van die polisie aangegaan het.

In Februarie 2016 kondig die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aan dat Dramat en twee kollegas, Shadrack Sibiya, die Valke se voormalige hoof in Gauteng, en polisiekaptein Leslie Maluleke vervolg gaan word in verband met die beweerde onwettige uitlewering van Zimbabwiërs in 2010.

Sibiya is in September 2015 uit die Valke afgedank ná ʼn onafhanklike ondersoek hom skuldig bevind het aan wangedrag wat betref die uitlewerings.

Die aanklagte van georganiseerde misdaad, ontvoering, oortreding van die Immigrasiewet en dwarsboming van die gereg teen Dramat en Sibiya is egter verlede week voorlopig laat vaar. Die saak gaan voort teen Maluleke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Siestog! ·

Ek hoop hierdie mense wat se name so deur die modder gesleep is, hulle werk verloor en nog meer dagvaar die rook uit julle uit.

Robert ·

Skaam julle ST, ek hoop die joernaliste gaan hulle werk verloor. Al waarvoor julle an ander koerante bestaan is om sensasie op te wek.

Reti ·

Too little, too late. Wat v hele land wat geraak is deur hul leuens? Wat v mense wat hul werk verloor het? Wat van ons wat hul koerant gelees het omdat mens ‘waarheid’ wou hoor???

Johann ·

So NOG n voorbeeld beeld van onbevoegde, magsbehepte, roekelose, eie gewin, aandag honger “kultuur” van prestasie definisie? Dink net wat hulle met die waarheid kan doen om. die oningeligte ongeskoolde massas te mobiliseer teen die ANC en EFF kaders??????

Skandelik ·

MAAK DIE SUNDAY TIMES TOE .. ‘n verskoning is nie goed genoeg nie, mense se LEWENS is geruineer . .so LIEG julle nog al die pad saam …

Ruiter in Swart ·

Tipies Liberale Media!! Verwoes mense se lewens met leuens en ontkenning van die WAARHEID!

Ellisras ·

Doen vir ons ‘n storie van waar is al hierdie sogenaamde joernaliste. Dit help nie hul spring net na die volgende pos nie. Rook hull uit.

AW ·

I ask of the Maroela Media reader to take time and go and read the ‘editors’ so called “apology”…

What is clear to me, is that the Sunday Times Editors, so called apology, is in fact not an unconditional apology!

Read with understanding, how the ‘editor’, actually justify their ‘Malicious False Reporting’!!!

This is just another practical example how the Sunday Times has directly and indirectly published articals over time, and contrabuted to the Disintegration of effective Law Enforcement and Active Investigations in respect of Organised Crime and Corruption.

Thereby, conveniantly assisting the real criminal elements with in the different levels of Government to escape Accountability and Prosecution.

The Damadge is done,

Mrs H ·

Exactly my thoughts as well. If that is the standard and quality “senior” journalism, we can go without it completely – like a whole in the head! Perhaps the consequences of BE?…

Cobus ·

Dagvaar hul vir groot geld en maak die koerant toe, Die joernaliste was nie onkundig nie want hulle het geweet waar hulle inligting vandaan kom. Daarom het hulle dit nie in diepte ondersoek nie en is tien teen een betaal om vals inligting te versprei. Ons het nie hierdie koerant met sy joernaliste in hierdie land nodig nie want hulle is ook deel van staatskaping.

Johann cb ·

In die proses is ons land en sy mense onberekenbare skade berokken! Ek wonder of daar pogings gaan wees om van die skade te herstel, dit is aan almal verskuldig…

Marietjie ·

Ondersoek sommer ook Boeremag lede wat lank in tronk sit. Wat van “Bird Island”…… Geld is die wortel van alle kwaad!

Sarel ·

Net sensasie word in belang gestel, werklike maar minder sensasie wekkend word nie eens na geluister nie. Julle verskoning is niks werd nie, wat julle gepubliseer bet en hoe deurdag is algemene praktyk . Gelukkig is julle nou uit geloop . Hoop julle verloor julle werk
Die ANC en EFF mag julle dalk indiens neem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.