Sundra-aanval: Drie laat vaar borgtogaansoeke

Chantel Kershaw (44) (Foto: Twitter)

Die drie aangeklaagdes wat tereg staan vir die moord op Chantel Kershaw (44) het Dinsdag in die Delmas-landdroshof in Mpumalanga verskyn.

Kershaw en haar ma, Grieta Spiers (65), is einde September op ’n kleinhoewe digby Sundra oorval.

Die vroue se 40-jarige tuinwerker was glo ook kop in een mus met die aanvallers.

Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Mpumalanga, sê die drie, Reuben Thomas Tivane, Elvis Kenneth Mashego en Themba Moses Masuku, het hul borgtogaansoeke laat vaar.

Die saak is tot 26 November uitgestel vir verdere ondersoek.

Die drie mans staan tereg op aanklagte van moord, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, asook die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Die aanval op die ma en dogter het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur. Honderde boere en lede van die gemeenskap het Dinsdagoggend voor die hof byeengekom.

Die groep mense het omstreeks 07:00 van Sundra na die hof in Delmas beweeg in onder meer bakkies en trekkers.

“Ons harte gaan uit na tannie Grieta wat haar dogter op so wreedaardige manier moes verloor,” het een van die boere buite die hof gesê.

“Wees wakker. Moenie dink so iets kan nie met jou gebeur nie,” sê nog ʼn boer wat aan die samekoms deelgeneem het.

Die groep het voor die hofverrigtinge op hul knieë gegaan en saam gebid.

Honderde boere het Dinsdagoggend voor die hof byeengekom (Foto: Twitter)

Spiers was ook daar om die hofverrigtinge by te woon. Sy het buite die hof die buurtwag bedank wat die betrokke dag van die aanval spoedig op die toneel was.

“Baie dankie vir al die mense wat hier vandag is en saamstaan,” het Spiers gesê.

Kershaw was op 30 September die middag net voor 13:00 besig met haar daaglikse take op die kleinhoewe en het die tuinwerker gevra om haar te help om ʼn grassnyer op haar bakkie te laai. Dit is toe dat sy twee gewapende mans in haar tuin gewaar het.

Die mans het glo die tuinwerker opdrag gegee om sy klere uit te trek voordat hulle hom vasgebind en verder beveel het om op die grond te gaan lê. Die twee mans het Kershaw toe oorval en haar verwurg terwyl sy om hulp probeer skree het.

Die mans het hierna die huis binnegegaan waar hulle Spiers met ʼn vuurwapen aangerand het. Hulle het die huiswerker vasgebind en in die badkamer toegesluit.

Volgens brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het die mans ook van die vroue se besittings op Kershaw se wit Chevrolet LDV-bakkie gelaai en laat spaander. Hulle is onder meer met die grassnyer en ʼn vuurwapen vort.

“Net nadat die mans weg is, het Spiers die plaaslike buurtwag van die aanval in kennis gestel. Die polisie is ook ontbied en het saam met die buurtwag die verdagtes in ʼn jaagtog agternagesit.”

Die mans het met die gesteelde bakkie op die N12 in die rigting van Pretoria gery. Hulle het iewers van die N12 oorbeweeg na die R50. Die man wat die bakkie bestuur het, het op die R50, ongeveer 14 km van die kleinhoewe, beheer oor die voertuig verloor en dit het gerol.

Hlathi sê die mans het uit die gerolde bakkie gekruip en probeer vlug, maar is in hul spore gestuit. Hulle is albei aan die polisie uitgelewer en in hegtenis geneem. ʼn Vuurwapen met ammunisie is in die bakkie gevind en beslag is daarop gelê. Ander items, wat die polisie vermoed aan die vroue behoort, is ook teruggevind. Een van dié items was ʼn baadjie met bloedspatsels op.

Met verloop van die ondersoek het dit aan die lig gekom dat die tuinwerker glo kop in een mus met die aanvallers was en hy is dus ook in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Dit is wat gebeur wanneer ons mense saamstaan! Baie dankie aan julle almal wat daar was. Ons wat nie daar kan wees nie is wel in gees daar. Ons SAL oorwin indien ons so voortgaan.

Blomme ·

Hierdie optrede maak mens bekommerd… Is rassehaat regtig besig om ons land te vernietig? Mens kan regtig nie help om negatief oor ons land se toekoms te voel nie.

Jakes ·

Ek sal liewer nie hieroor kommentaar lewer nie behalwe om die boere te loof vir hul optrede by die hof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.