Sundra-aanval: Drie verdagtes in hof

Die motorhuis waar die vrou se liggaam gekry is (Foto: Verskaf)

Drie verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Delmas-landdroshof verskyn in verband met die aanval op ʼn vrou en haar ma Woensdagmiddag op hul kleinhoewe digby Sundra in Mpumalanga.

Chantel Kershaw (44) is tydens die aanval vermoor.

Die aanval op Kershaw en haar ma, Grieta Spiers (in haar laat 60’s), het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, veral nadat dit aan die lig gekom het dat die vroue se 40-jarige tuinwerker glo kop in een mus met die aanvallers was.

Chantel Kershaw (Foto: Facebook)

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê Kershaw was die Woensdagmiddag net voor 13:00 besig met haar daaglikse take en het die tuinwerker gevra om haar te help om ʼn grassnyer op haar bakkie te laai. Dit is toe dat sy twee gewapende mans in haar tuin gewaar het.

“Die mans het glo die tuinwerker opdrag gegee om sy klere uit te trek voordat hulle hom vasgebind en verder beveel het om op die grond te gaan lê. Die twee mans het Kershaw toe oorval en haar verwurg terwyl sy om hulp probeer skree het.”

Die mans het hierna die huis binnegegaan waar hulle Spiers met ʼn vuurwapen aangerand het. Hulle het die huiswerker vasgebind en in die badkamer toegesluit.

Volgens Hlathi het die mans ook van die vroue se besittings op Kershaw se wit Chevrolet LDV-bakkie gelaai en laat spaander. Hulle is onder meer met die grassnyer en ʼn vuurwapen vort.

“Net ná die mans weg is, het Spiers die plaaslike buurtwag van die aanval in kennis gestel. Die polisie is ook ontbied en het saam met die buurtwag die verdagtes in ʼn jaagtog agternagesit.”

Die mans het die bakkie gerol (FOot: Verskaf)

Marius Müller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, het vroeër aan Maroela Media gesê die mans het met die gesteelde bakkie op die N12 in die rigting van Pretoria gery. Hulle het iewers van die N12 oorbeweeg na die R50.

“Die aanvaller wat die bakkie bestuur het, het op die R50, ongeveer 14 km van die kleinhoewe, beheer oor die voertuig verloor en dit het gerol,” het Müller vertel.

Hlathi sê die mans het uit die gerolde bakkie gekruip en probeer vlug, maar is in hul spore gestuit. Hulle is albei aan die polisie uitgelewer en in hegtenis geneem.

Die polisie het ʼn saak van moord en roof aanhangig gemaak. ʼn Vuurwapen met ammunisie is in die bakkie gevind en op beslag gelê. Ander items, wat die polisie vermoed aan die vroue behoort, is ook teruggevind. Een van dié items was ʼn baadjie met bloedspatsels op.

Met verloop van die ondersoek het dit aan die lig gekom dat die tuinwerker glo kop in een mus met die aanvallers was en hy is dus ook in hegtenis geneem.

Die drie mans staan tereg op aanklagte van moord, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, asook die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Lt.genl. Mondlo Zuma, die provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het die aanval veroordeel en die vinnige inhegtenisneming van die mans verwelkom.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Belinda

Dit is weereens skokkend, mense ly honger en as jy hulle werk gee, dan maak hulle so. Ongelukkig is daar goeie mense ook wat werk soek wat dan nou gaan werkloos bly, ek wil nie ‘n tuinwerker he wat moontlik my moord kan beplan nie, dan moet hy maar vrek van die honger.

daniel

Dit is uiters ooglopend dat hierdie aanvalle merendeels op wittes, n politiek georkestreerde poging is. Iemand betaal of het vergoeding beloof aan hierdie moordenaars

Johan

As jy in vandag se tye nog n tuinier en huishulp het speel jy met jou gesin se lewe. Trek vinger mense of begin selfstandig word of skaal af na iets wat jy kan self diens en nasien. Die met die inslaap hulp en mense wat op jou perseel woon is veral kwesbaar. Jou lewe is in daardie mense se hande. Skrik wakker mense!

Scalla

Inside information, lock down het my laat besef dat ek sonder hulle kan klaarkom.