Supergroepe walvisse weer aan Weskus opgemerk

Foto: Dave Hurwitz/Simon’s Town Boat Company/Facebook

Die departement van omgewingsake, bosbou en visserye is bekommerd oor die beweerde teistering van supergroepe boggelrugwalvisse aan die Suid-Afrikaanse Weskus.

Supergroepe walvisse word gedefinieer as ʼn groep van meer as 20 walvisse wat baie naby aan mekaar beweeg. In van die groepe is daar tot tussen 150 en 200 walvisse. Volgens berigte is daar tans meer as gewoonlik van die supergroepe wat aan die Weskus beweeg en wei.

Volgens die departement het hy inligting ontvang van lede van die publiek dat van die supergroepe deur boot- en hommeltuigoperateurs geteister word. Die areas waar die walvisse wei is ook die areas waar daar baie vaartuie bedrywig is.

Die departement het dus ʼn beroep gedoen op vaartuigmeesters, skippers, toerbootoperateurs, wildfotograwe en -videograwe en ander belangstellendes, soos sonsondergangvaart-operateurs, om die met die nodige omsigtigheid terughoudend op te tree. Lede van die maritieme bedryf, akademici, toegelate operateurs en die publiek word wel aangemoedig om die skouspel te geniet, maar om dit op ʼn verantwoordelike wyse te doen.

Foto: Dave Hurwitz/Simon’s Town Boat Company/Facebook

Wetgewing maak dit duidelik dat niemand nader as 300 m aan ʼn walvis mag beweeg nie tensy hulle in besit van ʼn spesiale permit is. Selfs met ʼn permit moet die veiligheid van mense en die welsyn van die diere prioriteit geniet. Dit is baie moontlik dat die walvisse uit die gebied sal beweeg indien hulle te veel gepla word.

Die departement is steeds besig om inligting in te samel oor die presiese aantal walvisse wat onlangs aan die Weskus opgemerk is, maar volgens voorlopige inligting was daar tussen 150 en 200 walvisse in die grootste groep.

Die supergroepe bring baie tyd naby St. Helenabaai deur en is ook onlangs naby Saldanhabaai gewaar. Die walvisse sal uiteindelik suid na Tafelbaai beweeg.

Foto: Dave Hurwitz/Simon’s Town Boat Company/Facebook

Die departement is sedert 2014 besig met navorsing oor walvisse wat wegbeweeg van hul tradisionele voedingsgebiede in Antarktika. Dit is egter nie ongewoon vir boggelrugwalvisse om in tropiese en subtropiese kuswaters te wei nie. Sedert 2014 word die supergroepe konstant aan die Weskus opgemerk.

Volgens die departement was daar onlangs amper geen of min boggelrugwalvisse in die voedingsareas in die suidwestelike Indiese Oseaan nie en wys dit op die belangrikheid van die voedingsgebiede aan die Weskus in die Atlantiese Oseaan. Daar word nou verdere navorsing gedoen oor die moontlikheid dat die walvisse hulle misgrasiepatrone gewysig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Erika ·

Sommige mense het geen respek vir die natuur nie! Hulle moet beboet word en bote moet sommer weggevat word.

Sarel ·

Dit is jammer dat jy altyd die mense sal kry wat geen respek sal toon nie solank hy/sy
kan kry wat hulle wil. Strenger wetgewing is nodig.

Lodewicus ·

Dalk beter om nie die inligting te publiseer nie , voor die chinese/taiwanese/japanese hulle kom jag. Ons regering laat mos enigiets toe vir omkoopgeld.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.