Supermark-brand: ‘Ons sal herbou’

Jumbo Cash & Carry brand. Foto: Via Intelligence Bureau SA op Facebook.

Jumbo Cash & Carry brand. Foto: Via Intelligence Bureau SA op Facebook.

Die brand by Super Jumbo Cash & Carry in Crown Mines in Johannesburg is geblus, maar brandbestryders is nog op die toneel om dele wat smeul, nat te spuit.

“Die winkel het erge skade opgedoen, waaronder strukturele skade en sal herbou moet word. Ons verwag die winkel sal teen die einde van die jaar heropen word,” het Gordon Letsoalo, woordvoerder van Massmart, die supermark se bedryfsmaatskappy, gesê.

Hy het gesê werkers sal intussen elders in die groep geakkommodeer word.

“Ons is besig om reëlings te tref om ons kliënte deur alternatiewe kanale te bedien. Jumbo Cash & Carry se pakhuis is daarnaby en sal hiervoor ingerig word.”

Die oorsaak van die brand is nog onbekend en sal ondersoek word sodra die gebou veilig verklaar is. Die brandweer, polisie en versekeraars sal die ondersoek behartig.

Die maatskappy het die Johannesburgse brandweer, onder leiding van die waarnemende distrikshoof, Jacque Malan, bedank vir hul “ongelooflike poging” om die brand te blus.

Maroela Media het vroeër berig goedere van omstreeks R100 miljoen het in die slag gebly nadat die brand omstreeks 05:00 by die supermark uitgebreek het.

Alle aandskofpersoneel is veilig ontruim. Niemand is vermis of beseer nie.

Klik hier om foto’s en ʼn video van die brand te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

P. Buizer ·

Die supermarkte het die gewoonte om elke paar jaar af te brand. ‘n Brand is baie makliker om alles daarna op te ruim as om af te breek en opnuuut te begin. “Versekering dek die skade !”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.