SuperSport-aanbieder kort voor program afgedank

Robert Marawa. Foto: Facebook

SuperSport het die TV- en radio-aanbieder Robert Marawa se kontrak beëindig.

Marawa het sowat ʼn uur en ʼn half voor hy Donderdagaand die program Thursday Night Live with Marawa, wat om 20:30 op SS4 uitgesaai word, moes aanbied op Twitter gesê dat hy omstreeks 18:50 ʼn boodskap ontvang het dat hy nie na die ateljee moet kom vir die program se uitsending nie.

“Ek wil graag vir almal wat my reis ondersteun het en vir diegene saam met wie ek by SuperSport gewerk het dankie sê,” lui die twiet.

SuperSport het intussen in ʼn kort verklaring bevestig Marawa se kontrak is beëindig. “SuperSport is besig met ʼn opwindende verandering van sy plaaslike aanbieders wat onthul sal word as deel van ons nuwe sokkerseisoen-veldtog.

“Ons is dankbaar vir sy [Marawa] bydrae oor die jare en wens hom alle sukses toe met sy toekomsplanne.”

Marawa se ondersteuners het hom op Twitter uitgevra oor die beëindiging van sy kontrak waarop hy geantwoord het: “Julle almal sal eendag weet. Dit sal my my lewe kos maar julle sal weet.”

Marawa bied ook ʼn radioprogram by die SAUK aan. Sy paadjie het aanvanklik in Junie 2017 met die SAUK sʼn geskei waarna in Junie verlede jaar aangekondig is dat die SAUK hom terug wil hê en hom ʼn multimiljoenrandse kontrak vir drie jaar aangebied het.

Dit sou glo tot gevolg gehad het dat Marawa die radiosportaanbieder by die SAUK sou wees wat die tweede hoogste betaal word met ʼn maandelikse salaris van R154 000 en ʼn jaarlikse salaris van R1,8 miljoen, het IOL destyds berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johan Maritz ·

Nou weet ons hoekom het SAUK nie geld het nie , kyk wat is sy salaris, ai die soustrein in Sad – Afrika loop ook orals.

Cherokee ·

100 000 vir Jan Taks en 54 000 vir die salaristrekker wat dan nog nie koopbelasting, tolgelde en vermaaklikheidsbelasting betaal het nie.

Pawnee ·

Jou syfers omgekeerd is nie eers waar nie. Hulle word baie liggies belas.

Oujongvrou ·

Hy het gewaag om sy mond oop te maak oor verkeerde dinge by sy werksplek, so moes maar oppak. Ek sien hier kom groot hofsaak teen daai SAUK. En sal reg wees as hy hulle broeke van hulle basse af sue.

Chris Ws ·

Gelukkig kyk ek nie sport nie so hulle kan dit laat aanbied deur wie hulle wil en hom /haar betaal net wat hulle wil.Pla my nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.