
(Foto: Facebook via Derick Hougaard)
Die voormalige Springbok-rugbyspeler Derick Hougaard het Saterdag ʼn Facebook-inskrywing gemaak oor hoekom hy nie meer op SuperSport te sien is nie.
Hougaard was ʼn paneellid op die program Superrugby wat Maandagaande uitgesaai word. Hy is egter nou al geruime tyd nie meer betrokke by dié SuperSport-program nie. Hougaard het in November verlede jaar getwiet oor die negatiewe impak van ʼn kwotastelsel in rugby, nadat die Springbokke 20-18 teen Italië verloor het.
Hougaard het wel ná hierdie twiet om verskoning gevra. Hy het Saterdag op Facebook geskryf sy uitlatings oor kwotas in rugby het hom sy werk by SuperSport gekos. “Ek het kommentaar gelewer oor transformasie [in Suid-Afrikaanse rugby] en die negatiewe impak wat dit op die rugbystrukture kan hê.
“ʼn Minister het vir SuperSport ʼn e-pos gestuur en toe was ek totaal van die televisie verwyder. Ek het nog altyd ʼn redelike opinie en sal staan agter iets wat Suid-Afrikaanse rugby weer wêreldklas sal maak. Dit is ʼn jammerte dat dít my my werk gekos het (sic).”
Hy sê hy het gedink die kwessie sal homself oplos, maar dít was toe nie die geval nie.
“My bedoelings was rein – ek verstaan almal se agtergronde. Maar as jy al vir die beste gespeel het, sien jy niks anders as talent nie.”
Clinton van der Berg, woordvoerder van SuperSport, het gesê Hougaard was nog nooit ʼn werknemer van SuperSport nie.
“Hy was nog altyd net gebruik as ʼn onafhanklike kontrakteur, op ʼn vryskutbasis. Soos met al die SuperSport-vryskutwerkers is die besluit om Derick van die lug af te haal absoluut diskresionêr.”
Oor die bewering dat ʼn minister gekla het oor Derick se uitlating, sê Clinton: “In teenstelling met wat Derick sê, is hy nie van die lug afgehaal as gevolg van ʼn klagte deur ʼn minister nie. Daar was nie so ʼn klagte nie.”
Hougaard sê hy sal wel weer met SuperSport werk in die toekoms.
“Ek is lief vir rugby. Dit sal altyd deel van my lewe wees. My grootste passie is om jong kinders te help deur die uitdagings wat sport meebring. Die werk by SuperSport en om ʼn kommentator te wees kom baie natuurlik vir my. Ek glo met my hele hart dat ek weer deel sal wees van iets groter. Of dit by SuperSport is, óf baie enige ander medium.”
Hougaard sê hy wou sélf op Facebook verduidelik wat gebeur het omdat hy baie vrae daaroor gekry het en omdat hy bang was sy woorde sal uit konteks gehaal word.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
24 Kommentare
Yip klink reg en die Guptas weet ook niks van al die e posse wat hulle gestuur het nie.
Ons lewe in die tyd van ontkennings omdat mense aan waarheidsfobia ly en enige iets doen om die waarheid in die oe te kyk nie al kom die verskoning dat Dereck Hougaard nooit formeel ‘n werknemer was by Supersport nie en die betrokke minister beskerm sal word ter wille van politieke korrektheid.
Dit is so hoekom verskoning vra die spelers word gekies op velkleur en nie meriete nie .
Mens kan maar net kyk wie is die hoof van MultiChoice om te weet waarom Hougaard skielik net GEBRUIK was deur supersport.Vermy hulle Derick,jy’s baie meer werd as wat supersport ooit sal wees.
Jammer om te hoor