‘SuperSport’-rugbykommentator steeds kritiek  

Ethienne Reynecke. Foto: Twitter

Dit gaan “ʼn bietjie beter” met Ethienne Reynecke (36), rugbykommentator vir SuperSport en voormalige Leeus-haker nadat hy ʼn beroerte gehad het en daar ʼn bloedklont in sy brein opgemerk is.

Ethienne Reynecke sr. het gesê sy seun was Donderdag in die gimnasium waarna hy huis toe is. Hy het ʼn bietjie gaan slaap en toe hy wakker word, het hy niemand om hom herken nie. Sy vrou het met hom na ʼn hospitaal gejaag waar daar breinskanderings gedoen is.

“Dit is toe dat hulle gesien het dat hy ʼn beroerte gehad het en dat daar ʼn bloedklont op sy brein is. Hy was aanvanklik in die waakeenheid, maar is intussen na die neurologiese afdeling oorgeplaas.” Sy toestand is egter steeds kritiek.

Volgens Reynecke sr. word sy seun onder verdowing gehou, maar is hy nou en dan wakker. “Hy het ons in ʼn stadium glad nie herken nie, maar hy kon gister sy een dogtertjie se naam onthou.

“Dit is darem ʼn ligpunt. Al wat ons nou kan doen is wag en kyk. Die bloedklont moet of oplos of dit kan noodlottig wees. Dit is senutergend om in dié stadium net te wag.”

Hy het gesê sy seun is op medikasie vir die bloedklont en dat dit tussen sewe en tien dae sal neem om te sien of die medikasie effektief is. “Die voorste regterlob van sy brein het skade gekry. Dié deel beheer jou emosies en onderdruk aggressie. Hy is so sterk soos ʼn bees en dit is hoekom hulle hom ook onder verdowing hou, weens die aggressie.”

Volgens Reynecke sr. woon sy seun se vrou en twee dogtertjies in Durban en pendel sy seun tussen Johannesburg en Durban vir werk.

Reynecke jr. is tans ʼn Afrikaanse rugbykommentator op SuperSport. Hy bied ook Maandae saam met Kobus Wiese die program SuperRugby aan. “SuperSport is verskriklik goed vir ons en die ondersteuning is ongelooflik. Kobus-hulle gee ook vir ons baie ondersteuning.”

Reynecke het ook vir die Stormers en die Cheetahs gespeel en vir Connacht in Ierland en Saracens in Engeland uitgedraf.

Reynecke het ná sy uittrede uit rugby op sy ander belangstelling, gemengde vegkuns, begin fokus.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ai ·

Dis hartseer hy, is nog so jonk, ons lewe is maar nie in ons hande nie.

Leon ·

So jammer om dit te hoor. Sterkte vir die hele familie met die totale herstelproses, wat ons glo die resultaat van so ‘n jong man sal wees!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.