‘Superster’ sterk aan ná ongeluk

Shaun Tait ná hy Supersterre gewen het.

Die sanger Shaun Tait wat die talentprogram Supersterre op 14-jarige ouderdom gewen het, sterk aan na ʼn motorongeluk Maandagmiddag.

Louis van den Berg, Tait se bestuurder, het gesê die ongeluk het in die Milnerton-omgewing, net buite Kaapstad, plaasgevind.

“Tait was by sy kerk, Planetshakers, die middag waarna hy op pad huis toe was toe die ongeluk plaasgevind het. Hy het ernstige harsingskudding opgedoen en ook twee ribbes gebreek. Hy kan niks van die voorval onthou nie,” het Van den Berg gesê.

Van den Berg het gesê Tait sterk tans in ʼn hospitaal aan.

“Hy sê net hy is bly dat niemand anders beseer is nie. Daar was wel ʼn ander motor betrokke, maar die bestuurder het geen beserings opgedoen nie.”

Tait het gesê die ergste vir hom is dat hy niks kan onthou nie.

Owerhede ondersoek omstandighede rakende die ongeluk.

Tait het in 2004 oornag bekend geraak toe hy aan Patricia Lewis se talentprogram, Supersterre, deelgeneem en gewen het. Hy was ʼn paar jaar uit die musiekbedryf en het in 2017 weer begin optree. Sy jongste enkelsnit, “Crazy for You”, is onlangs uitgereik.

Shaun Tait (2017). Foto: Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Thea ·

Sterkte Shaun!

Kan MM asb bietjie opvolg en laat weet wat was die uitkoms nadat Patricia die laaste show se wenners en beoordeelaars nie al die borgskappe kon oorgee nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.