Supra maak glo plek vir Mokgoro

Supra Mahumapelo. Foto: ANA

Supra Mahumapelo het glo as lid van die Noordwes- provinsiale wetgewer bedank om plek te maak vir Job Mokgoro om tot premier van die provinsie verkies en ingehuldig te word.

Verskeie media berig Mahumapelo het afstand gedoen van sy posisie in die provinsiale wetgewer sodat Mokgoro Donderdagaand as lid van die wetgewer ingehuldig kon word. Mokgoro moet ʼn lid van die provinsiale wetgewer wees om as premier verkies te kan word.

Wessels Morweng, woordvoerder van die provinsiale wetgewer, wou egter nie Vrydagoggend dié berigte aan Maroela Media ontken of bevestig nie. “In dié stadium kan ek net sê ons sal binnekort ʼn verklaring oor die saak uitreik,” het Morweng gesê.

Intussen word wyd verwag dat Mokgoro vandag as die nuwe premier van die sukkelende provinsie ingehuldig sal word. Dit kom nadat Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal, Donderdag aangekondig het dat die 70-jarige Mokgoro die party se premierskandidaat is om Mahumapelo op te volg.

Mahumapelo het verlede maand as premier van Noordwes bedank en tot vroeë aftrede ingewillig. Weke lange gewelddadige betogings van inwoners in die provinsie wat sy bedanking geëis het, het dié stap voorafgegaan. Die nasionale regering het ook Noordwes onder administrasie geplaas.

Mokgoro se aanwysing as premierskandidaat is deur verskeie organisasies verwelkom, en hy is onder meer bestempel as ʼn “beproefde en bewese administrateur”. Mokgoro is die voormalige direkteur-generaal (DG) van Noordwes en was glo ʼn baie streng DG tydens sy termyn. Volgens mediaberigte het hy na bewering selfs op Vrydagmiddae op en af in die kantoor se gange gestap om seker te maak dat personeel nie vroeër wegglip vir die naweek nie.

Job Mokgoro (Foto: ANA)

Die EFF het egter uitgevaar oor dié besluit van die ANC en in ʼn verklaring gesê daar is “letterlik en figuurlik niks nuuts aan hierdie aanstelling nie”.

“Die ANC is besig om onbeskaamd sy leierskap te herwin en gebruik selfs ʼn pensioenaris om ʼn amp te vul wat ʼn noodsaaklike en veeleisende posisie is en iemand met jeugdige krag verg. Hierdie besluit is ongetwyfeld oorhaastig geneem omdat die ANC die Grondwet oortree het deur Wendy Nelson toe te laat om die rol van die premier te vervul sonder dat sy ingehuldig is,” lui die verklaring.

Die EFF het verder gesê Mokgoro se aanwysings as premierskandidaat is aanduidend daarvan dat daar niemand binne die ANC is wat die kapasiteit het en korrupsie-vry is om belangrike politieke ampte te beklee nie. “Die EFF verwerp hierdie aanstelling en doen ʼn beroep op die president om die mense te respekteer en vir hulle ʼn leier te gee wat vinnig en genoegsaam die skade wat deur Supra Mahumapelo aangerig is, te kan herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.