Suretha ‘praat bog’ oor Leon

Leon en Suretha Brits (Foto: Verskaf)

“Dit is alles bog.”

Só het ʼn bron wat jare lank baie na aan die Brits-gesin was Dinsdag aan Maroela Media gesê oor bewerings in Suretha Brits se pleitooreenkoms dat Leon besitlik, jaloers en manipulerend was. Die pleitooreenkoms is ter strafversagting voorgehou nadat Suretha skuld aan die moord op haar man beken het.

“Suretha was eerder die manipulerende een. Leon was ʼn liefdevolle man en pa wat nooit sy hand vir enigiemand sou lig nie.”

Dié uiters betroubare bron wil nie haar naam genoem hê nie, aangesien sy bang is Suretha kom haar óók by. Sy ken egter vir Leon, Suretha en die kinders jare lank en was selfs al op ʼn keer saam met die gesin met vakansie.

In ʼn pleitooreenkoms wat Maandag in die hof in Upington voorgelees is, het Suretha beweer Leon het haar jare lank mishandel en haar op 15 jaar oud gedwing om ʼn aborsie te kry. Hy het ook glo, nes Suretha, verskeie skelmpies gehad. Sy persoonlikheid sou glo handomkeer verander wanneer hulle by ander mense was.

Maar dit is nie hoe dié inwoner van Pofadder en naby vriend van die gesin vir Leon onthou nie.

“Sy [Suretha] probeer net haarself uit die moeilikheid kry. Leon het nie ʼn skelmpie gehad, soos Suretha beweer nie. Die ding oor die aborsie is ook nonsens. Ek glo dit nie.”

Die bron sê voorts dit is net Suretha wat ʼn klomp skelmpies gehad het. “Sy het nie veel erg aan die kinders gehad nie. Sy was baie gesteld op hoe sy lyk en met watter kar sy ry. Sy het gedurig oor naweke in Kakamas gaan kuier en dan sou Leon tuis by die kinders bly.”

Geliefde werkgewer

‘n Foto van Leon Brits in die Pofadder Hotel, ter nagedagtenis aan die voormalige eienaar. (Foto: Anja van der Merwe)

Leon het ná matriek aan die Hoërskool Boesmanland by die Pofadder Hotel begin werk – wat in daardie stadium aan sy ouers behoort het. Leon se ouers was ook gesiene sakelui op die dorp en Leon het tot sy dood ander ondernemings op die dorp bedryf, waaronder die plaaslike drankwinkel en selfsorg-chalets.

Personeellede wat al jare lank by die Pofadder Hotel werk, het met groot lof van Leon as werkgewer gepraat en vertel hy het altyd veel meer as sy plig vir hulle gedoen. Hulle spog ook oor die harde werk wat hy in die hotel ingesit het. Die hotel was sy trots.

In van die personeellede se oë sit die trane nog vlak terwyl hulle oor hul “geliefde baas” praat.

“Leon was soos my broer, iemand wat God oor my pad gestuur het. Wat ek vandag is en het, is als te danke aan hom,” vertel een werknemer, met trane wat oor haar wange stroom. Sy werk al die afgelope agt jaar by die hotel, maar wil nie haar naam noem nie aangesien sy moontlik later as getuie vir die staat geroep sal word.

“Ek het die oggend van Leon se dood nog met hom by die hotel gesels. Ek het nie besef dit sou die laaste keer wees dat ek hom ooit sou sien nie … Ek verstaan nie waarom al hierdie slegte dinge moes gebeur nie.”

Volgens die personeellede het Leon die nodige geleenthede vir hulle gegee om in hul werk te ontwikkel. Hulle beskryf hom as hul mentor.

“As jy by die hotel uitstap, dan weet die dorpsmense jy kan goeie werk doen, want jy kom van Leon af,” vertel ʼn personeellid.

ʼn Ander personeellid sê hulle probeer steeds Leon se naam in die hotel hoog hou ondanks sy afwesigheid. Die hotel word nou deur ʼn nuwe eienaar bedryf en volgens dié vaar hulle heel goed.

Ná Leon se dood het die personeel onder Suretha se leiding gewerk en volgens hulle het sy hulle ook mooi hanteer. Hulle beskryf haar as ʼn vriendelike mens met goeie Christelike waardes. Van hulle sê hul harte is seer dat sy skuldig bevind is aan Leon se moord.

“Ons het dit nie verwag nie, dit was ʼn groot skok,” vertel een van die personeellede.

Suretha is 25 jaar tronk toe gestuur vir Leon se moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

50 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Ja, hier op aarde kan mens lieg en bedrieg, maar eendag is eendag in die hiernamaals….

Misky ·

Dit maak mens so kwaad as jy hoor van werkers en nabye vriende wat so goed van hom praat. Dan kry jy 180 grade die teenoorgestelde van sy vrou en ma van sy kinders, wat lief moes wees vir hom – sy beswadder en probeer sy naam sleg maak. Sies, sies, sies!!!!!

Kyk maar eers na die balk in jou eie oog ·

ń Moordenaar wat in ń onmoontlike posisies was waar jy nog nooit in jou lewe was nie. Dit bly die probleem hier. Hulle praat goed van haar soos wat hulle van hom praat. Omdat hy ń gesiene MAN was as die anders om was waar sy die een wat vermis was of dood was en dit kom uit dat dit hy was, sou dit presies dieselle wees. Jy ken nooit als van n persoon nie definitief nie van n slim man soos hy met baie om te verloor as so iets moes uit kom nie. Jy weet ook nie wat agter die deure van sy huis gebeur het nie. Ted Bundy is een van die bekendste reeksmoordenaars en tog het hy vir so lank weg gekom met dit omdat hy so charismaties en vriendelik voorgegee het en niemand kon glo dis hy nie.

MK123 ·

Misky, ek verstaan wat jy se, maar ek is versigtig om kant te kies in hierdie saak. My ex man was net so manipulerende en vieslike man soos wat Suretha vir Leon beskryf, hy het my gedreig, gewurg, probeer dwing om aborsie te kry en het my gereeld verneuk, en tog dink sy kollegas en naby huisvriende hy is so wonderlik. Sulke mense het ‘n manier om daardie lelike deel baie goed weg te steek vir die wereld, maar hulle maat weet presies wie en wat hulle werklik is. En juis omdat dit so goed weggesteek word, glo niemand jou wanneer jy daaroor kla nie, hulle dink jy is suur druiwe. Die hartseer is dat ‘n mens dan moed opgee om die waarheid te laat geskied, jy gaan net stilletjies aan met jou lewe (as jy gelukkig genoeg is om dit lewend daar uit te maak soos ek) en daardie persoon kom weg met alles.

anniekiewiet ·

En nog steeds kry jy n afduimpie. Ek hoop daai mense wat ons nie glo nie, beland nooit eendag in so n persoon se mag nie. Dankie dat jy ook jou storie gee.

Wonder ·

Ek stem ek was ook al daar, niemand sal weet tot hullself daardeur is nie, ek wens dit vir niemand toe nie!!!

Cindy ·

MK123, ek self het al stel afgetrap met so man, en selfs vriende verloor na ek uiteindelik geskei het, maar hier is die verskil – nie ek of jy het ons (ex)man doodgemaak (na 2 jaar se fyn beplanning) en toe vertel hoe sleg ons behandel is nie..

MK123 ·

Cindy, jy is reg, ons het nie. Maar ek het wel my kind verloor in die proses omdat hy so goed vir die hof kon lieg en hy uiteindelik toesig oor my kind gekry het. Baie vrouens sien nie kans om deur daardie hofstryd en verlies te gaan nie, en ek verstaan dit heeltemal want om met daardie smart saam te leef en toe sien hoe so man weg kom daarmee, is net so erg soos om tronk toe te gaan.

Snowball ·

Ja wel, glad nie verbaas hieroor nie, dit bevestig eenvoudig die ongemaklike gevoel wat die beswaddering van haar vermoorde eggenoot by ‘n mens veroorsaak het. Al gaan die leuen hoe snel die waarheid agterhaal hom wel.

Swerwer ·

Dit is en bly verskriklik dat so baie mense se lewens geraak word deur een sinnelose moord.

Ek kan ·

“Suretha is lewenslank tronk toe gestuur vir Leon se moord.” Vroëer was berig dat sy vir 25 jaar tronk toe gestuur is.

Natasha ·

In SA is 25 jaar lewenslank tronkstraf tydperk. Dit verskil van land tot land

Zombie ·

In SA is 25 jaar mos gelykstaande aan lewenslank. Dit is al hoe lank so. Gedink almal weet dit.

Perdeby ·

Sy het 25 jaar gekry en dit is maar soos lewenslank hulle het nie gesê of sy na ‘n sekere tydkan parool kry nie.

Perdeby ·

Sy het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan, daarom die 25 jaar.

Alma ·

Daar is ‘n verskil, ek het ook nie verstaan nie, en het toe maar gaan oplees. As jy 25 jaar kry kan jy na ‘n sekere tyd parool kry, so dan kan jy bv na 12 jaar uitkom, maar as jy lewenslank gekry het, moet jy eers die 25 jaar sit voor jy in aanmerking vir parool kan kom.

Waarnemer ·

Moenie worry nie,sy sal nie lewenslank sit nie,sy moet net maak of sy terminaal siek is dan gaan speel sy gholf saam met Shabir en Jacob.

Aai ·

As jy weet jou tyd raak op raak ‘n mens maar beter met mense ne Suretha?

Estelle ·

Ja, so het elke saak drie kante: joune, myne en die waarheid

nikkel ·

Skuldig is sy skuldig en niks kan dit verander nie.

Meeste mense gaan negatief teenoor haar reageer.
Barry Roux insinueer dat daar ‘n seksuele verhouding tussen haar en haar man was terwyl sy ‘n minderjarige was. Dat sy ook buitengewoon bederf was deur hom en dat haar pa vroeg oorlede is en haar familie finansieel swaargekry het.

Dit is dalk so dat die verdediging haar man verdag sal probeer maak om haar saak beter te laat lyk.

As daar “grooming” was om haar as minderjarige te kon misbruik, wonder mens hoe dit haar oordeel beinvloed het in terme van wat sy gedink het, sy mee kan wegkom.

Terwyl baie mense nie van bogenoemde kommentaar sal hou nie, dink maar aan hoe jy sal voel as ‘n 25 jarige man met jou 15 jarige dogter so ‘n verhouding sou hê.

Dit gee haar egter nie die reg om haar man te laat vermoor het nie.

Mens wonder maar net oor ‘n sprokie wat sleg verkeerd geloop het

anniekiewiet ·

Die moord sal nooit goedgepraat kan word nie, maar die klippe wat hier gegooi word deur almal wat nooit n psigopaat se jaloesie en wrede kant ervaar het nie, is erg. Mag julle en jul kinders nooit in so iemand se strikke beland nie. Geen slagoffer kan dit sy/haar ergste vyand toewens nie.

Net weer, ek praat nie moord goed nie, probeer ook nie sê sy is n slagoffer gewees nie want ek ken haar nie. Tog wonder ek of sy so gedwee sou wees as sý die manipulerende een was. Weer: ek weet nie. Ek vra net begrip in die algemeen.

nikkel ·

Hierdie oënskynlike sprokie wat in ‘n nagmerrie geëindig het klink nie vir my reg nie. Vir my lyk dit of hy hierdie monster help skep het. Hierdie gebeur ook agter geslote deure en sogenaamde naby kennisse weet soms nie self wat aangaan nie.
Net soos gesê kan word dan hy nie hier is om homself te teen leuns teverdedig nie, kan enige iets wat hy werklik gedoen het in twyfel getrek word.
Die wyse waarop hulle verhouding aanvanklik begin het laat mens wonder. Volwasse man met ‘n minderjare kind? Tensy dit absoluut weerlê kan word, gaan hierdie krakie twyfel in mens se gemoed veroorsaak.

Nietemin is sy steeds skuldig aan moord en dit is verkeerd.

anniekiewiet ·

Niemand het nog hierdie inligting van hulle verhouding se begin, weerlê nie. So eintlik weet niemand wat regtig aangegaan het nie. Snaaks dat almal so slim is oor hul latere verhouding.

Shakespeare ·

Jammer Suretha, die waarheid kom altyd uit
( behalwe met Zuma en kie) Jy is skuldig poppie al het ek jou verdedig.

anniekiewiet ·

Skuldig aan moord ja, maar niemand kan die waarheid of leuens in haar storie bevestig nie.

JohanR ·

Jy kan lekker bog praat en die persoon se naam gat maak NA hulle weg is. HULLE is nie meer daar om hulself te verdedig nie. Kyk deur die vrou se lewe dan sien jy sy is ook nie ‘n engeltjie. Hoe veel minnars het sy nie gehad, en dit IN die tyd dat sy met Leon getroud was. Gaan dien nou jou tyd uit. Hopelik sal al die minnars nog vir jou wag waaneer jy uitkom.

anniekiewiet ·

Iemand manipulerend en hard, erken selde hul skuld aan so n wrede misdaad. Ek sal altyd wonder.

Zombie ·

Smartie, ja hy het. En hy het ook verskeie sogenaamde hoë-profiel sake gewen. Lees gerus bietjie wyer en dan sal jy ook weet.

MK123 ·

Martie, laat ek dit so stel… Barry het nog nooit ‘n saak verloor nie. Kliente verloor hul eie sake, want die feite hang nie af van Barry of enige ander regsverteenwoordiger nie.

Kyk maar eers na die balk in jou eie oog ·

Dis vir my so ironies. Mense wat hier kan oordeel en klippe gooi. Kamstige “UITERSE BETROUBARE” familie bron wat bewerings kan maak en ń hoogs subjektiewe artikel daarna volg deur die joernalis. Eerstens is Suid-Afrika een van die lande met die hoogste syfers vir geslagsgebaseerde geweld en meerderheid daarvan is van intieme partners. Nes die personeel wat onder haar werk haar kon sien in publiek en by die werk as ń mens met ń goeie hart wat Chritelike waardes het, net so is almal in die kommentaar en die wat kamstig hulle ken van mening dis hoe Leon was. Mense kan jou laat sien wat hulle wil he jy moet sien, en ń slim besigheidsman wat in ń dorp bly waar almal jou ken gaan definitief als in jou vermoë doen om seker te maak dit bly so.

Hoeveel vroue word aangerand en verkrag en is altyd maar te bang om iets te se, of daaroor te praat want wat van die kinders of hy sal iets aan my doen of kyk wie is hy en almal ken hom niemand sal my glo nie en hier bewys julle presies dit!

Alma ·

En het jy hulle geken, is jy dalk ‘n “uiterse betroubare” bron. Mans is nie altyd die vuilgoed en die vrouens altyd die engeltjies nie. Hoeveel goeie opregte mans beland in die tronk want die vrouens LIEG oor hulle. Mens kan ook nie net almal oor dieselfde kam skeer nie.

anniekiewiet ·

Ja, jou laaste woorde sê presies wat enige van ons wat weet van swaarkry, vrees.

Kyk maar eers na die balk in jou eie oog ·

Nog ń feit, Ted Bundy was een van die mees charismaties en vriendelikste mans en gelyktydig ook een van die bekendste reeksmoordenaars. Vir jare het elke Jan en San wat hom geken het gedink hy is die wereld se beste ding. Psigopate is die beste manipuleerders.

anniekiewiet ·

Van ons lesers wat dieselfde paadjie met psigopate loop of gehad het, verstaan dit. Dis net die volmaakste kommentators wat aanmekaar veroordeel en vertel mens kan skei ens. Hulle weier om te glo hoe iemand dekades lank terselfdertyd charismaties buitenshuis, maar n monster agter toe deure kan wees.

Ek sê gladnie sy is skuldig/onskuldig nie. Dit maak my net seer dat, sou my naaste vriende geweet het wat aangaan, ek seker ook veroordeel en as skuldig vir sy dade uitgekryt word.

anniekiewiet ·

Ek is erg dankbaar hierdie afduimpie persone is nie my vriende nie. Mag hulle my en ander se ervarings gespaar word. Want as hulle so volmaak kan leef om te oordeel, mag hul dalk in soortgelyke omstandighede baie erger kop verloor. Sterkte aan daai een wat dit onverwags dalk oorkom. Daardie dag gaan jy van hier onthou.

Zombie ·

Onthou, baie van die kommentators tree op asof hulle alwetend is. Jy gaan hulle nie sommer oortuignie. Gaan kyk bietjie na kommentare wat feitelik korrek gestel word en hoeveel afduime kry hulle. Wat sê dit van ons?

miavos ·

Wat binne ‘n huis se vier mure gebeur is selde of ooit bekend aan selfs nabye vriende en familielede. Maar hoekom moord kies as ‘oplossing’??

Petrus Albertus ·

Ek vind die hele saak uiters tragies. Wat word van hulle kinders?

Annelize ·

Ek glo ook sy praat bog, twak, snert, strooi noem dit wat jy wil. Asof dit nie genoeg is dat sy hom wreed laat vermoor het nie, loop sy hom nou en beswadder. Ek lees volgens ‘n ander berig is hierdie vrou reabiliteerbaar, I beg to differ.

Zombie ·

Op grond waarvan maak jy jou bevinding? Is jy ń kenner of voel jy maar net sommer so of het jou ouma jou dit in die linkeroor gefluister?

Monique ·

Ek sê glad nie sy praat die waarheid nie, maar my ma was in so tipe huwelik waar haar eks man haar geslaan het en verbaal mishandel het, maar voor familie en vriende was hy die engeltjie vanself. Hulle het haar nie geglo toe sy vertel wat gaan agter geslote deure aan nie en het haar uitgekryt as ‘n leuenaar. Hy het sy streke net een keer laat glip toe hy gedink het ek slaap toe ek by hulle gekuier het en dis hoe ek weet my ma het die waarheid gepraat. Ek het glad nie die man daardie aand herken nie, want ek en al die familie bet hom geken as die gaafste en beste man waarvoor ‘n vrou kon vra. So dit is moontlik dat so iets kan gebeur.

anniekiewiet ·

Dankie vir jou woorde. Ek sien hierdie debat sou ewig kon aanhou, want al die goeie mense hier bewys presies waarom mense wat mishandel word, stilbly en tot ander uiterstes oorgaan: hulle word nooit geglo nie.

Waarnemer ·

Leon is nie meer daar om homself te verdedig nie…moord is moord ongeag wat die omstandighede was…Suretha kon weg gestap het uit die verhouding uit…ek se gee haar die tou,of elektriese stoel of gas.

anniekiewiet ·

Waarnemer, jy is so reg, so presies in jou klipgooi. Ek sê weer, ek weet nie of sy lieg of nié, maar wat ek wel weet is dat ander wat al probeer het om te skei, of weg te breek uit so ‘n verhouding, agterna gesit is en selfs vermoor is, soms saam met hulle kinders. En nog sou die psigopaat geglo word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.