‘Survivor SA’: Eerste deelnemer se vuur geblus

Jason Brookstein. (Foto: M-Net)

Die seisoenpremière van Survivor South Africa: Immunity Island het Donderdagaand met ʼn knal op M-Net afgeskop met ʼn vuurmaakuitdaging, ʼn strawwe immuniteitsuitdaging en ʼn vuurwarm stamvergadering.

Altesaam 20 deelnemers het Donderdagaand op die strand van die Suid-Afrikaanse Wildekus aangeland om mee te ding om die prysgeld van R1 miljoen en die titel van Sole Survivor.

Die uitdaging vind oor 39 dae plaas en Nico Panagio is oudergewoonte die aanbieder van die program.

Die eerste deelnemer wat uitgestem is, is heeltemal onkant gevang. Jason Brookstein (27), ʼn strukturele ingenieurstekenaar, se Survivor-vlam is eerste geblus.

Brookstein het die vuurmaakuitdaging verloor, wat die Zamba-stam uiteindelik die immuniteitsbeeldjie gekos het en die Vuna-stam ʼn vuurmaakstel besorg het.

Brookstein het aan Maroela Media gesê dit was ʼn voorreg om deel te kon wees van die program, al was dit nie in sy beplanning om eerste die eiland te verlaat nie.

“Wanneer jy aan iets soos Survivor deelneem, moet jy heeltemal toegewyd wees aan die spel. Ek pak my alledaagse lewe ook met uiterse toewyding aan en is nie gewoond daaraan om te verloor of laaste te kom nie.

“Ek het ʼn ander kant van myself leer ken en dit was ʼn wonderlike ervaring. Dit is ʼn gemengde gevoel om eerste uitgestem te word, maar ek geniet alles wat saam met die ondervinding gepaard gaan.”

Hy beskryf homself as “Tarzan” en sê dat hy baie tyd in die buitelug en in die natuur deurbring. “Ek het by die kamp floreer en was in my element.”

Nico Panagio op die eerste stamvergadering van die seisoen. (Foto: M-Net)

Volgens Brookstein het hy nie beplan om reeds uit die staanspoor só hard te speel nie, maar dat die aard van die gesprekke wat op die eerste dag reeds plaasgevind het hom genoop het om sy strategie te verander.

“Ek het die situasie verkeerd gelees en moes stiller gebly het en meer geluister het. Die pas van die dag was egter so vinnig en uiteindelik, wanneer jy jou span ʼn immuniteitsuitdaging kos, moet jy jouself verdedig.”

Hy wou graag aan die program deelneem omdat hy in sy alledaagse lewe ʼn berekende persoon is wat strategies te werk gaan. “Dit was nog altyd ʼn groot droom, en toe die geleentheid homself voordoen het ek aanhou inskryf tot ek deurgedring het.”

Volgens Brookstein moes hy homself gereeld op die program knyp. “Ek het elke kort-kort myself gevang glimlag oor die feit dat ek werklik op die stel van Survivor SA is. Dit is onwerklik.”

Survivor South Africa: Immunity Island is Donderdae om 20:00 te sien op M-Net (DStv-kanaal 101).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Het ek iets gemis! Het nie eers geweet van ‘n Survivor – SA nie. Weet net dit is wat boere in SA elke dag moet down – survive!

SomeOne

daar is ‘n paar woorde wat ook op ‘n paar plekke en baie daarvan is in die Bybel, luister aandagtig voordat jy praat (Spk 13:2 – Wie sy mond bewaak, bewaar sy lewe; wie sy lippe wyd oopmaak, vir hom is daar ondergang)