‘Survivor SA’: Hier is vanjaar se deelnemers

Nico Panagio is oudergewoonte die aanbieder van Survivor South Africa. (Foto: Verskaf)

Aanhangers van die werklikheidsreeks Survivor moet regskuif: Survivor South Africa: Immunity Island begin op 3 Junie om 19:30 en die 20 deelnemers wat meeding om die enigste “oorlewende” te wees, is Sondag bekend gestel.

Die reeks is weens die Covid-19-pandemie vir die eerste keer op Suid-Afrikaanse bodem verfilm en nadat die deelnemers meer as ʼn jaar in een of ander vorm van isolasie weens die pandemie was, is hulle selfs verder afgesonder – dié keer in die Oos-Kaap se asemrowende Wildekus waar hulle die ander deelnemers 39 dae lank moes probeer uitoorlê vir die kans om R1 miljoen te wen.

Jan du Plessis, kanaaldirekteur vir M-Net-kanale, sê die reeks is waarskynlik een van die beste in die geskiedenis van die plaaslike reeks, en die deelnemers wys niks gaan hulle stuit om as laaste oorlewende weg te stap nie.

As die deelnemers gedink het die meer bekende plaaslike ligging vir die reeks gaan dit ʼn meer genadige omgewing maak, was hulle verkeerd, sê Leroux Botha, kreatiewe vervaardiger en reeksregisseur van Afrokaans.

Die deelnemers het gou besef of hulle nou aan die ander kant van die wêreld, op ʼn eiland of aan die beeldskone Wildekus is, Survivor sorg altyd vir verrassings, uitdagings en toetse wat hulle nie eens naastenby sou kon voorsien nie.

Die reeks word weer deur Nico Panagio aangebied.

Ontmoet die 20 deelnemers:

Amy Eliason

Amy EliasonEliason is ʼn 33-jarige korporatiewe prokureur van Johannesburg en sê haar gunstelingdrankie – rooiwyn – het ook tot haar inskrywing gelei.

“Ek was by ʼn braai en die advertensie vir Survivor het op TV gewys. Met my rooiwyngevlekte lippe het ek uitgeroep ‘ek kan dit doen!’” sê sy.

Sy het daarna ʼn “morsige oudisievideo” geskiet wat haar ʼn plek in die reeks besorg het.

Anela Majozi

Majozi is ʼn wiskundeonderwyser en rugbyafrigter wat oorspronklik van Durban kom, maar Johannesburg deesdae as sy tuiste beskou.

“Ek is eenvoudig, dog ingewikkeld; doelbewus en berekend in my aanslag en terselfdertyd soms baie agtelosig.”

Anesu Mbizvo

Die 29-jarige Mbizvo is ʼn mediese dokter, joga-instrukteur en kleinsake-eienaar van Johannesburg. Sy beskryf haarself as ʼn natuurlike leier, geneser, liefhebber van die aarde en ywerige dromer. Oor haar besluit om in te skryf sê sy: “Ek soek altyd na maniere om te groei en te ontwikkel en ek wou vir Survivor inskryf sodat ek kon uitvind wie ek is wanneer alles gestroop word en ek tot breekpunt gedruk word.”

Carla Gubb

Gubb (29) is ʼn entrepreneur, het elke enkele reeks van Survivor oor die afgelope 20 jaar gekyk en sê sy glo ʼn mens kan steeds nie voorbereid daarop wees nie.

“Die spel is elke seisoen anders, elke speler is uniek en dit maak dit onmoontlik om te voorspel wat gaan gebeur,” sê sy.

Francois Chapman

Chapman, ʼn 32-jarige entrepreneur van Centurion, staan bekend as Chappies onder sy vriende en mede-deelnemers. Hy beskryf homself as van nature optimisties, iemand wat die lewe aangryp en probeer om ʼn positiewe uitwerking op ander se lewe te hê deur syne ten volle te leef.

“Swem stroomop of moet glad nie swem nie,” is sy leuse.

Chappies sê daar is niks wat hy nie sal doen om te wen nie.

Dino Paulo

Paulo (30) is ʼn lewensontsnappingspeletjie-eienaar van Johannesburg wat sê sy grootste sterkpunt is sy vermoë om vir homself in ʼn moeilike situasie te lag en dit het hom gehelp om sy eie veerkragtigheid te wys.

“Om gemaklik en hoogs aanpasbaar te wees behoort ook voordele in te hou,” sê hy.

Jason Brookstein

Brookstein (27) is ʼn strukturele ingenieurstekenaar wat sy haarrekkies eerste ingepak het. Vreemd genoeg sê hy barbierwinkels is sy grootste swakheid.

Joe Anglim, Ozzy Lusth en Sarah Lacina is sy gunstelingdeelnemers tot dusver en sy strategie vir die spel is om kwesbaarheid raak te sien en tot sy voordeel te gebruik, terwyl hy gaan probeer netwerk en alle opsies oophou om te oorleef.

Kiran Naidoo

Naidoo is ʼn 29-jarige strategiekonsultant wat in Durban gebore is en nou in die Goudstad woon. Hy floreer op mededinging. Om te “speel vir die pret” is vir hom die irriterendste konsep denkbaar. “Ek is buitengewoon nuuskierig oor die wêreld om my en die redes hoekom mense doen wat hulle doen.

“Ek is supersarkasties en vlymskerp en as jy dit nie agterkom nie sal jy dalk dink ek is gemeen… siestog.”

Marisha du Plessis

Du Plessis is ʼn 35-jarige boervrou en gastehuiseienaar van Tulbagh en beskryf haarself as “uitgaande, sterk en gedrewe” en sy haat dit om te hoor sy kan of mag iets nie doen nie. Hoewel sy sê haar grootste swakpunt is om nie haar ware self te kan wegsteek nie, is haar sterkpunte haar slag met mense, verhoudings en haar vermoë om nooit tou op te gooi nie.

Mike Laws

Laws (32) is ʼn prokureur van Kaapstad en bestempel homself as ʼn stadsjapie. Hy is ʼn “korporatiewe regsbleeksiel met angskwessies, sterk menings en ʼn groot hart”. Hy het ingeskryf om te sien of ʼn “neurotiese, witboordjie stadsjapie in die wildernis kan oorleef” en het voorberei deur te leer om knope te maak. Hoewel hy sê hy is steeds “hopeloos” daarmee.

Nicole Wilmans

Wilmans is ʼn 26-jarige digitale bemarkingsbestuurder van Somerset-Wes.

“Ek dink ek is gebore om aan Survivor deel te neem. Ek is gek oor die sensasie van die spel en hoe dit jou op elke moontlike manier uitdaag,” sê sy.

“Ek is ʼn geesdriftige en passievolle vrou. Iemand wat uitgaan om iets te kry en altyd reg is vir ʼn uitdaging.”

Williams het haar bikini heel eerste ingepak, vasbeslote dat sy daardie “Survivor-gloed” kan kry.

Williams sê dit voel of sy al haar hele lewe lank voorberei vir die spel.

Noleen Nkanjeni

Nkanjeni (30) is ʼn vryskutwerker van Kaapstad. Sy is beter bekend as Pinty, is mal daaroor om nuwe dinge te leer en haar eie beperkinge te oorskry.

Sy sê sy weet iets van alles en net ʼn bietjie meer van heelwat verskillende goed.

“Om nuwe mense te ontmoet en betekenisvolle, eerlike interaksies te hê is een van my gunstelinggoed.”

Paul Cupido

Cupido is ʼn 29-jarige naskoolonderwyser van Johannesburg en beskryf homself as “enkellopend en baie enkellopend”. Hy sien homself as ʼn “goedhartige en liefdevolle mens, met ʼn spontane lewensbeskouing”.

“Ek is altyd reg vir ʼn uitdaging: geestelik, fisiek en spiritueel en iemand wat ander dikwels voor homself stel,” sê hy.

Hy het vir Survivor ingeskryf as deel van ʼn maatskaplike eksperiment, maar ook omdat hy op soek is na nuwe avonture en opwinding in sy lewe.

Qieän (uitgespreek ‘Key-hahn’) Wang

Wang (35) is in Taiwan gebore en woon  tans in Hongkong. Sy is mal oor die vryheid om die natuur te verken en haarself daarin te dompel. Sy beskryf haarself as “hoogs empaties, goedhartig en uiters lojaal” – iets waarvoor mense haar dikwels as vanselfsprekend aanvaar.

“Verwag ʼn paar trane. Ek is beslis nie iemand wat bang is om haar kwesbaarheid te wys nie. Hopelik sal die kykers my erkenning gee vir my goedhartige, koesterende geaardheid en dit nie verwar met iemand wat nie aggressief is nie,” sê sy.

Renier Louwrens

Louwrens is ʼn 30-jarige chemiese ingenieur van Secunda.

“Ek speel die hipotetiese spel al vyf jaar lank in my kop, bespreek en ontleed dit saam met my vrou en het hope pret daarmee,” sê hy.

“My vrou en ek het elke seisoen van Survivor gekyk wat daar is. Dit is my droom om die spel te speel waaraan ek oor die afgelope 20 jaar so geheg geword het.”

Santoni Engelbrecht

Engelbrecht (39) is ʼn aanlyn sake-eienaar van die Strand. Haar wens om deel te neem is eindelik bewaarheid nadat sy drie keer tevore al ingeskryf het.

“Ek is mal oor die dinamiek van die program en wou nog altyd deelneem.

“Ek is iemand wat glad nie na die Survivor-soort lyk nie en ek wou vir mense wys enigiets is moontlik as jy regtig probeer,” sê sy.

Shaun Wilson

Wilson is ʼn 40-jarige IT-entrepreneur van Kaapstad, is in Norwich gebore, in Johannesburg getoë en nou ʼn inwoner van die Moederstad. Hy is ʼn “bleeksiel” met ʼn voorliefde vir avontuur en ʼn baie sagte plekkie vir honde.

Hy het glad nie voorberei vir Survivor nie.

“Die afsonderingstyd het my swaar getref en ek het my bakvaardighede vervolmaak, tyd saam met my honde deurgebring en my KD-plek op Apex Legends verbeter,” sê hy.

Thoriso M-Afrika

M-Afrika (36) is van Uitenhage, gebore in Port Elizabeth en beskryf haarself as ʼn ewige optimis, uiters lojaal met ʼn kleurvolle karakter wat in haar eie wêreld leef.

“Ek gaan as ʼn onreëlmatigheid op die reeks uitstaan omdat ek oor my dooie liggaam sal kamp, iemand is wat van gerief hou en waarskynlik sal sterf as ek ooit iets soos dié alleen moes doen,” sê sy.

Tyson Zulu

Zulu is ʼn 24-jarige kreatiewe direkteur en entrepreneur van Johannesburg.

“Ek is superkreatief, iemand wat iets van alles kan doen en ʼn perfeksionis. Ek hou meer van diere as van mense,” sê dié Durban-gebore entrepreneur.

“Tien uit tien keer sal ek sê wat ek dink en doen wat ek voel.”

Hy het vir Survivor ingeskryf om iets te leer.

“Ek wil ʼn groot rol in die rolprent- en TV-bedryf speel en om eerstehands van die grootste program in die land te leer, is ʼn reusegeleentheid.”

Wardah Hartley

Hartley is ʼn 39-jarige joga-instrukteur en fiksheidsghoeroe van Johannesburg.

“Ek vier vanjaar amptelik vier dekades op hierdie planeet en ek het baie van myself geleer, asook hoe mense optree,” sê sy.

Sy was 20 jaar lank ʼn joernalis en het die vermoë ontwikkel om vinnig konneksies te maak en vertroue op te bou met haas enigiemand wat sy ontmoet.

“Ek wou myself in ʼn omgewing plaas waar ek al hierdie waardevolle lesse kon toets – Survivor SA is my meesterklas,” sê Hartley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Misky ·

Ek het gedink almal wat wil deelneem moet tans in SA woon. Hoe kan die Taiwanese gebore vrou wat in Hong Kong woon dan deelneem?

Marcello ·

Hoekom kan dit nie ook op ‘n ander kanaal gewys word nie, so net mense met ‘n vol pakket kan kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.