‘Survivor SA’ se Nicole, Chappies oor eiland-ervaring

Nicole Wilmans is Donderdagaand as die wenner van Survivor SA aangewys. (Foto: Verskaf)

Nicole Wilmans, die 26-jarige digitale bemarker van Somerset-Wes in die Wes-Kaap, is Donderdagaand as die wenner van Survivor SA aangekondig en het die prysgeld van R1 miljoen in haar sak gesteek.

Sy het stof in die oë van die kykersgunsteling, Francois “Chappies” Chapman, en Anela Majozi (25), ʼn rugbyafrigter van Johannesburg, geskop.

Nicole het aan Maroela Media vertel dit het steeds nie ingesink dat sy uiteindelik as die wenner van die spel aangekondig is nie.

“Dit is baie oorweldigend. Ek raak nog gewoond aan die idee en ervaar soveel gemengde gevoelens. Dit voel amper soos ʼn droom,” sê dié blondekop wat uiteindelik die laaste immuniteitsuitdaging gewen het en vir Anela gekies het om langs haar in die top-twee te sit.

Sy vertel sy het van die begin af geweet dat sy die spel kan wen. “Ek het die aand voordat ek gevlieg het om deel te neem vir my pa gesê ek gaan wen. My familie het nie vir een oomblik in my getwyfel nie.

“Ek het ook van die begin af in myself geglo, maar ek was ook waaksaam daarteen om té selfversekerd te wees. Ek wou nie arrogant wees nie, want ek het geweet daar is soveel dinge wat kan gebeur, maar ek het ʼn sterk aanvoeling gehad dat ek uiteindelik met die topprys wou wegstap.”

Volgens Nicole het sy vir Chappies uitgestem om haar kanse om te wen te verseker. “Ná die laaste tribal council was ek baie tevrede met wat ek gesê het en hoe dit ontvang is, en dit het toe begin insink dat ek moontlik kan wen. Ek het deurgaans gehoop mense sal die spel wat ek gespeel het kan waardeer, en ek is dankbaar dat hulle het.”

Nicole en Anela ondersteun mekaar tydens die laaste ‘tribal council’. (Foto: Verskaf)

Nicole vertel dit is ʼn riem onder die hart om te sien hoeveel ondersteuning sy op sosiale media ontvang, selfs al is talle kykers teleurgesteld dat Chappies nie met die titel weggestap het nie.

“As jou gunsteling-speler nie wen nie, is jy uiteraard teleurgesteld. Maar ek ontvang soveel liefde en dit maak my hart só warm. Dit maak my net nog meer dankbaar vir die ervaring.”

Sy skerts dat haar ma nog meer opgewonde is oor sy gewen het as wat sy self is. “My ouers is so trots op my en dit is baie spesiaal. Dis lekker om die vreugde in hulle oë te sien. Ek is baie gelukkig om so ʼn ondersteunende familie te hê.”

Nicole verklap dat sy drie keer ingeskryf het vir Survivor SA voordat hulle haar gekies het om deel te neem en dat dit van die begin af haar droom was om ʼn immuniteitsuitdaging te wen.

“Die elemente soos die koue, die reën en die honger is regtig iets wat jyself asook die kykers onderskat. Dit maak die lewe op die eiland ongelooflik moeilik en intussen verlang jy só baie na jou geliefdes dat dit jou amper verteer.”

Tog het sy nie een keer daaraan gedink om op te gee nie. “Ek was nog nooit iemand wat maklik opgee nie. Ek het geweet dat dit moeilik was om daar te wees om mee te begin en daarom was dit nooit ʼn opsie vir my om handdoek in te gooi nie.”

‘Ek wou harte aanraak’

Francois ‘Chappies’ Chapman se vuur word geblus. Hy is as die kykersgunsteling aangewys. (Foto: Verskaf)

Intussen het Chappies (32) aan Maroela Media gesê dit was vir sy familie en vriende ʼn groot teleurstelling dat hy nie gewen het nie, maar dat hy vrede in sy hart het oor hoe hy die spel aangepak het.

Hy vertel die groot keerpunt vir hom in die spel was toe daar aangekondig is dat daar nie ʼn top-drie gaan wees nie, maar wel ʼn top-twee.

“Ek was op ʼn stadium oortuig dat ek teen Nicole en Anela kan wen as ek langs hulle sou sit in ʼn top-drie, maar toe ek die laaste immuniteitsuitdaging verloor het dit gevoel asof die mat onder my uitgeruk is. In dieselfde asem was dit ook die heiligste oomblik vir my van die hele spel, want dit was die eerste keer dat ek my liggaam tot op breekpunt gedruk het.”

Chappies was gereeld in die sop omdat hy vir homself gesorg het met krap en ander seekos op die eiland, wat later as “Chappies’ Diner” bekend gestaan het.

Intussen het hy ook die bynaam “Sticky Fingers” op sosiale media bygekry, aangesien baie mense glo hy het kos soos rys en lekkergoed gesteel om homself te bevorder.

“Wat kykers egter nie weet nie, is dat my porsies rys van my ontneem is deur die ander spelers nadat ek beloningsuitdagings gewen het, want volgens die res het ek mos nou reeds geëet. Ek het egter besluit om my porsie rys op te eis wanneer die res slaap, soms met ʼn bietjie rente.

“Konteks is alles en daarom pla dit my nie wat mense my nou noem nie. Ek weet wat die waarheid is en dat ek nie myself wou bevorder ten koste van die ander spelers nie.”

Die deelnemers van Survivor SA tydens die laaste uitsending. (Foto: Verskaf)

Hy vertel dat hy nie verwag het dat soveel kykers teleurgesteld sal wees dat hy nie met die titel weggestap het nie. Hy is as kykersgunsteling aangewys en het ʼn Mahindra KUV100 gewen.

“Die feit dat soveel mense so hartseer is dat ek nie gewen het nie, beteken dat ek ʼn positiewe impak gehad het op mense en dat ek harte aangeraak het. Op die einde van die dag is dit al wat ek wou doen. Ek wil mense help om anders te dink oor hulleself en die wêreld rondom hulle.”

Volgens Chappies was dit ʼn absolute hoogtepunt toe sy vrou, Natanya, hom op die eiland besoek het. Sy was toe swanger met hulle seuntjie, Ruben Lee, wat intussen in Maart vanjaar gebore is.

“Ek het reg deur die spel geweet my grootste geskenk wag aan die anderkant vir my, ongeag of ek wen of verloor. Dit is verreweg die eerste prys – om te weet die mense wat vir jou lief is, wag vir jou.”

Chappies verklap dat hy beplan om binnekort ʼn boek uit te gee. “Ek wil soveel harte aanraak as wat ek moontlik kan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Naomi ·

Wel done Nicole???? Chappies jy was en bly steeds my gunsteling

Rooikopheks ·

Chappies, jy was die ster van die reeks, altyd bedagsaam, behulpsaam en het altyd met jou hart deelgeneem aan al die aktiwiteite. Jy was ń voorberld van hoe ń man moet wees, jy sal die nog ver bring. Jy is geseënd met ń pragtige vroutjie en ń kleine ou baba seuntjie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.