Sussie gaan boetie se legende op renbaan laat voortleef

Anthony en Sandra Shelley. Foto: Facebook

Anthony en Sandra Shelley. Foto: Facebook

Motorfietsgeesdriftiges van heinde en ver gaan na verwagting vandag (Donderdag) by die Redstar Raceway naby Delmas saamtrek om die lewe te vier van ʼn jong belowende renjaer, Anthony Shelley (19), wat vroeër vandeesweek oorlede is.

Shelley is Maandag in ʼn motorfietsongeluk aan die Oos-Rand dood. “Die feit dat hy in ʼn motorfietsongeluk gesterf het, gaan ons nie van motorfietse afsit nie. Inteendeel, dit het sy jonger suster, Sandra, aangespoor om in sy voetspore te volg en ernstig mee te ding en so haar boetie se lewe te gedenk,” het Amelia van As, Anthony se stiefma, Woensdag aan Maroela Media gesê.

Sy het verduidelik Anthony en Sandra (15) het hul liefde vir motorfietse by hul 51-jarige pa, Wayne Shelley, ʼn bekroonde motorfietsrenjaer, geërf. “Dit is in hul bloed,” sê sy.

Anthony in aksie. Foto: Verskaf

Anthony in aksie. Foto: Verskaf

Anthony kon spog met meer as 300 toekennings agter sy naam. Motorfietsliefhebbers beskryf hom as ʼn belowende jong renjaer wat beslis nog ʼn Suid-Afrikaanse kampioen sou geword het. “Die talent wat hierdie jong man gehad het, was ongetwyfeld van die beste in die land,” het een van sy ondersteuners ná sy dood aan Maroela Media geskryf. Sandra het ook reeds talle toekennings agter haar naam.

Amelia het gesê Anthony was al van driejarige ouderdom versot op motorfietse en het op sewejarige ouderdom al begin deelneem aan wedrenne op ʼn 50cc-motorfiets. “Hy het aan alle vorme van motorfietswedrenne deelgeneem en presteer, van veldrenne tot baanwedrenne, alles wat met twee wiele aangepak kan word,” het sy gesê.

Sandra Shelley in aksie. Foto: RunRideDrive / Facebook

Sandra Shelley in aksie. Foto: RunRideDrive / Facebook

In 2010 het hy sy eerste groot kampioenskap gewen en van 2011 nasionaal begin deelneem. “Sy gunsteling-renbane was Zwartkops in Pretoria en Redstar. Hy het dié bane toe-oë geken en het ook mense opgelei om daar te ry.”

Amelia het gesê die gesin moes al baie van sy trofees weggee, waarvan die meeste aan sy grootste aanhanger, sy 84-jarige oupa, omdat daar bloot net nie genoeg plek in die huis was nie.

Anthony is in Brakpan gebore en het daar grootgeword. Hy het verlede jaar matriek aan die Volkskool Brakpan behaal.

“Hy het nog altyd ʼn passie vir motorfietse gehad. As hy smiddae ná skool by die huis gekom het, het hy aan motorfietse gewerk, hetsy sy eie of dié van ander mense. Hy was baie tegnies aangelê en wou ʼn motorwerktuigkundige word. Hy het vanjaar vir een van sy borge begin werk as tegnikus by Brooke Refrigeration. Die Brooke-gesin het hom onder hul vlerk geneem en hy was vir hulle soos ʼn tweede seun. ”

Amelia het gesê Anthony het deur die week by die Brooke-gesin in Rosslyn in die noorde van Pretoria gebly wanneer hy gewerk het.

“Vrydae het hy huis toe gekom en Saterdae en Sondae was hy by enige renbaan waar daar aksie was. Maandagoggende sou hy terugry Pretoria toe.”

Anthony het juis Sondag nog sy beste persoonlike tyd op sy 1000cc-motorfiets by Redstar opgestel, voordat hy Maandagoggend in ʼn ongeluk dood is onderweg na Pretoria.

Maroela Media het vroeër berig hy is die oggend omstreeks 06:15 op Ou Pretoriaweg in Petit, in Benoni, dood nadat hy teen ʼn bakkie gebots het. Anthony is op die toneel dood verklaar. Die insittendes in die bakkie is ongedeerd.

“Ons weet nie eintlik wat gebeur het nie, en ons hoop dat ooggetuies met meer inligting na vore sal kom sodat ons kan vasstel wat gebeur het. Hy was al van kleins af meer as vertroud met hoe om ʼn motorfiets te hanteer.”

Hy sal onthou word as ʼn gelukkige seun wat altyd gelag het en baie hulpvaardig was. “Elke ouer kan maar net droom om so ʼn seun te hê. Hy en sy pa was soos een mens. Hy sal altyd onthou word as iemand wat diep spore in baie mense se harte gelaat het.”

Anthony se gedenkdiens begin om 14:00 by Red Star. Verskeie verrigtinge gaan gehou word om sy lewe te vier. Almal is welkom om die verrigtinge by te woon. Anthony sal Vrydag veras word en hoewel sy geliefdes nog nie 100% seker is wat hulle met sy as gaan doen nie, sal dit heel waarskynlik by dié renbaan gestrooi word.

Anthony laat sy pa en stiefma, ma en stiefpa (Monika en Johan Ellis), suster en oupa agter.

Ooggetuies wat die noodlottige botsing Maandagoggend gesien het, word versoek om ʼn e-pos aan [email protected] te stuur met meer inligting. Die inligting sal aan die gesin deurgegee word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.